Wat is harissa?
’n Pikante rissiepasta van Noord-Afrika met ’n oranjerooi kleur. Dis ’n mengsel van brandrissies, knoffel, karwysaad, gemaalde komyn en gemaalde koljander wat met tamatiepasta, sout en olyfolie gemeng word. As jy dit met ’n lagie olie bedek, kan jy dit vir paar maande in die yskas stoor.
Blitsidees
- Meng met ’n eetlepel crème fraîche of jogurt vir ’n doopsous of marinade.
- Rooster gehalveerde pitabrode oor die kole. Verdun harissapasta met ’n bietjie olyfolie, voeg ’n hand vol basiliekruidblare by en verf oor die warm pitabrode.
- Meng deur warm, geroosterde calamari-ringe.
Wat is hoemoes?
’n Mediterreense smeer wat tradisioneel op meze-borde voorgesit word. Dit word gemaak van kekerertjies, tahini-smeer (’n sesamsaadsmeer), suurlemoensap, olyfolie en sout. Jy kan dit met geroosterde soetrissie, fyn komyn of knoffel geur. Smeer dit op broodjies vir ’n lekker en gesonde happie. Kekerertjies is ’n goeie bron van proteïene en vesel, en sesamsaad is ’n goeie bron van vitamien E en proteïene.
Blitsidees
- Sit as ’n doopsous voor met geroosterde pitas of groentestokkies.
- Gebruik as ’n smeer. Smeer op tortillas, pitas of burgers en vul met geroosterde hoender, tzatziki, tamatie en komkommer. – Sit ’n skeppie hoemoes saam met skyfies appel of peer voor vir ’n vinnige, skuldvrye snoephappie.