Hare op verkeerde plekke: Ons toets laserhaarverwydering deur Anet Schoeman. Hooffoto: Pexels
Daar is verskeie eenvoudige metodes om van hare ontslae te raak
- Skeer: Dis relatief vinnig, maar dis geen permanente oplossing nie. Jy kan sukkel met ingegroeide hare wat veral op die bikini-lyn ’n probleem skep en soms meer onooglik as haartjies is!
- Haarverwyderingsrome: Morsig en tydrowend en die reuk sit baie mense af.
- Waks: Effektief maar pynlik en dit kan ook ingegroeide hare skep. Tydrowend en morsig as jy dit self doen. Uitgawe as jy dit op gereelde basis by salon moet doen en dis nie gerieflik om altyd tyd hiervoor te maak nie.
Lees ook: 20 goed wat jy moet weet voordat jy vir ’n bikini wax gaan
Ons probeer laser-haarverwydering
Ons het laserbehandelings probeer wat byna permanent van hare ontslae raak.
Dis wel aanvanklik ’n groter uitgawe, maar die langtermyn besparing aan geld en tyd is beslis die moeite werd.
Chivone de Lange van The Laser Bar (www.thelaserbar.co.za) sê dat opleiding en die tipe masjien wat jy gebruik die wagwoord is vir effektiewe laserbehandelings. “Lasermasjiene verskil en sonder die regte opleiding gaan die behandeling nie die gewenste uitwerking hê nie.”
Chevone gebruik diode-lasertegnologie van Alma Lasers International wat die dermis geleidelik verwarm en net die haarfollikel beskadig omdat die laserlig deur die melanien van die haar in die follikel geabsorbeer word. Die haarfollikel word nie blootgestel aan ’n enkeldosis van intense energie wat die vel kan beskadig nie, maar dis onderwerp aan veelvuldige kortstondige, lae energiepulse wat net genoeg is om die haarfollikel te beskadig. Daar is ’n verkoelingsmeganisme wat die behandeling gemaklik en pynvry gemaak het.
Wees wakker as jy jou behandeling kies, want daar is verskillende soorte laserbehandelings wat die sukses affekteer. “Daar is hoofsaaklik twee kategorië in laserbehandelings”, sê Chivone. “Diode laser en IPL (intense pulsed light). Laasgenoemde is nie werklik ’n laser nie maar eerder ’n “laser ekwivalent” omdat dit dieselfde konsep van lig en hitte (photothermolysis) gebruik om van hare ontslae te raak. Daar word gereeld na IPL verwys as laser, maar in werklikheid is dit nie.”
Diode laser is effektief vir die verwydering van die meeste haartipes en veltipes terwyl IPL nie noodwendig so ’n breë aanwending het nie. Dis wel effektief vir die verwydering van fyner haartjies op die lyf genaamd “vellus”-hare.
Hoe werk dit?
Die laserlig veroorsaak permanente skade aan haarfollikels en dit verhinder hare om weer te groei. Die melanien in die donker hare is die geleiding vir die laser en dis hoekom dit nie op baie ligte of grys hare kan werk nie. Dit affekteer net hare wat aktief groei en waar daar ’n haar in die follikel is vir die geleiding van die laser. Dus moet jy twee tot drie weke wag na jy gewaks of gepluk het voor ’n behandeling. Jy kan wel die hare skeer en moet dit trouens die dag voor ’n laserbehandeling skeer.
Hoeveel behandelings is nodig?
Ses tot 12 behandelings is nodig om te verseker dat alle aktief groeiende hare behandel word. Dit sal afhang van die digtheid van jou hare, veltipe, hormone en so meer.
Is haarverwydering deur laser permanent?
Hormone kan haargroei stimuleer wat die sukses van die laserbehandelings en die sukses op die lange duur beïnvloed. Hormoonveranderings in ’n later stadium kan weer groei stimuleer. Hoewel daar geen waarborg is dat daar nooit weer haartjies gaan teruggroei nie, sal die groei so min wees dat jy nooit weer hoef te skeer nie. Die haartjies wat teruggroei is ook baie minder en fyner. Die meeste mense vind dit uiters effektief om van ongewensde hare ontslae te raak.
Ook vir mans
Mans wat sukkel met ingegroeide baard in hul nek vind laser uiters effektief.
Lees meer oor laserbehandelings by www.thelaserbar.co.za