kategorieë: Ons menseBekendes

Hanna met die groot hart

Ná ’n middag in Hanna se geselskap wéét jy dat een mens ’n groot verskil kan maak, maar bowenal dat geloof ’n mens deur selfs die grootste krisis dra.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dis duidelik dat die Hanna Charity and Empowerment Foundation, haar liefdadigheidsorganisasie, haar groot passie is. “Ek wil eintlik nie beroemd wees nie. Ek wil net God se hande en voete hier op aarde wees.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dis presies wat sy is vir minstens ses duisend mense in Pretoria – en nog ’n paar duisend ander aan die Oos-Rand en in Cloetesville buite Stellenbosch. Vir TV-kykers en rolprentgangers is sy die beeldskone aktrise, vrou van ’n ewe bekende sanger. “Maar in Elandspoort weet die mense nie eens ek is ’n aktrise nie,” vertel sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hier is sy net die vrou wat hoop bring waar daar voorheen net wanhoop en armoede was, wat lewens vir altyd verander. “Liefdadigheid is waar my hart lê. Dis vir my ’n groter liefde as drama,” erken sy.

Waar kom haar welsynshart vandaan, en hoe het dit gebeur dat sy voltyds liefdadigheidswerk doen? “Omgee is in my gene. Dit kom vir my natuurlik, vir so lank as wat ek kan onthou. Ek het in ’n pastorie grootgeword, en daar is maar altyd na mense in nood uitgereik. Ek het op skool al naweke by die kinderhuis gaan help, en my eie geld gebruik om vir die kinders ietsie te koop, al was dit ook net ’n sakkie appels of onderklere.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Haar pa, Nic, ’n predikant, en ma Marietjie, ’n maatskaplike werker, het haar nog altyd aangemoedig en ondersteun. Ná matriek aan die Pro Arte Alphen Park-kunsskool in Pretoria, moes sy tussen beeldende kuns en drama as studierigting kies.

“Maar ek is meer ’n skepper as ’n performer,”

Die gevolg was ’n B.A.-graad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch. “Daarna het ek ’n gestruktureerde M-graad in performance art begin – dis anders as performing arts, en as ’t ware lewende kunsuitstallings.”

Vir hierdie kwalifikasie moes sy deels by die kunsdepartement en deels by die dramadepartement klas draf, en daar byt die toneelgogga toe. “Aan die einde van my vierde jaar het ek ’n rol in Tertius Kapp se drama Skroothonde gekry, en toe het ek my honneurs gekry en begin dink drama is dalk die ding vir my.”

In daardie tyd was sy ook kunsjuffrou by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. “Met veertig seuns in my klas!” lag sy. Sy hou van onderwys gee. “Ek sal dit graag weer eendag wil doen.”

As student op Stellenbosch het sy haar liefdadigheidswerk voortgesit en dit met soveel oorgawe gedoen dat die universiteit haar uit die koshuis wou skors omdat sy ’n straatkind in haar kamer laat slaap het.

“Toe bel hulle my pa om hom van my oortreding te vertel, en hy sê vir hulle hy is eintlik baie trots daarop dat ek bereid was om soveel te doen om iemand te help,” vertel sy met ’n laggie. Hoewel liefdadigheidswerk haar eerste liefde is, het sy die afgelope paar jaar geen tekort aan TV- en rolprentrolle gehad nie.

Hoewel sy nie na bekendheid streef nie, glo sy dat dit wel haar liefdadigheidswerk makliker maak.

“Dis ’n feit dat ’n bekende mens soveel meer kan regkry. Juis daarom is dit vir my so hartseer as bekendes nie besef hoe baie hulle kan doen met die mag wat hulle het nie.”

Sy het nooit beplan om ’n formele liefdadigheidsorganisasie te begin nie, maar dit was die logiese volgende stap nadat haar werksaamhede oor ’n paar jaar heen tot ’n hele netwerk van bedrywighede in die armste woonbuurte van Pretoria gelei het. Vandag is sy bly dat sy tog agt jaar gelede die groot stap gewaag het om dit as ’n nie-regeringsorganisasie en nie-winsgewende organisasie te registreer.

Deesdae is daar drie areabestuurders en ’n kantoorbestuurder, Stacy Fox. “Sy is my linker- en regterhand,” vertel Hanna. Talle vrywilligers sorg ook dat dinge glad loop. Maar by die Hanna Charity en Empowerment Foundation gaan dit oor veel meer as net kos in die maag.

“Ons gee mense kos, ja, maar ons bemagtig hulle ook deur vaardigheid- en werkskeppingsprogramme, kleuterskole, sielkundige berading, biblioteke, leesprojekte … Ons gee aandag aan al die basiese behoeftes wat in Maslow se hiërargie geïdentifiseer word,” verduidelik sy.

(Maslow, ’n bekende sielkundige, het in 1943 in sy bekende A Theory of Human Motivation, ’n piramide van vyf basiese menslike behoeftes geïdentifiseer wat steeds as die basis van enige menslike ontwikkelingsmodel beskou word. Fisieke behoeftes soos kos, water en skuiling word beskou as die mens se belangrikste en mees basiese behoeftes om oorlewing moontlik te maak. Hierna volg veiligheid, liefde en aanvaarding, selfrespek en eers daarna kom selfverwesenliking.)

Die model wat sy en haar mense die afgelope meer as ’n dekade vir en saam met die armstes van die armes van onder meer Wolmer, Elandspoort, Wesfort, East Lynne en Jan Niemandpark ontwikkel het, werk trouens so goed dat die Universiteit van Pretoria haar al genader het om dit deel van kursusmodules te maak.

Die geheim lê waarskynlik in die omvangryke manier waarop sy die probleem benader. Daar is sopkombuise, klerebanke, speelgroepies en kleuterskole, vrouebemagtigingsgroepe, biblioteke en leesgroepe, werkskeppingsprojekte, Bybelstudie en selfs ’n motivering- en fiksheidsprogram wat sy skertsend charity vitality noem.

“Ons sorg vir die basiese dinge, soos kos, klere en blyplek, maar iets soos skoonmaakmiddels is ’n luukse, en daarvoor moet mense iets doen.”

“Hulle kan charity vitality-punte verdien deur werkies by die verskillende projekte te doen, boeke te lees, te sorg dat hul kinders elke dag skool toe gaan en deur Sondae kerk toe te gaan,” verduidelik sy.

Die punte wat so verdien word, word dan vir skoonmaakmiddels geruil. Hanna se jongste inisiatief is ’n fikswordprogram. Haar oë helder op wanneer sy vertel hoe groepe vroue oral in Pretoria begin het om onder aanvoering van die Hanna Charity-areabestuurders daagliks ’n paar keer om die blok te stap.

Wat is die geheim van haar sukses? “Jy moet binne ’n gemeenskap werk, en vanuit die gemeenskap. ’n Arm, honger mens gaan nie ’n ver ent na ’n plek toe stap om deel van ’n projek te wees nie. Die projek moet as ’t ware na hulle toe gebring word.”

Nog ’n rede vir die sukses, glo sy, is dat al die beskikbare geld nie opgeslurp word deur duur infrastruktuur nie. “Al ons projekte funksioneer vanuit Wendy-huisies wat in mense se agterplase opgerig word. Een Wendy-huis dien byvoorbeeld soggens as kleuterskool, en smiddae word dit gebruik as nasorgsentrum waar kinders met huiswerk gehelp word, of vir ’n vroueprogram of terapiekamers.”

Sy betrek kenners soos sielkundiges en forensiese maatskaplike werkers waar nodig (soos in gevalle van kindermolestering) maar glo die gemeenskap moet die projek bedryf.

“Ons help van babas tot bejaardes, en jy moet sien met watter oulike idees kom die mense vorendag.”

Sy glo dit help ook dat donateurs kan sien presies hoe en waar hul geld aangewend word. “Ek het as tiener by Uitkyk Vleismark in Silverton gewerk. Die eienaar is een van my gereelde donateurs, en nou die dag kon ek vir hom gaan wys waar in East Lynne staan die huis wat hy geskenk het en wat ons as biblioteek ingerig het. Nou weet hy hoe baie lewens sy donasie help verander.”

Vir haar is die wonderlikste deel van haar werk om te sien hoe menselewens verander; hoe mense vorder van noodgedwonge bakhand staan tot iemand wat ’n onontbeerlike rol binne die organisasie vervul.

“Die vrou wat ons klerebank bestuur, sê dis die eerste keer in haar meer as sewentig jaar dat sy ’n regte werk het en dat sy nie elke dag in ’n sopkombuis se ry hoef te staan nie. Ons moet onthou wit armoede is nie ’n nuwe ding nie, maar baie mense het net nooit die kans gekry om hulself te bewys nie.

“Ek glo dat as jy mense verantwoordelikheid gee, hulle daardie kleed sal aantrek en doen wat van hulle verwag word. Jy moet sien – van die mense lyk sommer tien jaar jonger omdat hulle voel hulle het nou ’n doel in die lewe.  As mense se omstandighede verander, verander hul persepsie van God en Sy liefde ook, en dis wonderlik om dit te sien gebeur.”

Haar werk is nie altyd maklik nie, maar dis waar haar geloof haar dra. “Dis ontsettend stresvol en ’n gróót verantwoordelikheid, en dis net genade dat ons elke maand al die mense kan help. Maar ja, dis ook ’n ongelooflike eer dat die Here my gekies het vir hierdie taak om mense se vreugde vir hulle terug te gee.”

Sy verdien glad nie ’n salaris by die organisasie nie. “Nee jong, ek werk nog al die jare verniet. Maar die Here seën my op soveel ander maniere.”

“As jy eers begin wegkyk van jouself en eerder op ander mense fokus, dan seën Hy jou éérs.”

Haar liefdadigheidswerk het haar nog nader aan die Here gebring. “Geloofspronge is amper ’n voorvereiste as jy die soort werk doen. ’n Mens moet ten volle op die Here vertrou. As die werk wat ons doen van mense afgehang het, het absoluut niks gerealiseer nie.”

Sy vertel hoe God daagliks sorg, hoe daar in tye van nood onverwags ’n groot vrag kos afgelewer word, of ’n donasie inbetaal word; hoe die bankbalans feitlik elke maand op nul staan, net om onverklaarbaar – soos die weduwee se kruik – aan te hou voorsien in die daaglikse behoeftes van duisende mense wat andersins net nog statistiek sou word.

Maar God daag haar ook uit, vertel sy. “’n Mens se geloof groei net as jy die moeite doen om stil te word en na Sy stem te luister. En dan moet jy doen wat Hy vir jou sê. Dit voel die laaste ruk vir my of Hy sê ek moet méér waag, méér glo. Want eers dan gaan Hy vir my wys die onmoontlike is moontlik.”

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Tamatieroomsop met kaasroosterbroodjies

Hierdie lekker resep vir tamatiesop is ideaal vir ’n vinnige aandete in die middel van…

55 mins Gelede

Lekker opskiet eet-ervaring by Vergelegen

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en Vergelegen Die historiese landgoed, Vergelegen op Somerset-Wes, het…

2 hours Gelede

Vinnige lamskerrie

Vinnige lamskerrie 4 porsies Bestanddele: 1 ui, fyngekap 100 g kerriepasta 1 kg lamsvleis, in…

4 hours Gelede

Kry só jou tuin reg in Julie

Julie: Doen dit in die tuin     1. Snoei rose teen einde Julie of…

4 hours Gelede

Kry weer woema in die winter

As die winter jou vaal en verlep laat voel, is dit tyd vir ’n lekker…

6 hours Gelede

Sagte rogbrood

Bak hierdie lieflike en geurige brood en vul jou huis met die hartverwarmende geur van…

7 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.