kategorieë: InspirasieJou lewe

Haar vioolsnare pluk hartsnare

Deur Rentia Mynhardt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ten volle tweetalig en nog nie eens in die skool nie, het Lynette de Jager as toergids vir groepe oorsese besoekers opgetree wanneer sy hulle die Boesmantekeninge op hul toeristeplaas tussen Bethlehem en Fouriesburg gaan wys het. Dit was tóé al duidelik dat hierdie blondekop nie net een lewensnoot op ʼn keer speel nie. Nee, sy speel in vol akkoorde.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Begin jy met dié Kaapse skoonheid gesels, besef jy gou dat ʼn groot deel van haar hart steeds soos jare gelede eerder in die berge stap en dat sy steeds sonder moeite ʼn bak krummelpap kan verorber. Miskien het die feit dat sy op drie haar eerste perd gekry en op ses haar eerste uithourit van 45 km voltooi het, daartoe bygedra dat die ritmiese galop met haar voete in die stiebeuels sommer vroeg-vroeg die musiek saam met haar hartklop ingeëts het. Dieselfde slanke vingers wat behendig van kleins af die teuels gestuur het, het eers klavier leer speel voordat sy haar oupa se viool ontdek het. En die res? Geskiedenis!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Nadat ons George toe verhuis het, het ek die geleentheid gekry om vioollesse te neem. My ma het altyd klassieke musiek in die huis gespeel en my pa het ʼn bietjie klavier gespeel. Al twee my oupas het viool gespeel. Al het ek hom nie geken nie, vertel my ma hoe my oupa Van Reenen, wat in Golden Gate grootgeword het, altyd viool gespeel het sodat die klanke in die kranse weergalm. Oorlede diskusatleet, John van Reenen, was my ma se broer,” onthou sy.

In matriek, nadat sy al ʼn hele paar jaar in die nasionale jeugorkes gespeel het, het Lynette besluit dat sy ʼn lewe uit musiek wil maak en het sy ná skool BMus aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer. “Hoewel klavier en sang ook deel van my studies was, het ek die meeste aanklank by viool gevind.”

Die wat na haar luister, weet dat die ritme regdeur haar lyf vloei en dat sy al dansende haar musiek aanbied. Sy het reeds op skool by gesellighede begin optree wat haar ʼn lekker finansiële hupstoot gegee het. “Ek het in 2013 graad gevang en ʼn  onderskeiding in viool behaal wat vir my ʼn groot eer en prestasie was. Daarna het ek by privaat skole en van die huis af musieklesse aangebied. Ek het 42 leerders geleer sing, viool, klavier en blokfluit speel.” In 2018 het sy egter besluit om ʼn kontemporêre sololoopbaan te volg en het een geleentheid na die ander hom voorgedoen.

Lynette lewer met haar musiek ʼn diens wat jou hart aanraak. Haar optredes strek van troues en verjaardae tot by korporatiewe geleenthede, en behalwe dat sy al by meer as 430 troues opgetree het, nader verskeie maatskappye, soos onder meer Lamborghini, hotel- en bankgroepe haar gereeld om hulle by spesiale gesellighede te vermaak.

“Ek het die kenwysie van die aanlyn program, Voelgoed Live, geskryf, het die vioolinsetsels vir Klein Karoo 2 gespeel, en speel ook in heelwat musiekvideo’s. Die verskeidenheid van musiek is iets wat ek vreeslik geniet.”

Hoewel vrolike gesellighede  ʼn groot deel van haar werk uitmaak, tree sy ook by begrafnisse op en het sy gedurende die grendeltydperk haar dienste gratis daarvoor aangebied. Sy het ook in hierdie tyd in hul tuin musiek gemaak om mense in die omgewing op te beur en só haar passie te deel.

“Ek glo vas dat jy steeds ʼn bestaan uit musiek in Suid-Afrika kan maak ten spyte van uitdagende ekonomiese tye. Jy kán daar waar jy geplant is ʼn sukses maak as jou houding reg is, jy die situasie reg benader en jy bereid is om hard werk. Ek probeer my bes en los dit verder in die Here se hande.”

Al maak sy meer en meer naam as violis, komponeer sy ook graag. Een van die liedjies wat sy geskryf en laat opneem het, is Rise Up, wat spesifiek oor ʼn positiewe uitkyk van die lewe gaan. Lynette se vele musiektalente is op haar YouTube-kanaal (Lynette Violinist) te siene.

“Omdat ek ʼn solokunstenaar is, is dit vir my heerlik om ook so nou en dan die verhoog met ander kunstenaars te deel, soos die keer saam met Jak de Priester.” Sy vertel van ʼn hoogtepunt in haar loopbaan toe sy vir prinses Charlene van Monaco, en destydse Olimpiese swemmer, opgetree het tydens ʼn besoek aan Suid-Afrika waar sy by die bewusmaking van waterveiligheid van kinders betrokke is. “Dit was baie spesiaal om met haar te kon gesels en vir haar en ander bekendes onder die sterre by ʼn gala-aand in Pilanesberg op te tree.” Nog hoogtepunte was haar optrede in Mauritius saam met Afrikaans is Groot en toe sy die hoofvertoning tydens ontbytSAKE se Onderneming van die Jaar-toekenningsgeleentheid gelewer het.

ʼn Optrede is nie altyd tot ʼn verhoog beperk nie en het Lynette al verskeie kere in die middel van nêrens opgetree. “Ek het al die voorreg gehad om in die bos, die Namib, in ʼn kloof en selfs langs ʼn waterval op te tree. My instrument neem my gereeld na plekke waar ek nie andersins sou uitkom nie, en gee my die geleentheid om baie interessante mense te ontmoet.”

Musiek is ʼn universele taal wat taalgrense oorskry. “Dit praat met die siel en wek emosie op. Dit is onlangs weer in die Seychelle bewys toe ek vir ʼn gehoor van uiteenlopende kulture opgetree het en ons mekaar glad nie verstaan het nie, maar toe my viool se klanke die lug begin vul, het ons skielik almal dieselfde taal gepraat. Dit is hoekom dit vir my belangrik is dat my repertorium verskeie genres insluit sodat elkeen wat na my vertonings kyk iewers iets kry waarmee hulle kan assosieer.”

Wanneer ʼn musikant se produk jou brood en botter is, moet jy weet dat ʼn deel van jou dag aan oefening bestee gaan word, al het jy hope talent soos Lynette. “Dit help as jy talent het, maar dit kompenseer nie vir die werk wat jy moet insit nie. Ek oefen baie gereeld, maar ek glo ook daaraan dat ek fisiek fiks moet wees sodat my spiere so ontspanne moontlik kan wees wanneer ek viool speel.”

Jy kan Lynette deur ʼn ring trek wanneer sy op die verhoog stap, omdat sy glo dat jy goed tydens ʼn optrede moet lyk; nie net omdat mense na jou musiek luister nie, maar ook ʼn geheelbeeld van jou kry. “Dis vir my lekker om moeite met my voorkoms te doen en mooi aan te trek, al raak dit soms ʼn uitdaging om nie kort-kort dieselfde te lyk nie. Ek kyk maar altyd rond waar ek rokke kan koop, en ek dra ook steeds ʼn paar rokke wat my ma vir my gemaak het.”

Omdat Lynette self die uitdaging ervaar het om die regte musiekonderwyser te kry, was dit haar motivering om tydens haar studies in musiekopleiding te spesialiseer. “As jy musiekles gee, belê jy in iemand se lewe. Dit moet reg gedoen word.” Nog twee uitdagings wanneer jy ʼn voltydse musikant is, is die finansiële aspek wanneer jy musiekvideo’s wil maak en musiek wil laat opneem, maar ook jou kop wat soms met jou speletjies speel wanneer jy wonder of dit die moeite werd is terwyl jy nog aan jou loopbaan bou. “Dis so belangrik om ʼn gesonde geestestoestand en ʼn positiewe uitkyk op jou loopbaan te hê, anders val jy maklik in ʼn gat.”

Haar raad aan musikante sluit hierby aan. “Maak seker wat die rede is hoekom jy musiek as loopbaan wil volg en wat dit is wat jou gaan aanhou inspireer. As dit is om geld te maak, gaan dit moeilik raak omdat jy soms nie ʼn inkomste gaan hê nie. Omring jouself met goeie musikante wat jou kan slyp en wees seker wie jou teikenmark is. Onthou om dit te geniet en moenie toelaat dat kritiek jou sink nie, al moet jy ook daarna luister. Weet wat jou sterkpunte is en glo in jouself.” Hoewel Lynette haarself op sosiale media en haar webwerf bemark, glo sy dat jou reputasie jou vooruit loop en erken dat dit wat mense oor jou sê amper die belangrikste soort bemarking is wat daar is.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, sit sy waarskynlik in ʼn boom besig om takke te knip of tuin te maak. Die lowergroen grasperk en die wit-en-pers laning wat jou voor die pragtige gewelhuis ontmoet, spreek van haar hand met ’n plant en dan is sy boonop ewe knap met die skilderkwas. Sy en Paul-Dean, die linkerbrein in hul huwelik wat met syfers werk, is ook kranige fietsryers. Om gou op ʼn Saterdagoggend 125 km fiets te ry, is nie vir hulle ʼn probleem nie en het hierdie veelsydige violis selfs al die elektroniese fietsafdeling van die Cape Argus gewen. Hulle is lief vir die natuur, klim berg, ry perd, stap en hou graag in die bos of op ʼn eiland vakansie.

“My geloof speel ʼn groot rol in my lewe en dit was vir my belangrik om met ʼn man te trou wat vir die Here lief is. My man was ʼn saak van gebed en ek weet dis die Here wat hom vir my gestuur het.”

Lynette droom daarvan dat haar musiek wyer versprei sal word sodat meer mense in Suid-Afrika dit saam met haar kan geniet. Vir hierdie nederige maar gedrewe en passievolle musikant met die goue lokke oor haar skouers, gaan hierdie beslis waar word. Do-re-mi-fa-so-lynette!

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.  

Lees ook: Jeanette Marais is ’n vrou met ’n plan

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Cintaine Schutte oor haar rol in ‘Wyfie’: “Mense moet gesprekke hê oor hierdie goed”

Wyfie het ’n toekenningsmasjien vir Showmax geword, met pryse by MIP Africa en die Silwerskermfees, en…

2 hours Gelede

Ons 5 beste lente-koekies

Blomkoekies Genoeg vir 12 Ek het ’n bosseleer- (reliëfdruk) matjie gebruik. Die patroon op die…

4 hours Gelede

Thaise visgebak

Resep deur Vickie de Beer

6 hours Gelede

Nico Scheepers, skrywer en regisseur van Nêrens, Noord-Kaap vertel meer oor Deel II se talentvolle jongspan

Daar is ’n gesegde in die vermaakbedryf dat jy nooit met kinders, water of diere…

7 hours Gelede

Is ons onderwysers uitgebrand?

Deur Mariette Snyman    Hoe het die pandemie onderwysers beïnvloed? Watter uitdagings ervaar hulle op…

1 day Gelede

Anne Hathaway bevestig: ‘The Princess Diaries 3’ is op pad!

Aanhangers van Anne Hathaway se mees ikoniese rolle is in vervoering ná haar bevestiging dat…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.