Deur Salomé Delport Hooffoto: Towfiqu barbhuiya vir Unsplash
Hoekom bly party gewrigte jonk en gesond?
Meestal is net een heup, of net jou knie, of jou duim aangetas. Waarom verweer net party gewrigte terwyl ander so lekker as altyd werk? Jy gebruik tog albei jou heupe? Hoekom verweer jou kaakgewrig nie selfs meer nie, aangesien jy dié skynbaar daagliks oorgebruik?
Dit is nie heeltemal korrek om te sê artritis is die gevolg van verwering nie. Dit werk andersom, met verwering as die eindresultaat van artritis, verduidelik verskillende artritisstigtings.
Vandag glo dokters die toestand begin tien, twaalf jaar voor enige tekens van osteoartritis, wanneer jou liggaam begin om minder kraakbeen as vantevore te maak. Kraakbeen, saam met al jou ander ewe belangrike gewrigstrukture soos die meniskus, tendons en selfs die gewrigsvloeistof, hou jou gewrigte funksioneel. As hierdie weefsels agteruitgaan, verloor die been sy beskermende omhulsel. Dan sit jy met been wat op been skuur. Dit veroorsaak inflammasie met gevolglike swelling, rooiheid en pyn. Dit lyk asof die gewrig probeer vergoed deur nuwe oppervlakke te vorm.
Daarom vergroot die artritisgewrig tipies. Uiteindelik kan die gewrig nie meer vlot heen en weer rol nie, en so raak die gewrig stram, en jy daarmee saam styf en onbeweeglik.
Kan jy jou liggaam help om kollageen vir ál jou gewrigte te bly maak? Dalk, dalk nie. Waarskynlik is daar meer as een rede vir artritis – en daarom werk enige een oplossing nie vir almal nie.
As jy meer as drie weke loop met pyn rondom enige van jou gewrigte, het jy waarskynlik inflammasie en moontlik ook artritis. Al hardloop jy nie sommer dokter toe nie, moet jy darem ánder oorsake van skeletpyn uitskakel voor jy besluit jy het artritis.
Kyk na hierdie planne. Iets – of almal – kan vir jou help.
Lees ook: Is jy te oud vir oefening?
Pille vir daardie pyn
- Selfhelp: Die meeste van ons kan aanvanklik regkom met ’n parasetamol en/of ’n aspirien sonder voorskrif. Oppas vir kodeïen. As jy self kies, kies jou pynpille baie oordeelkundig. Baie bevat kodeïen – daardie pynstiller waarvan mense afhanklik raak. Vra jou apteker en maak dubbel seker – jy wil nie nog sit met die probleme van onttrekking en nierskade nie.
- Op voorskrif: Jou dokter sal vir jou sterker pynmedikasie voorskryf, soos COX-inhibeerders.
- Antidepressante? Pyn weens osteoartritis word veroorsaak deur inflammasie én neuroskade. Daarom help ’n antidepressant baie dikwels ook vir artritispyn.
- En dagga? Of CBD-olie? Volgens Health Canada is die gebruik van dagga in enige vorm en met THC en/of CBD vir osteoporose dood-eenvoudig nog nooit in mense ondersoek nie – en ’n soektog op PubMed en PlosOne bevestig dit. Tog gebruik 9% van mense in ’n 2018- Amerikaanse ondersoek dagga juis vir artritis, terwyl 29% dit vir chroniese pyn gebruik. Werk dit? Die algemene beskouing is dat CBD vir inflammasie kan help – en dus potensieel vir artritis wanneer jy aktiewe inflammasie het. THC is die een wat aan pynverligting gekoppel word – en aan geheueverlies en afhanklikheid by sowat 30% van mense wat dit gebruik.
Lees ook: Die beste raad vir inflammasie
Jy moet oefen – maar moet jy die pyn wegoefen?
Navorsing dui daarop dat as die spiere om ’n gewrig sterk is, bly die gewrig beter behoue. Dus is oefening juis een van die maniere om artritis te keer. En as jy artritis het, help oefening keer dat dit vererger. Dit is nooit te laat om te begin nie. Maar daar is ’n voorwaarde: jy moet so oefen dat jy nie skade doen nie – selfs nie as jy onder dertig is nie.
Evalueer hóé jy oefen so:
- Kies van dertig af ’n oefening wat nie hard op jou gewrigte is nie. Hoë-impaksport is veral sleg, soos draf, touspring, hoë-impakgim, rugby en sokker. Jy gaan meer én lewenslank baat vind by lae-impakdans, fietsry, joga, pilates, watergim, tai chi en karate.
- Laat jou sport jou asem lekker jaag? Suurstof help jou liggaam om nuwe weefsel te bou.
- Hou dit jou soepel? Of moet jy ’n paar strekke inwerk? Maak ’n punt daarvan om elke dag al jou gewrigte in hul volle omvang te rol – op en af, links en regs, en van jou tone tot jou heupe, nek en elke vinger. Moenie oorstrek en jou ligamente verrek nie.
- Voel jy hoe jou oefensessie die spiere om die gewrigte van jou heupe en knieë werk? Jy wil hulle versterk en in stand hou sónder om hulle te ooreis.
- Versterk dit die kernspiere van jou maag en rug? Dit help om jou heup-, knie-, rug en skouergewrigte in die posisie te hou en sorg vir ’n goeie postuur. Kollageen rondom gewrigte wat “skeef” teen mekaar skuur, is meer geneig om te verweer.
- Is dit ’n té herhalende oefening of aktiwiteit vir die betrokke gewrig? Sorg dat jy niks doen wat een gewrig oorgebruik nie, soos draf, hekel of hamerwerk.
- Oefen jy té hard? Voel jou spiere, skelet en gewrigte seer ná oefening? Dan het jy te hard geoefen. Oefening is verreweg suksesvoller en waardevoller as jy geleidelik en in jou eie tempo fiks word – wat sál gebeur as jy sowat vyf keer per week oefen.
- Dink oor hoë-impakoefening, soos draf en touspring. Is dit reg vir jou bou, jou gewig en jou familiegeskiedenis? Kan jy werklik ’n uur gaan draf, of moet jy dit tot tien minute beperk? Belê altyd in goeie skoene – en onthou om hulle te vervang sodra die impakspons uitgetrap is.
- Bly jy té lank in een posisie? Bly beweeg en wissel sit en staan af.
- As jy rekenaar- of sitwerk doen, sluit ’n paar staansessies in. Bou vir jou ’n staanwerkplek en skakel oor na ’n halfuurtjie of so se staantyd.
Lees ook: Swem is uitstekende oefening
Kan jy nuwe kraakbeen maak?
Party sê ja, ander sê nee.
Dit is duidelik dat jou liggaam nie meer goeie, sterk kraakbeen maak nie. Maar kan hy nog? Of kort hy die boustowwe? As dit oor boustowwe gaan, kan aanvullers help. Van alles op die mark lyk dit asof glukosamien die beste werk. Dalk help chondroïtien ook. Probeer vir drie maande en kyk hoe jy vaar. (Wenk: chondroïtien is eintlik maar net gelatien.)
Aanvullers wat inflammasie teëwerk, kan moontlik ook help.
Lees ook: Jig! Maar dis seer
Laat hitte en koue vir jou werk
Hitte help met bloedvloei en verlig pyn. Jy het so baie opsies: ’n lekker lang warm bad, ’n naweek by ’n warmwaterbron, ’n elektriese kombersie, ’n warmwatersak of ’n mikrogolfoondsak,
of langjannies en frokkies.
Koue kan help om die swelling van inflammasie te verlig maar baie mense met artritis ervaar juis dat koue alles vererger. As jy ná sport seer is, toets ’n yspak, ’n sakkie bevrore ertjies of van die nuwe jels by die apteke. Hou dit vir 20 minute op die seer gewrig en skakel dan oor na ’n hitte.
Lees ook: Is jy gereed vir jou gene?
Masseer dit weg
A … seer en lekker! Hoewel massering by ’n fisioterapeut taamlik seer kan wees, bring dit vir die meeste mense tog ná ’n sessie of drie geweldige verligting.
Jy kan ook ’n masseertoestel rondom die gewrig probeer.
Kies die sterkste een wat jy kan kry. Anders het dit te min impak. Gebruik dit vir sowat tien minute per dag – elke dag – rondom die seer gewrig om bloedsomloop te verbeter.
Lees ook: Denke + Leefstyl = Immuniteit
Op naalde en spelde
Probeer akupunktuur. Vir party mense bring dit baie gou verligting. As jy ná ses sessies nie beter voel nie, sal dit waarskynlik nie vir jou help nie.
Keer voor veertig so
’n Goeie postuur en sterk spiere kan baie bydra om osteo-artritis te voorkom. Die kuns is om betyds hiermee te begin. As die skade eers daar is, kan jy hoogstens keer dat dit vererger. Pyn kan ook daartoe lei dat jy anders probeer sit en staan, wat opsigself artritis vererger.
Laat iemand soos ’n joga- of pilatesinstrukteur jou help om jou postuur te evalueer én te verbeter, maar kyk solank hierna:
- Dink hoe jou sit en staan jou skelet in posisie hou.
- Trek jou maag in en jou skouerblaaie na mekaar om jou nek en rug in lyn te hou.
- Sit meer op jou bobene as om terug te sak in jou heupgewrigte in.
- As jy aankapknieë het, of hoepelbeen is, laat ’n podiater vir jou skoeninsetsels ontwerp wat die stremming op jou knieë en heupe verlig.
- Moenie jou gewrigte so oorwerk dat dit beskadig nie.
My artritis en jou artritis
Artritis is een van daardie kombersterme: ons gebruik dit vir enige seer, rooi en geswelde gewrig. Maar daar is ’n paar dosyn soorte artritis.
Van die algemeenste is:
- Reaktiewe artritis Skielike artritis weens in infeksie iewers anders. Iets soos ’n tandabses kan ’n artritis-aanval in jou knie sneller. Dit genees meestal binne ses maande.
- Septiese artritis Artritis wat begin met ’n infeksie in die gewrig self.
- Rumatoïede artritis ’n Chroniese outo-immuunsiekte waar jou liggaam jou gewrigweefsel aanval.
- Osteoartritis Die een wat ons bedoel as ons sê ons het artritis, “rumatiek” of ’n “knie”. Een uit vier mense bo sestig het osteoartritis in een of meer gewrigte.
Lees ook: 5 redes waarom rooibos jou dermgesondheid en immuniteit hierdie winter kan verbeter