Vlam, hoofstuk 27: Groen jaloesie deur Martie Swanepoel
Om op te vang met die vorige hoofstukke van Vlam, klik hier
Groen jaloesie
Niekie weet hoe dit voel om in oorloggeteisterde gebiede rond te hardloop en koeëls en klippe te ontwyk. Sy kan harde nuus en misdaad doen, en op deadlines skryf dat die stoom staan. Maar om op en af langs die rooi tapyt met hoë hakke rond te draf, is uitputtender as wat sy verwag het!
Genadiglik herken sy die sterre die een na die ander en kry sy kommentaar by die belangrikstes.
Een ding wat sy nie verwag het by so ‘n uitgelese persgehoor nie, is die gestampery. Sy is gewoond daaraan om by groot nuusgebeure deur ander koerantjoernaliste en fotograwe uit die pad geloop te word, maar dié soort hardhandigheid het sy nie in die glanswêreld verwag nie.
Veral die mode-verslaggewer van die New York Tribune is enetjie wat voor in die koor is met die stampery.
Die res van die modepolisie langs die tapyt van roem het natuurlik ook gou uitgesnuffel dat Niekie ‘n groentjie is en daar is geen simpatie of hulp van hulle kant te bespeur nie.
“Waar is die badkamer?”
“Vind vir jouself uit …”
“Waar is die perskamer?”
Ignoreer …
Gawe klompie, hoor.
Vir Niekie lyk hulle almal soos klone. Claudia was reg, almal in subtiele swart of grys of kleure wat nie die aandag van die sterre aftrek nie.
En hier is sy in haar smaraggroen skepping!
Ja, en Marco was ook reg, dit laat die koppe draai. Veral omdat die sagte materiaal speels wegval oor haar boopse en haar sagte wit décolleté verleidelik vertoon. Die rug is so laag, besef sy nou, dat sy kort-kort moet voel of haar panty nie agter uitsteek nie.
Met die aantrekslag het sy vir ‘n oomblik gewens sy was ‘n G-string tipe meisie, Dit sou minder lyne op sysagte materiaal gewys het. Vir nog ‘n moedelose oomblik wou sy selfs sonder ‘n panty na die funksie gaan!
Maar haar konserwatiewe inbors het haar gekeer.
Daarvan word sy weer bewus toe ‘n smalende verslaggewer van die Los Angeles Times in haar oor kom fluister. “Dis beter om jou panty te gaan uittrek want dit maak onvleiende voue op jou boude. Ek probeer jou net help. Gaan kyk in die badkamer. Jy sal sien wat ek bedoel.”
Niekie het haar onthuts na die naaste badkamer gehaas, en inderdaad, van agter kon mens duidelik ‘n stuk van haar kuise Woolies panty bokant haar boude sien uitsteek! Die lyne van die broekie het gewys sy hou van ‘n voller broekie. Dit het nie in die hotel se spieël so erg gelyk nie, maar die ongenaakbare kollig wys elke lyn!
Wat nou gemaak? Claudia?
Sy bel, want Claudia is mos op standby. Maar sy hou nie van Claudia se raad nie. “Watse rok het jy aan? Die swart rok behoort nie die lyne so direk af te ets nie.”
Niekie het geweet dit is tyd om haar dwaling te bely. Sy vertel als van Duard, die reën … en die res.
“Ek het die groen rok aan wat hy vir my gestuur het.”
“Dis ‘n lekker angle Niekie! Jy sal ‘n goeie storie kan skryf oor jou ervaring met die ster!”
Niekie weet sy gaan nié oor die avontuur met die glansprins skryf nie, ook nié oor hoekom sy die groen rok aangetrek het nie. Maar sy swyg eers tydens die gesprek met Claudia. Sy is nou in die nood.
“Trek jou broekie uit! Dis al genade!”
Claudia is effe geïrriteerd.
“Wat maak ek met my panty? My handsak is te klein!”
Claudia se sug trek van die Kaap tot in Cannes.
“Nicola, smyt die ding in die badkamer se asblik! Ek is seker dis nie die enigste broekie wat vanaand in daardie asblikke gaan beland nie.”
“Claudia!”
Maar Claudia jaag haar aan om te gaan werk.
Met ‘n wrewel in haar hart gooi Niekie een van haar gunstelingpanties weg.
“Aaa, dis beter,” kom dit van die katvriendelike joernalis in haar subtiele swart aandrok.
“E …, onthou om vir die volgende premiere meer gepas aan te trek. Ons persmense trek nie graag aandag nie. Het jy nie hulp gehad voor jy gekom het nie? Waar kom jy nou weer vandaan?”
Niekie is nie lus vir die vrou se snedige gesprekkie nie, en slaan dadelik oor na Afrikaans.
“Jong, ek verstaan eintlik nie ‘n woord wat jy sê nie,” glimlag sy liefies vir die kamma Samaritaan.
Die vrou kyk haar aan asof sy Latyns praat.
“Watter taal praat jy?”
“Afrikaans, Suid-Afrika! Excuse me,” en toe stap sy liefs weg want die rooi vlamme van woede trek weer op teen haar nek.
Op ‘n rits twiet sy oor die skeppings van die sterre. Sy dink sy kwyt haar nogal goed van haar taak. Maar in haar agterkop wonder sy wanneer Duard Wayne en sy metgesel hulle opewagting gaan maak?
Sy verdra die stampe en stote van die ander joernaliste, maar die girltjie van die New York Tribune raak al meer moedswillig. Niekie kners op haar tande.
Nog ‘n ster, nog ‘n stamp, nog ‘n ster, nog ‘n stamp.
Niekie het genoeg gehad. Die vrou is openlik aggressief!
Aan die gedruis van stemme en toenemende gekliek van kameras kan sy hoor ‘n groot ster het by die prime spot van die rooi tapyt opgedaag. Sy het gou geleer dat net sekere lede van die pers binne die eerste tien meter van die kantlyn mag operate. Hoe verder agtertoe op die tapyt, hoe meer junior is jy in hul perskringe.
Niekie het haar nie laat afskrik nie en tussen die New York en Los Angeles joernaliste ingewriemel.
En, dis hoekom die Tribune-meisie haar so rondstamp, sy weet dit.
“Meneer Wayne! Meneer Wayne! Die kant asseblief! Mejuffrou Garbers! Die kant asseblief!”
Van oral weerskante van die tapyt probeer joernaliste die glanspaar se aandag trek.
“Gaan julle ‘n aankondiging maak oor julle verhouding?”
“Is dit nou amptelik?”
Die vrae oor die geheimsinnigheid van die twee se verhouding vlieg heen en weer.
Niekie is ver agter en kan nie die sterre behoorlik sien nie. Sy beur vorentoe.
Sy vra ook vir kommentaar: “Meneer Wayne, die kant asseblief … Sy kry dit reg om tot heel voor te druk. “Meneer Wayne?” Hulle maak oogkontak. Hy knipoog vir haar!
En dit is net toe die vrou van die Tribune haar van agter pootjie. Niekie voel hoe sy en haar groen rok soos ‘n torpedo oor die rooi tapyt trek. Midde in die lug voel sy al die oë op haar. Sy hoor vroue lag. Dan kom sy met ‘n harde plof voor Duard Wayne se voete te lande!
Sy wil eers haar oë toemaak en maak of sy bewusteloos is. Die verleentheid is te groot. Die kameras kleik. Claudia gaan ‘n oorval kry! Dis al waaraan Niekie kan dink.
Sy besef sy sal die werklikheid in die oë met kyk. Sy kan nie vir ewig op die rooi tapyt uitgestrek lê in ‘n sysagte groen rok sonder ‘n panty nie.
Sy maak haar oë oop. Duard reik galant ‘n hand na haar. Sy neem dit dankbaar. Die kameras kliek nou verwoed.
Dan sien sy uiteindelik vir Melissa Garbers!
En sy is lus en hardloop weg …
Melissa het presies dieselfde kleur smaraggroen rok aan!
‘n Ander snit, maar beslis dieselfde uitsonderlike kleur …
Het jy geweet?
Ons het ’n GRATIS voorlesing waarna jy enige tyd kan luister van ’n ander vervolgverhaal uit die pen van Martie Swanepoel. ’n Nuwe episode van Botox, Barbies en Bietse word elke Donderdag om 09h00 vrygestel. Voorgelees deur Elize Cawood. Dis groot pret – begin sommer nou luister.