Ductal carcinoma. Fase twee. Dubbele mastektomie. Magriet sal nooit die dag vergeet toe sy hierdie woorde gehoor het nie. Miskien omdat dit ook die fase ingelei het toe sy van Stoffel se dubbele lewe bewus geraak het. Dit was ontnugterend om te ontdek Stoffel was eintlik lankal emosioneel afwesig in hul huwelik. Hoe stupid kan ’n vrou wees? Hoe blind? Sy het gedink haar lewe en huwelik is stabiel en veilig. Nee, eintlik het sy dit nie gedink nie. Sy het dit as vanselfsprekend aanvaar.
Die bonus van die borskanker is dat sy die paar kilogram afgeskud het wat sy na ’n lekker Krismis en knus winter se gemoedstrelende geregte en warm sjokolade opgetel het. Dit en nog meer. Sy kon byna oornag sien hoe die plooie meer word. Sy het altyd dun beentjies begeer, maar ’n middeljarige vrou wat skielik klere by die kinderafdeling moet gaan koop, is nie ’n gewenste ding nie. Sy het met sweetpakke vir twaalf tot veertienjariges en ’n kopdoek rond geloop. Nie ’n baie sensuele gesig nie, het sy besef toe Stoffel haar ook meer fisiek begin vermy het. Net pik-soentjies asof sy ’n aansteeklike siekte het. Vlugtige drukkies. Sy het onttrekkingsimptome van Stoffel begin kry, al het hulle in dieselfde huis gewoon en ’n bed gedeel. Dit was asof hulle elkeen op sy eie planeet woon en sy het so gesmag na sy teenwoordigheid op planeet K, waar sy haar intrek geneem het. K vir kanker. Dit het haar geïrriteer as mense vir haar sê, “Haai foei, ek hoor jy het ook die groot K.” Sy wou dikwels moedswillig wees en sê, “Die groot K? Waarvoor staan K? K vir Kaf? Want dis waarvoor ek nie nou lus is nie!” Sommige mense het haar begin vermy asof hulle bang was om met haar te praat. En sy het so ’n behoefte gehad om daaroor te praat. Sy wou uitskree, “Ek het KANKER en ek is BANG!” Sy was vreesbevange … en alleen. Erik, Mariaan en Jaco het haar ondersteun, maar Stoffel … Die gebrek aan sy steun het haar ontsettend eensaam laat voel.
Die eerste dae na die operasie was vir haar die ergste. Sy wou Stoffel sien toe sy na die operasie wakker word. Haar man. Nie Erik, haar beste vriend nie. Sy wou hê Stoffel moes daar wees en hy moes in haar oor fluister dat alles oukei gaan wees. Dat sy die kanker gaan wen en dat sy steeds vir hom begeerlik gaan wees. Sy wou hê hy moet vir haar sê dit is die “for better or for worse” ding wat hulle destyds voor die kansel beloof het. Hulle is nou by die “for worse” deel en die “for better” deel gaan weer kom. Maar toe begin dit vir haar voel of die “for worse” deel nooit weer gaan ophou nie.
Sonder Mariaan, Erik en Jaco sou sy nie daardeur gekom het nie. Praktiese Mariaan, wat saam met haar geborsvoed en kindersiektes oorleef het. Wat saam met haar oor hul kinders se toekoms gedroom het en soms vir mekaar vertel het van stoutighede wat hulle en hul wederhelftes in die slaapkamer aangevang het. Dit was vir haar vernederend om aan Mariaan te beken alles is nie wel tussen haar en Stoffel nie. Willem het Mariaan nog altyd aanbid en hy sal haar sekerlik op die hande dra deur ’n “for better or for worse” en “till death do us part.” Sy het Mariaan haar lojale, liefdevolle man beny. Dit was vir haar ’n skok toe Mariaan na haar onthulling oor die toestand van haar huwelik sê, “Ek weet.”
“Hoe het jy geweet?” het sy haar jarelange vriendin gevra. “Willem het my vertel. Ek wou jou nie sê nie. Ek is so jammer, Magriet.”
Willem het saam met Stoffel by Falco gewerk. Dis hoe hulle huisvriende geword het. Skielik het Magriet verstaan hoekom Mariaan en Willem die laaste tyd altyd “besig” was as sy hulle wou oornooi. Sy het besef dit was ook altyd sy wat die uitnooi-werk gedoen het en nie meer Stoffel nie. Stoffel en Willem het ook nie meer saam gaan rugby kyk nie. Hulle was albei altyd besig. Stoffel was blykbaar besig met Claudia, en Willem te besig om skaam te kry oor sy vriend en kollega se dwalinge op kantoor. Almal by Falco het dit eers vermoed en later geweet, het Mariaan haar vertel. Dit het gevoel of die hele wêreld van Claudia geweet het voor sy daarvan uitgevind het.
Na die operasie het Jaco gekom en Erik afgelos. Erik het saam met vriende met vakansie gegaan. Sy het daarop aangedring dat hy nie die vakansie wat hy vir maande beplan het, moes afstel nie. Sy wou alleen wees.
Maar na sy vakansie het Erik haar steunpilaar geword. Veral toe die kloof tussen haar en Stoffel al breër begin word het.
Vir vyf jaar het die kloof gegroei tot egskeiding ’n werklikheid geword het. Vyf lang jare waarin sy geweet het dit gaan kom. Waarin sy dit probeer wegdink het. Waarin sy desperate pogings aangewend het om haar man terug te wen. Sy het haarself probeer oortuig haar gerekonstrueerde borste is byna net so mooi soos haar verlore borste. Sy het Stoffel ’n paar keer verlei voor sy verneder die aftog geblaas het. Stoffel wat haar voorheen nie kon weerstaan nie, het al later begin werk en op al meer sake-reise begin gaan. Veral naweke moes hy altyd iewers heen gaan. Na Claudia toe, het sy geweet, maar vir vyf jaar het sy gemaak of dit nie regtig so is nie. Dit het eers vir haar regtig geword, toe Stoffel een aand terloops aangekondig het, “Magriet, ek wil skei.” Hy het op sy gunstelingleunstoel gesit. Glas rooiwyn in die hand. Soos elke ander aand. Maar daardie aand het dinge anders geword. Stoffel het die woorde uitgespreek en skielik het die teenwoordigheid van Claudia sigbaar in haar lewe gevoel. Dit was ’n vernederende gevoel om te weet ’n ander vrou is vir jou man begeerliker as jy. Dit was ontnugterend om finaal te besef dat Stoffel saam met Claudia oud wil word en nie saam met haar nie.
Sy het deur dieselfde rouproses gegaan as toe sy haar borste verloor het. Die vreeslike hartseer voor die operasie. Die leegheid na die operasie. Die ontkenning. Die uitmergelende proses. Die opstandigheid, woede teenoor Claudia en desperate hoop dat Stoffel dalk tot inkeer sal kom. Haar lewe het alle koers en rigting verloor. Sy het maande doelloos rondgeploeter. Toe word sy finaal woedend. Dié keer vir Stoffel. Dit was Erik wat haar finaal oor die drumpel gestoot het.
Sy onthou die middag nog goed. Dit was maande na die egskeiding afgehandel is. Erik het by haar huis opgedaag met twee bottels rooiwyn en ’n pak dokumente en foto’s.
“Grieta, ek hoop jy gaan my vergewe vir wat ek vandag gaan doen, maar dit is noodsaaklik.” Hy het vir hulle wyn geskink en langs haar op die bank kom sit.
“Hier is dokumente wat staaf dat Stoffel en Claudia reeds voor jou operasie saam eiendom gekoop het. Kyk, Grieta, kyk wat is hier voor jou! Foto’s van Stoffel en Claudia op ’n glanstydskrif se sosiale blaaie. Toe jy nog in die hospitaal was. Toe hy sy vergadering in Kaapstad gehad het. Dit is tyd om jou los te maak. Word asseblief nou kwaad vir die blikskottel sodat jy kan aangaan met jou lewe. Ek mis die ou Grieta.”
Erik het die getuienis uitgepak en Magriet het ouma Grieta se pyp gaan uithaal. Sy het bolle vol kersietwak rook die sitkamer vol geblaas, voor sy gebreek het. Sy het gehuil en gehuil met haar gesig in Erik se trui vol kathare. Sy het vreeslik baie wyn gedrink.
Die volgende oggend het sy op die bank wakker geword. Erik het ’n kussing onder haar kop ingewoel en komberse oor haar gegooi. Op die koffietafel het twee hoofpyntablette en ’n glas lemoensap gestaan. Daar was ’n nota in Erik se perfekte handskrif.
“Sorrie, Grieta. Sorrie x”