“Geluk, jy het die fight teen Claudia gewen. Die polisgeld is joune!”
Magriet het ’n rukkie nagedink oor Erik se gelukwensing. Dit het nie vir haar regtig soos ’n oorwinning gevoel nie. Claudia is immers steeds die een wat régtig gewen het. Toe Stoffel aangekondig het hy wil skei, toe het Claudia al die hele fight gewen. Die geld van die polis voel soos ’n troosprys.
Magriet se hande het sag oor haar gerekonstrueerde borste gevoel. Die verlies van haar borste en die verlies van Stoffel is vir haar dieselfde ding. Sy het nie vrede gemaak met die verlies nie. Vir haar was die “nuwe” borste net twee sakkies vloeistof wat die plek van haar kosbare borste ingeneem het. Dit was nog nooit deel van haar liggaam nie. Sy het na die mastektomie begin rou oor die verlies van haar pragtige 36D borste. Soos sy oor die egskeiding gerou het. Daar was nie ’n sakkie vloeistof wat die leemte kon vul wat Stoffel gelaat het toe hy haar vir Claudia gelos het nie. Sy het ook nie gedink die polisgeld sal die leemte kan vul wat haar hart soms laat pyn nie.
Die 36D borste was vir haar simbolies van die tyd toe Stoffel haar nog bemin het. Toe hy nie sy hande van haar borste kon afhou nie. Al het dit by tye hoe sleg met hul huwelik gegaan, het Stoffel altyd in die nag sy arm om haar gesit en sy hand om haar een bors gevou. Behalwe as hy baie moeg was. Dit het eers later jare gekom. Die moegheid. Maar na die egskeiding het sy besef dit was nie altyd moegheid nie. Stoffel het lank voor die egskeiding reeds belangstelling in haar en haar borste begin verloor.
Sy het dit nie toe besef nie, maar later geweet dat die dag toe die ginekoloog haar ingeroep en gesê het sy het borskanker, dit ook ’n keerpunt in haar huwelik gebring het.
Dit was net ’n gewone jaarlikse mammogram. Sy was nie bekommerd toe die radioloog ook ’n sonar wou doen nie. Maar toe hulle ook ’n biopsie wou doen, het sy onrustig begin voel. Sy het niks vir Stoffel of vir Jaco gesê van die biopsie nie, ook nie toe sy die dokter oor die uitslag van die biopsie moes gaan sien het nie.
Sy het snaaks genoeg nooit voorheen gevrees dat borskanker haar kan tref nie. Niemand in haar familie het borskanker gehad nie. Dit het haar in ’n mate immuun teen borskanker laat voel.
“Beide borste? Gevorderd?” Sy het gebewe van skok. ’n Dubbele mastektomie was die laaste ding wat sy verwag het. Sy het ’n geskiedenis van skoon mammogramme gehad. Hoe kon kanker binne ’n jaar na beide haar borste versprei?
Die diagnose het haar rustige, vanselfsprekende wêreld omgedolwe.
Op pad huis toe het sy na elke ander vrou in die karre langs haar gekyk. Hoe gelukkig is hulle om nie borskanker te hê nie? Sy het gevoel die lewe trek haar ’n nare streep. Sy is ’n goeie, gawe vrou en sy verdien nie kanker nie.
Sy het aandete gemaak en vir Stoffel gewag. Na ete het hy ouder gewoonte vir hulle rooiwyn ingegooi en hulle het TV-kamer toe gestap. Sy kon die woorde eers na ’n paar slukke uitkry: “Ek het borskanker, hulle gaan oormôre beide my borste afsit.”
Stoffel was geskok. “Maak hulle nie ’n fout nie?”
Sy het hom die sonars en toetsuitslae gewys.
“Kan hulle die operasie nie uitstel nie? Jy weet mos ek moet oormôre in die Kaap wees vir die voorlegging aan die buitelandse beleggers?”
Sy woorde het haar onverwags geskok.
“Hoe kan Stoffel bekommerd wees oor ’n vergadering as hulle haar borste gaan afsit? Beide haar borste!”
“Stoffel, die kanker is aggressief en kan versprei. As dit nie al reeds versprei het nie.”
Hy het sowaar op daardie oomblik gemaak of die operasie hom verontrief!
“Ek kan die vergadering nie uitstel nie. Dis buite die kwessie. Jy weet dit mos al weke?”
“Ja, maar ek weet nie al vir weke ek het kanker nie. Maar jy hoef nie daar te wees nie, ek gaan in elk geval ten minste die eerste twee dae slaap.”
’n Diep Hartseer het tussen haar twee siek borste onder haar borsbeen lêplek gekry.
“Vra daardie vriend van jou of hy saam met jou sal gaan. Julle is mos sulke dik pelle.”
“Ek gaan nie vir Erik vra nie. Hy is nie my man nie. Jy is! Ek sal liewer alleen gaan.”
Later die aand, toe sy gaan bad, het sy voor die spieël na haar borste staan en kyk. Hulle het so normaal gelyk. Hulle het nie eens gepyn nie. Hoe kon hulle vol kanker wees? Haar vingers het reeds na die mammogram ’n paar keer oor haar borste gevoel. Sy kon die knoppe voel. Hoe kon dit haar so onverwags oorval?
Sy het gewonder of Stoffel die aand vir oulaas sy arm om haar sal vou en haar bors vashou. Sou hy die laaste keer met haar intiem verkeer voor hy Kaap toe vertrek? Dis hulle laaste aand saam in die bed terwyl sy nog haar borste het.
Stoffel het in die bed gelê en lees. Hy het niks verder oor die operasie uitgevra nie. Hy het nie gevra hoe sy daaroor voel nie. Hy het nie gesê hy is jammer sy het kanker nie. Die pyn in haar bors het vasgeskop. Sy het eensaam gevoel. Sy was bang. Stoffel het naggesê en omgedraai om te slaap.
“Nag, Stoffel,” het sy gesê.
Hy het nie sy arm om haar gesit nie. Sou hy bang wees hy steek aan? Sy het gewonder of die gedagte van verspreide kanker in haar borste haar afstootlik maak vir Stoffel.
Hy het haar die volgende oggend gegroet asof dit enigeen van sy vorige sakereise was. Sy het nog nooit in haar lewe so alleen gevoel soos op die oomblik toe sy Stoffel sien wegry nie. Daardie oomblik het sy geweet dat net soos die kanker haar borste ongesiens bekruip het, net so ongesiens het daar ’n kloof tussen haar en Stoffel verskyn.
Sy het in die huis ingestap en haar kind in Kaapstad gebel.
“Jaco, Mamma is jammer dat ek dit so oor die foon moet sê, maar ek het borskanker en ek gaan môre vir ’n dubbele mastektomie.”
Jaco was nog altyd ’n emosionele kind en het begin huil. Hy wou dadelik Johannesburg toe vlieg.
“Kom liewer as Mamma wakker is. Ek sal Erik vra om my hospitaal toe te vat.”
Erik was ’n paar sekondes stil toe sy hom bel. “Grieta, ek kom nou, sit die ketel aan.”
Erik het haar lank vasgehou. Sy het haar gesig in sy grys trui ingedruk. Sy truie was altyd vol kathare.
“Ag, sorrie, Grieta. Sorrie my pel.”
Hulle het twee potte tee uitgedrink en die helfte van die sjokoladekoek wat Erik gebring het opgeëet.
Sy kon nog altyd dieselfde goed met Erik bespreek as met haar meisie-vriendinne.
Hulle het gepraat oor rekonstruksie, chemo en bestraling. Erik se ma en suster het borskanker gehad. Beide het die stryd teen die groot K verloor.
“Maar jy is ’n sterk girl. Jy gaan nie oorgee nie, hoor jy? As jy wakker word, sal ek daar wees. Ek sal by jou sit tot Jaco kom.”
“Ek gaan vreeslik lyk. Ek wil nie hê jy moet my sien as ek net bykom nie.”
Erik het geskater.
“Mag ek jou daaraan herinner dat ek en jy saam studente was? Ek wil jou nou nie aan die dwalinge van jou jeug herinner nie, maar voor jy Stoffel ontmoet het, het ons darem lekker gekuier, of het jy vergeet? Ontspan, Grieta, ek het jou al op jou slegste gesien.”
Magriet het gelag. Erik was altyd so ’n tonikum. Dit was asof hy die pyn in haar hart gelawe het.