Deur Martie Swanepoel. Foto Anastasiya Lobanovskaya, Pexels
Die behandeling het elke greintjie energie uit Magriet geneem. Daar was te min normale oomblikke om te geniet. Sy het nie die krag gehad vir vlieglesse, skilder of om haar troue te beplan nie. Sy was moeg en humeurig en het haar geliefdes se geduld en ondersteuning tot op die uiterste beproef. Sy het so hard teen die dood geveg dat sy nie energie gehad het om ander in ag te neem nie.
Op ’n dag het sy Erik gevra om haar na die onkoloog te neem. Sy het daarop aangedring dat hy saam met haar ingaan.
“Ek is moeg,” het sy aan die dokter gesê, “gee my reguit antwoorde. Ek kan nie bekostig om my laaste dae so ellendig te voel nie. Ek wil nie naar wees of ure met ’n drup te sit terwyl ek nog ’n paar lekker dinge kan doen nie. Ek wil leef. Ek wil my laaste tyd saam met my geliefdes geniet. Sê my nou, is die behandeling nog die moeite werd? Gaan dit my lewe met ’n week of ’n maand verleng? En watter kwaliteit lewe gaan ek met of sonder die behandeling hê?”
Die onkoloog het gepraat en sy en Erik het aandagtig geluister. Emosieloos. Dit was asof hulle na die voor- en nadele van die aankoop van ’n nuwe wasmasjien luister. Soveel voordele opgeweeg teen soveel nadele.
Erik het met sy lang lyf vooroor gesit. Sy kop tussen sy hande. Magriet het regop gesit en die onkoloog stip aangekyk.
“Ek verstaan. Ek het eintlik klaar besluit voor ek gekom het. Ek wou net hê Erik moet ook hoor. Ek gaan my behandeling vandag staak. Van vandag af wil ek geen newe-effekte van die behandeling voel nie. Ek wil net wees. Ek sal nie vrede maak met die kanker nie, maar ek gaan nie dat die behandeling kosbare tyd saam met my geliefdes mors nie.”
Erik het onbeskaamd sag begin huil. Die antwoorde van die onkoloog was te finaal vir hom. Magriet het geweet hy moes saamkom sodat hy weet daar is nie hoop sonder ’n wonderwerk nie. En, sy wou hê hy moet hoor dat die behandeling nie meer regtig saak maak nie. Erik moes hoor dat sy ’n beter kwaliteit lewe sonder die behandeling sou hê. ’n Korter lewe, maar ’n beter lewe.
Sy en Erik het nie op pad huis toe gepraat nie. By die huis het hy vir hulle wyn ingegooi.
“Op lewe,” het hy aangekondig.
“Erik, sal jy nog met my trou?” Sy het eintlik die antwoord reeds geken. Sy het geweet dis dalk selfsugtig om te verwag hy moet met ’n sterwende vrou trou. Maar sy het die troue nodig gehad. Sy wou ’n dag hê waarop sy alles kan vergeet. Haar en Erik se dag.
Hy het haar hand geneem en dit gesoen.
“Ek sal nooit weer liefhê soos nou nie.”
Sy het gehoop Erik vind na haar weer iemand, maar sy het ook geweet dat dit wat hulle het spesiaal is.
“Dankie dat jy hierdie laaste tyd by my is.”
Hulle het besluit Mariaan sal in beheer wees van die reëlings vir die klein, intieme troue.
“Verras ons,” het Erik oor die foon gesê. “Ons weet jy sal die regte ding doen. Jy ken ons albei goed genoeg. Klein, spesiaal en onvergeetlik.”
Magriet se energievlakke het tydelik teruggekeer. Party dae moes sy haarself herinner dat sy siek is.
Sy en Erik het niks beplan nie. Sy wou nie mylpale bereik nie. Net leef. Draairoomyse, flieks, lang ritte deur mooi landskappe. Soms het hulle net in stilte langs mekaar gesit.
“Dis hoe ware liefde voel,” het Magriet gedink. Hulle saam wees het ’n intiemer vlak bereik as liefde maak. Dit was ’n dieper liefde as lang passievolle nagte. Dit was ’n tevredenheid. ’n Diep deernis vir mekaar.
Magriet het belustigheid gekry soos ’n swanger vrou. Erik moes in die middernagtelike ure ’n Cream Soda float maak of ’n wafel bak.
Magriet het ’n pak briewe geskryf sodat Erik elke jaar ’n brief op sy verjaarsdag kan oopmaak. Net tot op tagtig.
“So? Mag ek nie daarna briewe kry nie?”
Magriet het gelag. “Dink jy jy gaan so lank leef?”
Hulle het ure aaneen bespiegel oor wat hulle sou doen as hulle sestig, sewentig of tagtig sou word.
Een oggend het Magriet aangekondig dat dit tyd is om haar laaste dae te beplan. Sy wou nie in ’n hospitaal groet nie. Hulle het saam ’n hospies in ’n kusdorp uitgesoek. Een met ’n onbelemmerde uitsig op die see.
“Ek wil die see ruik en die wind op my gesig voel waai.”
Erik het hulle laaste avontuur met dieselfde presisie gereël as wat hy hul oorsese reise beplan het.
“Ek gaan jou elke dag tot op die strand dra. Ons gaan soos kinders sandkastele bou. Ek sal die vlak branders oor jou laat spoel.”
Erik het ’n spesiale rolstoel gehuur waarmee hy en Magriet op die strand kan stap.
“’n Vlieër. Ek wil ’n vlieër vlieg. Weet jy dat ek nog nooit ’n vlieër gevlieg het nie? Ek kon my nog altyd verkyk aan hoe ’n vlieër in die wind kan swiep en draai.”
Erik het geweet dat die tyd naby is wat hulle kus toe sou moes vertrek. Magriet het haar bes probeer om dit weg te steek, maar sy het verswak.
Sommige dae het sy beter gevoel. Dan het hulle impulsiewe dinge gedoen soos om met ’n seiljag oor Hartebeespoortdam te vaar, of om Kaap toe te vlieg om walvisse te gaan kyk.
Mariaan het geweet haar vriendin se kragte raak min, en het die troue op ’n mooi stukkie strand naby die hospies gereël. Die seremonie en onthaal was ’n verrassing vir haar twee beste vriende.
“Ek wil die duifgrysrok aantrek wat jy gekoop het. Ek sal dit net bietjie moet verstel aangesien my nuwe ‘dieet’ so suksesvol is.”
Magriet het na haar eerste ervaring met kanker soms gewonder hoe dit voel om sterwend te wees. Wat maak mens as jy weet jy sterf? Groet jy mense een vir een? Merk jy jou besittings met plakkers wat aandui wie dit gaan erf? Haar administratiewe sake was danksy Erik in orde, maar sy het geen behoefte gehad om haar huis op te pak nie.
Dis net haar pyp. Een aand het sy en Erik op die stoep gesit en rook.
“Ek wil hê jy moet my pyp vat na ek weg is. ’n Mens het ’n pyp nodig as die lewe te veel raak.”
Erik het die pyp by Magriet geneem en ’n paar puffe gemaak.
“Elke keer as ek die kersierook so in die lug blaas, sal ek aan jou dink.”
Magriet het haar arm om sy skouers gesit.
“Dink jy ek sal die kersietwak tot in die hemel kan ruik?”
Erik het die pyp vir Magriet aangegee sodat sy ook ’n paar puffe kan maak.
“Ek glo so, Grietjie.”