Deur Martie Swanepoel. Foto luizclas, Pexels
Borskanker het Magriet gekonfronteer met die dood. Sy het van die begin af daarteen baklei, en mettertyd het sy die vrese vir die moontlikheid van dood oorwin. Toe was dit ’n tweeledige geveg. Enersyds, die geveg teen kanker … en dan was daar die geveg om haar huwelik te red. Die uitkoms van haar geveg om Stoffel se liefde het vinniger tot haar deurgedring. Dit was deel van vroulike instink. Jy weet as jy ’n geveg in die liefde verloor.
Sy het meer oor Stoffel gerou as oor die verlies van haar borste.
Met die borskanker het sy geweet daar is ’n moontlikheid van oorlewing. Hoop. Maar dit was steeds ’n verlammende geveg. Veral op emosionele gebied. Toe remissie uiteindelik aanbreek, het sy ’n ruk geneem om te ontspan. Maar mettertyd het die vrees verdwyn en het sy aanvaar dat daar niks is wat sy kan doen om te keer dat die kanker ooit weer terugkeer nie. Sy het elke keer met ’n knop op die maag vir haar gereelde ondersoeke gegaan. En tussen die ondersoeke het sy voortgegaan met haar lewe.
Na die tweede diagnose het sy weer die stukkies van haar lewe ontleed. Die goeie en die slegte stukkies. Sy het snot en trane gehuil en haarself oneindig jammer gekry.
Die onkoloog se eerlikheid is deur biopsies en toetse bevestig. Die aggressiewe kanker het versprei. Magriet het al die behandelings en opsies gekies, maar geweet die pad gaan effe moeiliker wees as met die borskanker. Sy het geveg deur pyn, naarheid, moegheid en stadiums waarin sy gedink … of gehoop het, dat die einde in sig is.
Erik het haar hand vasgehou en hoewel sy geweet het hy is net so verpletter soos sy, was hy haar rots. Mariaan het saam met haar gehuil en elke middag na werk saam met haar op die bed kom lê. Dan het hulle oor twak gepraat en gelag en vakansieplanne gemaak wat hulle geweet het nooit sal realiseer nie.
Jaco het dieselfde skeidingsangs begin toon soos toe hy ’n kleuter was. Sy onthou steeds hoe hy elke oggend begin huil het as hulle voor die kleuterskool stop. Vir jare daarna kon sy in haar gedagtes herroep hoe haar kleuter gil: “Mamma! Moet my nie hier los nie!” Jaco het elke dag gebel en ’n oorplasing gevra uit die Kaap. Hy wou by sy ma wees.
In die proses wou nie een van haar geliefdes moed verloor nie. Sy ook nie. Die prognose het soos ’n wolk oor alles gehang, maar nie een van hulle het oor die uiteinde gepraat nie.
Magriet het haar vyand daagliks aangespreek. Sy het hom op sy naam genoem. Kutane melanoom. Sy het dit aan hom duidelik gemaak dat sy nie aanvaar wat hy aan haar liggaam en haar lewe doen nie. En beslis ook nie wat hy aan haar geliefdes doen nie.
In die tye wat sy goed gevoel het, het Magriet gaan vlieg. Sy was ’n bobaas leerling. Dit was by haar ’n obsessie om ’n solovlug te doen voor haar tyd aanbreek.
Bokant die wolke het sy gevoel sy is ontslae van kutane melanoom. Dit was asof sy haar vrese op die grond gelaat het. Elke keer wat sy bokant die wolke was, het sy haar verbeel sy kyk deur ’n skrefie na haar uiteinde. Na die sagtheid van die hierna. Dit was steeds vir haar ’n vreemde konsep.
Sy kon steeds nie aanvaar dat sy die mense vir wie sy lief is agter moet laat nie. Jaco. Hoe kan ’n ma haar kind agterlaat? Wie sal vir hom so lief kan wees soos sy? Uit selfsug was sy meer bekommerd oor hoe sy aan die ander kant sonder Erik as steunpilaar sal kan aangaan. Erik het sedert die diagnose meer geword as haar steunpilaar. Dit was asof hy haar opgetel het en op sy skouers dra. Hy het elke hobbel op haar pad gelyk gemaak. Hy het nie toegelaat dat sy haar bekommer oor administrasie of ’n groen swembad nie.
Asof dit die natuurlikste ding op aarde is, het hy een oggend met ’n rolstoel by haar huis opgedaag. Haar lyf was soms te moeg om te loop.
“Dit gaan dinge net vir ons makliker maak. Nou kan ek en jy deur die botaniese tuine en deur galerye stap.”
Hy het eksotiese piekniekmandjies gepak en haar bederf met klein skatte soos ’n ragfyn veer, ’n skoenlapper se vlerk, ’n stukkie bas met mooi teksture.
Hulle het saam die digkuns van Rumi herleef. Wyse woorde soos: “This is love: to fly toward a secret sky, to cause a hundred veils to fall each moment. First to let go of life. Finally, to take a step without feet.”
Erik het elke aand ’n speellys gehad van haar gunstelingmusiek. Klassiek, jazz, die musiek van haar tienerjare, die liedjies wat Erik en sy vriende op universiteit voor haar koshuis gesing het.
Soms het hulle stadig oor die stoep gedans en soms net op die gras gelê en satelliete getel. Tussen die konstellasies van die sterre het Magriet haar gedagtes die onbekende ingestuur. Sy het met Erik gepraat oor dit wat op haar wag. Die realiteit. Hulle was eerlik met mekaar. Daar was nie meer tyd vir ’n versiersuikerlagie oor die dood nie. Magriet het begin vrede maak met die onafwendbaarheid.
Sy het vir die eerste keer na die Klaus-drama weer haar verfkwaste uitgehaal. Op leë doeke het sy haar siel uit gestort. Sy het kaal skelette geverf wat emosie tot op die been sny. Dan het sy lae vel daaroor getrek om die naaktheid te bedek. In houtskool het sy die geheimenisse van fossiele ontgin. Ou herinneringe wat versteen gelê het in haar gemoed.
Deel van die gereedmaak vir die onafwendbare was ’n genesingsproses. Sy het geweet dit is noodsaaklik. Sy wou ou fossiele oopkap, sy wou die vlees oor ou wonde laat groei.
Iewers agter in ’n kas het sy ’n ou skets gevind wat sy geteken het toe sy die eerste keer teen kanker geveg het. Dit was die skelet van ’n vrou, maar in die skedel het bang oë uit die doek gestaar. Met houtskoolhale het Magriet die vrou se beendere bedek met ’n kleed wat sag oor haar kaal gestrooptheid vou.
Sy wou die skeletvrou laat ervaar hoe aanvaarding sag om jou siel kan vou.