– Deur Martie Swanepoel. Foto: Pixabay
Die meeste mense loop diep binne hulself rond met ’n vrees vir kanker. Nadat kanker die eerste keer in Magriet se lewe toegeslaan het, het sy altyd ’n vae vrees gehad dat dit gaan terugkeer. Sy kon nooit met die siekte self vrede maak nie, net met die situasie van oorleef van dag tot dag.
Vandat haar onkoloog die eerste keer na die moesie verwys het, het sy geweet. Die toetse en biopsie het dit net bevestig.
Magriet het onverklaarbaar selfsugtig-beskermend teenoor die diagnose gevoel. Sy wou dit nie dadelik met die mense om haar deel nie. Sy wou die diep seer en vrees wat aan haar borsbeen vasgeanker het, eers vir ’n ruk alleen ervaar.
Met die eerste diagnose het sy angsbevange en huilend voor die dokter gesit. Dié keer was dit asof sy in ’n glasborrel vasgevang was.
Terwyl sy gewag het, was dit asof sy in super fokus modus ingegaan het. Sy het na elke klein detail in die spreekkamer gekyk. Elke boekomslag wat donkie-ore gelees is, elke teël wat gebars is, elke stoel wat skeef staan. Sy wou op alles fokus behalwe op die leë vakuum van vrees in haar.
Sy wou nie die voëls buite in die tuin hoor nie. Sy wou nie hoor hoe pasiënte met gedempte stemme met mekaar gesels nie. Sy wou in haar glasborrel sit en wag. Die wagkamer was vol. Magriet het besef dat elkeen wat in ’n onkoloog se spreekkamer sit en wag, met vrees daar sit. Sy het om haar rondgekyk. ’n Bejaarde man met ’n tweed-baadjie en sy das. Hy het skynbaar al ’n suksesvolle lewe geleef. Langs hom was ’n tenger jong vrou met ’n kleuter. Sou sy oorleef om haar kind groot te kan maak? Die jong meisie in die rolstoel het haar oog gevang en sy het vir haar geknipoog. Die meisie was besig om armbandjies te vleg. Sy het een na Magriet uitgehou. “Kyk, dis so blou soos die see. Nes jou oë.” Magriet het die bandjie om haar pols gebind. Sy het geweet sy sal dit nie weer afhaal nie.
As ’n spreekkamer volgepak is, en jou dokter skuif jou tussen ander pasiënte in, is dit nie ’n goeie teken nie.
Fase vier melanoom. Die kanker het na ander dele van haar liggaam versprei. Na die brein, longe en ander organe. Weens die erns van die verspreiding was haar lewensverwagting twee tot sewe maande.
Wat maak mens? Smeek jy die onkoloog vir uitstel? Wat van die oulike troue met die mooi blomme? Wat van die solovlug. Wat van Erik?
Die dokter het haar ’n pamfletjie in die hand gestop:
“Cutaneous melanoma is the most aggressive form of skin cancer. When it has spread (metastatic cutaneous melanoma), the prognosis is very poor.”
“Sal jy met my eerlik wees?” vra sy die dokter.
“Sal enige behandeling help of gaan dit net my laaste dae ongemaklik maak?”
“Jy weet ek kan dit nie vir jou antwoord nie. Gaan dink daaroor.”
Sy het weer haar foon afgesit en koers gekry op snelweë. Sy het deur klowe en tonnels gery. Party plekke het die mielies geil gegroei en toe kom daar plekke waar die aarde dor oopgebars was.
By ’n plek waar die kroonlande vêr voor haar uitgestrek was, het sy stilgehou en net getuur. Daar was absoluut geen gedagtes in haar kop nie. Net ’n leegheid wat soos ’n baksteen in haar bors lê.
Jaco, sy het geweet sy is eintlik op pad na hom toe om vir hom te gaan sê sy ou neurotiese ma gaan nie meer vir lank aan hom voorsê wat om te doen nie. Jaco sal hartseer wees en sy sal hom styf vashou en sus soos toe hy klein was en hy bang was vir die monster onder sy bed.
Sy sal vêr ente saam met haar kind op die strand gaan stap. Hulle sal waarskynlik oor niks praat nie. Sy sal mooi skulpies optel en hy sal plat klippers oor die see gooi dat dit so hop hop.
Hoe sal sy vir Erik sê?
Met haar borskanker het sy in fases baie erg met God baklei. Maar dié keer is sy nog kwater vir Hom. Sy het regtig gevoel sy verdien dit nie. Noudat sy uiteindelik liefde gevind het, nou word haar paadjie kortgeknip.
Sy het daardie dag in die onkoloog se spreekkamer na die mense om haar gekyk. Wie van hulle verdien om dood te gaan? Elkeen het geliefdes. Wat van die jong mamma met die kleuter? Verdien sy nie om haar kind groot te maak nie? Die jong meisie met die armbandjies? Daar was iets in daardie kind se oë wat haar lot aanvaar het.
“Here, gee my ook daardie vrede,” het Magriet gebid na die hemele wat skielik so vreeslik hoog gevoel het.
Haar motor het deur die Karoo koers gekies Kaap toe. Sy het na die landskappe gekyk asof sy dit die eerste keer sien.
Iewers langs die pad het ou herinneringe losgebreek. Sy kon onthou toe sy as klein dogtertjie op die agterstoep gesit wonder het of haar ma haar regtig liefhet. Dit was nadat sy gehoor het hoe haar ma vir tant Anet sê, “Magriet is maar ’n vaal enetjie, soos haar ouma.” Vir haar ma was haar sus Louise altyd die uitblinker. In ’n vlaag van pity party het Magriet aan elke laagtepunt van haar lewe gedink. Dit was asof al die boelies en mislike ou dogtertjies in ’n ry gestaan het. Heel op die punt het Claudia vir haar gestaan en tong uitsteek.
Magriet het geweet dit is sy wat haar brein toelaat om in negatiwiteit vasgevang te word, maar daar was ’n soort bevredigende gevoel uit die selfbejammering. Die deurlopende boodskap was vir haar dat sy wat Magriet is, nie verdien om aan kanker te sterf nie. Sy verdien om gelukkig te wees, soos in die sprokies, vir ewig en altyd gelukkig.
Selfbejammering put mens uit. Magriet het haarself in ’n gastehuis in Kuruman ingeboek en in ’n diep, droomlose slaap verval.