Die vlieglesse het soos ’n heerlike opwinding in Magriet se are gebruis. Sy kon nie genoeg kry van die ekstase as sy die stuurstang vashou nie. Sy en Bobby het bokant die wolke gelag en geskater. Sy het die gewoonte ontwikkel om voor elke les die hangertjie met ouma Grieta op te soen. “ Vir jou, Ouma!” het sy dan gesê.
Erik het haar op ’n ander manier vlerke gegee. Hy het haar aangemoedig en saam met haar gedroom oor haar eerste solovlug. Hulle het ook hulle groot dag beplan. Hulle wou hul troudag klein, intiem en onvergeetlik maak. Die lys moontlikhede het gegroei. Hoe later hoe kwater. Onder die voorstelle van Erik se kant was dat hulle die Camino of die Inka-roete gaan stap en dan daar trou. Magriet het meer ’n romantiese toer Venesië of Parys toe in gedagte gehad. Partykeer het Erik na twee glase wyn voorgestel dat hulle sommer die volgende dag in die landdroskantoor moet gaan trou, maar Magriet het haar hart gesit op ’n knus onthaal met ’n mooi koek en blomme.
Die lewe het Magriet goed behandel want sy was ’n verliefde vrou met vlerke. Maar hoe nader die tyd van haar besoek aan die onkoloog gekom het, hoe meer het haar maag op ’n knop getrek. As mens een keer deur die vrees van kanker is, los dit jou nie, al is jy in remissie. Sy het gereeld na die moesie op haar rug geloer in die spieël. Partykeer het sy haarself wys gemaak dit lyk klein en onskuldig, maar soms het sy gevoel hoe dit jeuk. Dan het sy haarself oortuig dis haar verbeelding. Sy het nie ’n woord oor haar moesie-vrees aan Erik, Mariaan of Jaco genoem nie. Dit was asof sy gedink het dat so lank dit ʼn geheim bly, bestaan dit nie regtig nie.
Dr. Jos Lamprecht het Magriet deur die trauma van haar mastektomie, chemo en radiasie bygestaan. Hy was ’n simpatieke, maar eerlike dokter. Hy het haar van die oomblik van diagnose op hoogte gehou van wat presies met haar liggaam gebeur.
Magriet wou eers niks oor die moesie sê nie. Hy het haar deeglik ondersoek en bevoel vir knoppe. Sy hande het ook oor haar rug en onder haar arms gevoel vir vergroeiings. Vir ’n oomblik was Magriet verlig want hy het nie dadelik iets oor die moesie gesê nie.
“Hier is ’n vorm vir bloedtoetse en ek wil dadelik na daardie moesie op jou rug laat kyk. Weet jy daarvan?” Sy het haar kop geknik. “Wel, jy weet ek is reguit oor sulke dinge. Ek hou nie van die voorkoms van die moesie nie.”
Magriet se kop het vol emosies en paniek gedwarrel terwyl die ontvangsdame afsprake vir toetse en nog doktersbesoeke aframmel. Die woorde “dringend” en “so gou moontlik” het in die waas van naarheid van vrees tot haar deurgedring.
Sy het ’n rukkie in haar motor gesit. ’n Lamheid het haar oorval. Haar arms was te swaar om die stuurwiel te neem. Sy wou haarself troos dat niks verkeerd is nie, maar daar was ’n blik in dr Lamprecht se oë wat sy geken het. Dit was dieselfde blik van die dag toe hy vir haar gesê het sy het kanker. In beide haar borste.
Hoe gaan die nuus aan Jaco oordra? Hy het klaar nie ’n pa nie. En Erik? Dit gaan dan nou so goed met hulle? Wat van die troue?
Ontspan, het sy haarself gemaan. Die toetse is nog nie afgehandel nie. Daar is nog nie ’n uitslag nie.
Hoe harder sy haarself probeer gerusstel het, hoe stywer het die knop in haar maag gedraai.
Sy het haar foon afgeskakel. Sy wou met niemand praat nie. Sy wou nie die vrees uitspreek nie.
Magriet het die motor aangeskakel en begin ry. Doelloos het sy in die stad rondgery. Toe kies sy koers op die snelweg. Sy het afdraaipaaie geneem terwyl Vivaldi se strykinstrumente haar siel probeer kalmeer.
Sy het uitgekyk op ’n dam. Dit was groen van die hiasinte. Toe besef sy sy is by Hartebeespoortdam. Sy het nie geweet hoekom sy soontoe gery het nie. Sy het niemand in Hartebeespoortdam geken nie. Voor haar het seilbote vasgemeer gelê. Sy het haar verbeel sy kan die mense se gelag op die stil plesierbote hoor. Skielik het dit vir haar so leeg geklink dat mense pret kan hê. ’n Jaloesie het in haar kom lê. Sy was jaloers op alle mense wat nie in die vrees van kanker leef nie.
“Hoekom ek? Hoekom weer ek? Ek is dan nou gelukkig. Sy het met God baklei. Jy kan nie toelaat dat dit weer met my gebeur nie, God! Ek verdien dit nie! Ek het mos al genoeg drama in my lewe gehad? Ek is mos nie ’n slegte mens nie?”
Sy weet nie hoe lank haar pity paartie aangehou het nie, maar toe die son begin sak, het sy geweet sy sal moet terugry. Sy het nie gefokus op die spitsverkeer deur die stad nie. Sy het op niks gefokus nie. Haar brein was stomp. Daar was niks waaraan sy wou dink nie want sy het geweet die vrees vir kanker sou alles oorheers.
Haar motor het outomaties koers gekies huis toe. Sy het eers weer gefokus toe sy op haar stoep sit en oor die stad tuur.
Sy het haar pyp gestop en stadig die rookbolle die lug in geblaas.
– Deur Martie Swanepoel. Foto: Fotolia (koszivu)