Van die oomblik wat Magriet bokant die wolke uitgekyk het op Kilimandjaro, het sy net een ding in haar kop gehad. Sy wou vlieg. Nie in ’n Boeing met lugwaardinne wat jou ’n keuse tussen ’n hoender of bief-maaltyd gee nie, sy wou op haar eie vlieg. Die Ikarus-ervaring het sy al agter die rug gehad met Stoffel en Klaus. Duur lesse geleer, hard geval toe die son die was van haar vlerke smelt en haar op ’n patetiese hoop selfbejammering laat beland het. Nee, sy wou self agter die stuurstang van ’n vliegtuig inskuif. Sy wou so dapper wees soos Amelia Earhart en haar lank vergete droom uitleef. Eintlik is dit haar ouma Grieta wat die saadjie vir die vliegdroom by haar geplant het, maar sy het dit al die jare as ’n onmoontlikheid weggeskuif in die vergetelheid.
“Ek wil vlieglesse neem,” het sy Erik ingelig op hul vlug terug van Tanzanië.
“Ek weet.” Hy het haar hand nog stywer vasgedruk.
“Hoe weet jy?”
“Want jy het dit al ’n paar keer vir my gesê. Toe ons nog jonk was. Op ons roekelose nagte van kuier. Ek kon toe al die opwinding en droom in jou oë sien. En toe het jy dit nooit weer gesê nie. Tot vandag.”
Magriet het met die jare gewoond geraak om haar drome weg te skuif. Geliasseer in die legger van, “Ag ek sal dit eendag doen … of nooit.”
“Miskien voel ek môre anders daaroor. Ek bedoel, dalk verander ek môre van plan.”
“Ek sal jou nie toelaat om dit te doen nie. Jy gaan vlieg.”
Magriet het met haar kop op Erik se skouer gelê. Sy het onthou hoe haar ouma altyd verlangend gekyk het as vliegtuie oor haar huis vlieg. Daardie groot liefde wat haar ouma verloor het toe sy ’n jong meisie was, dis hy wat haar geleer het dat daar nie perke is net omdat sy ’n vrou is nie. As WAFF-meisie tydens die Tweede Wêreldoorlog het ouma Grieta vergeefs probeer om aansoek te doen om een van die gelukkige meisies te wees wat militêre toerusting en soldate na gevegsfronte vlieg. Sy het dit nie gemaak nie en moes tevrede wees met die werk as valskermpakker.
Na die oorlog was daar vir ouma Grieta nie sprake van vlieglesse nie. Sy moes gaan werk om die familie te help oorleef in die brandarm na-oorlogse tyd. Later het sy die droom maar laat vaar.
“Ek gaan leer vlieg om my ouma Grieta se droom te laat herleef. Om my eie droom weer te laat leef. Ek sal deurdruk. Ek belowe.”
“Ek weet jy sal deurdruk. Jy is ’n tawwe meisie. En dié keer, keer niks jou nie. En, jy het mos vir my as jou wingman. Ek sal ’n ogie oor jou hou.”
’n Week na hul terugkeer, het Erik haar vliegskedule voor haar neergesit. Hy het ’n vliegskool gekontak, ’n instrukteur gereël en ’n legger met al die nodige prosedure en dokumente saamgestel.
“Die eerste stap vir jou vlerke.”
“Ek het koue voete.”
“Nee, jy het nie.”
“Dit gaan vreeslik duur wees.”
“Vat Stoffel se geld.”
Sy moes mediese ondersoeke ondergaan voor sy haar eerste les kon kry.
“Hmm, jy is lekker fiks,” het die dokter haar gekomplimenteer.
“Ek het pas Kilimandjaro uitgeklim.” Sy was trots.
“Sjoe, dis indrukwekkend. Ek sien jy het ’n dubbele mastektomie gehad? Geen verdere probleem nie? Wanneer laas was jy by jou onkoloog?”
Die gereelde besoeke aan die onkoloog was ’n aaklige noodsaaklikheid vir Magriet. Sy het nie die slapies getel voor haar volgende besoek nie.
“’’n Maand? Hy sal so trots wees op wat jy bereik het. Sjoe, dit wil gedoen wees.”
Sy afskeidsgroet het haar effe onrustig gemaak.
“Moet nou nie vergeet van jou besoek aan jou onkoloog nie. Vra sommer hy moet na die moesie op jou rug kyk. Liewer veilig speel, né?”
Magriet het daardie aand in die spieël na die moesie gekyk. Sy het in jare nie daarna gekyk nie. Sy het haarself getroos dat dit net groot lyk in die badkamerlig. Die dokter sou tog dadelik iets daaraan gedoen het as hy bekommerd was?
Sy het besluit dat die moesie vergete sal wees tot sy haar onkoloog besoek. Sy wou dit nie met Erik of Mariaan bespreek nie.
Erik het saam met haar gery vir haar eerste les by die vliegskool by die Randse Lughawe. Die opwinding het in ’n knop op haar maag kom lê toe sy na die vliegtuigloods aanstap.
“Ek wonder waar is jou instrukteur?” Magriet het haar verbeel selfs Erik se hand voel sweterig.
“Daar agter staan ’n outjie. Kom ons vra hom.”
Die jong outjie was toe die instrukteur. Magriet het gewonder of hy al oud genoeg is om ’n motor te bestuur.
“Hoe lank vlieg jy al?” het Erik die ys gebreek.
Bobby Jansen het gelag.
“Toemaar, mense vra my gereeld of ek oud genoeg is om te vlieg. Wees gerus, ek is een van daardie mans wat altyd soos ’n seuntjie sal lyk. Voel, my baard is al hard.” Magriet het die uitnodiging aangeneem en aan die stoppels op Bobby se ken gevoel. Hulle drie het lekker gelag, maar Magriet het ’n intense behoefte gekry om haar pyp uit haar handsak te haal en ’n stopsel te rook. Erik kon sien sy is effe ontsenu en het haar op die voorkop gesoen.
“Dit gaan nie so erg wees nie. Kyk, ek het vir jou ’n foto’tjie van ouma Grieta in ’n hangertjie laat monteer. Dra dit om jou nek dan vlieg sy saam.”
Bobby het ’n innemende geaardheid gehad en haar dadelik laat ontspan. Hy het grappies gemaak en sy het van die manier gehou wat sy bruin oë vonkel as hy van sy vrou en seuntjie praat. Daar was ’n foto van die mooi rooikop vrou en die bruin-oog peuter teen die instrumente-paneel vasgeplak.
“Hulle vlieg elke keer saam,” het hy trots vertel.
Sy het vir hom haar nuwe hangertjie met ouma Grieta se foto op gewys.
“Sy vlieg ook saam.”
Toe vertel sy hom van ouma Grieta se droom wat nou hare geword het.
Omdat sy ’n neuroot is, het sy alles van die Cessna 172 se kontroles op die internet nagegaan en uit haar kop geleer.
“O, ek sien, ons het hier ’n Amelia Earhart in wording!”
“Net so lank jy my nie ook in die Pasifiese oseaan laat neerstort nie. Maar jy is reg, sy is een van die sterk vroue wat my inspireer. En my ouma Grieta.”
“En daai kwaai boyfriend van jou wat my die leviete voorgelees het.”
“Erik? Wanneer?”
“Hy het my goed laat verstaan jy is ’n kosbare vrag. As ek jou iets laat oorkom, is dit tickets met my!”
Dit het Magriet ’n warm gevoel om die hart gegee. Dit was lekker om te weet sy is vir iemand kosbaar. Lekker om geliefd te voel.
Halfpad deur die vlug het Bobby haar die stuurstok gegee.
“Toe Amelia, wys wat jy kan doen!”
“Is jy mal? Ek kan nog nie!”
“O ja, jy kan!”
Vir ’n paar minute was sy in beheer van die Cessna. Gauteng het onder haar verbygevlieg soos ’n reuse legkaart. Die wolke het knus in die middaglug gehang.
“Sien, dit was jou eerste groot stap om jou vlerke te kry. Jy is ’n natural!”
Haar bene het gebewe toe sy oor die aanloopbaan na Erik stap.
“Ek het gevlieg! Ek het self gevlieg!”
Erik het haar vasgedruk.
“Dis reg, Grietjie, jy kan vlieg. Ek het mos lankal gedink jy het vlerke.”