Magriet se gemoed het tydens die tien dae klimtog van “gemoedelik” na “gefrustreerd’’ na ’’grommerig” gewissel. Reeds op dag een wou sy Erik verwurg, soos sy reeds voor die tyd aan Mariaan voorspel het. Sy het haarself geken, en sy het Erik geken. Sy het geweet die eise wat die berg gaan stel, sal hul maandelange voorbereiding na ’n piekniek laat lyk. Sy het geweet hoe haar sonnige geaardheid kan kwyn as sy moeg raak. Erik, het sy geweet, is by tye ’n beheervraat en met sy obsessie dat hulle klimtog as paartjie saam ’n sukses gaan wees, het sy geweet, gaan die vonke teen die hoogste bergpieke van Afrika spat.
Dit was na die eerste paar uur ook so. Weg was die gawe ou saam met wie sy maande tevore rustig deur die natuur gestap het. Hy het binne ure na hulle eerste stapsessie van “gaaf” na “generaal” verander. Hy het haar herinner om haar voete met die spesiale doepa te smeer wat blase moet keer. Hy wou haar (seker die honderdste keer) wys hoe om haar veters reg vas te maak. Hy het elke tien minute ’n waterbottel onder haar neus gedruk … en dan was daar sy obsessie met sonskerm en handeroom!
Magriet het ’n klein dagboekie saamgeneem waarin sy haar gedagtes elke aand neergeskryf het.
By die eerste dag het sy geskryf: “Ek weet nie of ek 10 dae saam met Erik teen die berg gaan aanhou sonder om hom te vermoor nie. Die troue is dalk nie so ’n goeie idee nie. Ek weet nie of ek geduld het met sy beheer-obsessie nie.”
Hulle groep het uit 10 klimmers bestaan. Met die ken-mekaar tydens die voorbereiding het Tori Astor, ’n jong weduwee van Texas, opgedaag om Magriet se irritasievlakke nog verder te laat styg.
Tori was blond (hoewel Magriet getwyfel het dat dit eg was), bruingebrand en (in Magriet se opinie) brandend van begeerte om man nommer drie op die berg te vang. Alle mans, hubaar of nie, was duidelik in haar visier, het Magriet haar suur gestereotipeer. Tori het die mans gevlei en geflirt en Magriet het waargeneem hoe die mans elkeen ’n aanval van ridder-sindroom kry. Die manne was skynbaar oorgretig om Tori te hulp te snel as sy net die woorde “oh, darling, will you …” uiter.
Aletta, ’n Griekse vrou, het haar Carlo dadelik luidkeels ingelig dat hulp aan die damsel in distress van Texas verbode terrein vir hom is.
Magriet het waargeneem dat Erik ook vreeslik gewillig is om Tori te hulp te snel as sy haar stemmetjie dun maak soos ’n onskuldige dogtertjie. Laasgenoemde episode was juis dit wat daardie aand Magriet se dagboek-inskrywing oorheers het.
“Ek het my nog altyd verstom aan hoe party vroue hulpeloos raak en met klein-dogtertjie-stemmetjies begin praat as mans in die nabyheid is. Wat my nog meer verstom, is dat mans daarvoor val. Dis asof hulle gevlei voel as sulke vroue hulle hulpeloos met fladderende wimpers aanstaar. Erik is beslis een van haar teikens. Sy het klaar uitgevra na sy beroep. Ek dog ek byt die binnekante van my wange deur toe sy hom vertel hoe sexy sy lang maer mans vind. Hy het natuurlik geblom voor haar aanslag. Nee wat, ’n huwelik met Erik lyk na ’n skraal moontlikheid. Alle mans is maar dieselfde.”
Die toiletgeriewe by die kampe teen die berg het uit sementputte in die grond bestaan. Mens moet jou balans én mik ken as jy oor die gat hurk. Magriet het geknor toe sy die eerste keer haar eie voete raak pieps. Sy het galbulte uitgeslaan van gril. Erik het gesê sy moet haar regruk want die berg is nie ’n plek vir sissies nie. Sy was woedend vir hom. Gelukkig het die ondersteuningspan ’n draagbare toilet saamgedra, maar tot al die vroue se irritasie was dit Tori wat die toilet die meeste beset het. “Sweerlik om haar grimering op te knap,” het Magriet met ’n wrewel in haar dagboekie gewonder. “Ek kan nie glo dat daai vrou op hierdie moordende klimtog elke dag perfek gegrimeer is nie. Maar Aletta sê my sy glo dis permanente grimering wat die Texas Roos so laat blom. En daai wimpers! Ek glo dis vals. Aletta sê sy gaan spesiaal op Tori se wimpers spioeneer.”
Daar was aande wat die tweeman-tentjie te klein gevoel het vir haar en Erik. Sy het so ver as moontlik van hom probeer lê.
“Ek probeer jou net help, Grietjie. Ek hou daarvan om jou te help,” het hy een aand probeer witvoetjie soek.
“Gaan help vir Tori. Sy hou mos daarvan om gehelp te word.”
“Julle vroue is mislik met Tori. Sy het eintlik ’n goeie hart.”
“Dis waar … ek kan elke keer haar goeie hart sien as sy haar hemp so laag oopknoop.”
Erik het ’n grappie probeer maak oor Tori se boesems wat die manne motiveer, maar Magriet se humor het verdwyn hoe hoër hulle bo seespieël geklim het.
Sommige dae het hulle twee tot drie uur geklim en dan eers geakklimatiseer en sommige dae was die klim ’n moordende agt uur.
Tori was natuurlik die een wat die hardste gekla het oor die kos wat die ondersteuningspan voorsien het. Sy het ook gekla oor die toestand van die kampe waar hulle moes oornag.
“Drama queen,” het Aletta agteraf by Magriet geskinder.
“Die arme mens sukkel,” het Erik vir die Texas Roos geskerm. Magriet het haar weer vererg. Elke woord wat uit Erik se mond kom, het haar geïrriteer teen die berg.
“Ons verhouding gaan nooit hierdie berg oorleef nie,” het sy in haar boekie geskryf. “Ek moes maande voorberei sodat ek gereed kan wees vir die klim. Wat het Tori gedink? Hierdie is nie ’n tog wat poppies soos sy behoort aan te pak nie.”
“Nie alle vroue is so taai soos jy nie, Grieta,” was die woorde waarmee Erik finaal Magriet se lont aangesteek het.
“Nou maar gaan slaap vanaand voor haar tentjie sodat jy haar kan beskerm!”
Daardie aand het Magriet die tent voor Erik se neus toegerits. Hy het ’n uur lank dikbek buite gesit voor sy hom laat inkom het. Toe het sy moedswillig haar rug op hom gedraai.
“Nag, Grietjie,” het hy probeer vrede maak. Magriet het hom kil geïgnoreer.
Die stappers het nie swaar sakke gedra nie. Daarvoor moes die ondersteuningspan sorg. Elke stapper moes net sy eie dagpak en reënjas dra.
Die groep het die tog na die hoogste piek in die nag aangepak. Hulle het net voor middernag op die laaste tog vertrek en beplan om die volgende oggend teen agtuur die piek te bereik.
Die hoogste piek van die berg het Magriet vir dae intimiderend gekoggel. Kort voor hulle vertrek na die piek het sy in die tentjie ingeglip en haar pyp uitgehaal. Als was skielik te veel vir haar. Sy het snot en trane gehuil en aan haar pyp ge-puff asof haar lewe daarvan afhang.
Erik het by die tent ingestorm.
“Ek dog ek ruik kersietwak! Hoe kan jy? Hemel, Grieta, ek kan nie glo jy het daai ding saam gesmokkel nie!”
Magriet het net voort gesnik en ge-puff.
Toe bars haar wal.
“Ek bly net hier. Jy kan die volgende nege uur alleen klim. Jy en Tori. Jy kan haar handjie hou!”
Sy het die tentjie blou gerook en Erik het begin hoes.
“Jy gaan ons altwee longkanker gee!”
“Ag, ek kan nou maar doodgaan. Ek gaan net hier op die berg sit tot ek vergaan.”
Magriet het gehuil en Erik het getroos. Na ’n ruk het hy van pure moedeloosheid saam aan die pyp ge-puff.
“Ons sal saam bo uitkom, Grietjie. Ek en jy. Al moet ek jou dra.”
Magriet het oorgegee en teen Erik se bors haar hart uitgesnik. Toe die groep gereed maak om te vertrek, het hy Magriet se hand geneem.
“Kom, ek weet jy kan dit doen.”
Sy het gewillig gevolg.
Hoe hoër hulle geklim het, hoe vlakker het hulle asemhaling geword. Die gidse het kort-kort seker gemaak almal kan die lugdruk hanteer.
Toe Tori in trane uitbars en aankondig sy kan nie meer nie, was dit Magriet wat langs haar gaan staan het. Sy het haar arm om die Texas Roos se smal skouertjies gevou en haar aangemoedig. (Sy het natuurlik naby genoeg probeer staan om daardie lang wimpers te kan inspekteer. Sowaar! Vals wimpers op Kilimanjaro!)
Tori het Magriet vertel dat sy die berg kom uitklim het om aan haarself te bewys sy is nie so nutteloos soos haar eksman gesê het sy is nie. Hy het haar emosioneel afgekraak, het sy vertel. Na die egskeiding het sy haar troos in die gimnasium en by skoonheidsalonne probeer kry.
“Arme Tori. Dra jy haar laaste pakkie. Anders gaan sy dit nie maak nie,” het Magriet gesê toe sy Tori se pakkie in die verbaasde Erik se hande stop.
“O, ek dog jy haat haar!”
“Bly stil en dra haar pakkie. Kan jy nie sien die vrou sukkel nie?”
Erik het gedwee met die pakkie aangestap.
Klimmers wat reeds die oggend die piek bereik het, het verby hulle gestap in hulle aftog. Hulle was opgewonde oor die grootsheid van die gebeurtenis. Dit het Magriet ekstra krag gegee.
Met die laaste deel van die klim het die son begin opkom. Hulle het bokant die wolke uit geklim.
Erik het Magriet se hand geneem.
“Kyk net, Grieta. Dis ’n gesig wat ek en jy altyd saam sal kan onthou.”
Magriet het oor die wolke gestaar en met God gepraat.
“Spaar my asseblief vir hierdie wonderlike man. Dankie vir die voorreg om hom te kan liefhê … en askies dat ek so knorrig op die berg was.”