Erik se planne vir Kilimanjaro was groot. By tye het dit vir Magriet te groot geklink. Erik was goed met groot planne. Magriet het ’n meer ontspanne idee van vakansie gehad. Iets wat ’n sonsambreel, ’n skemerkelkie en ’n ysblou see-uitsig insluit. ’n Klimtog, wat vir haar al meer moordend klink, teen die hange van Afrika se hoogste berg, is nie haar idee van ontspan nie. Maar Erik het iewers op sy swerftogte op Google ’n storie raakgelees van ’n paartjie wat hul verhouding wou verstewig met ’n 10 dag klimtog teen die berg. Teen ’n helling van ’n bietjie meer as 19 000 outydse voet!
Gewapen met ’n pak foto’s en brosjures van die berg en die klimtog het Magriet en Mariaan die week voor die klimtog vir oulaas ’n cappuccino by Olivia’s gaan drink.
“Dit is die romantiesste ding wat ek nog gehoor het,” het Mariaan met ’n kies vol kaaskoek gesê. Magriet het geknor, “Nou hoekom gaan jy nie saam met Erik nie?”
“Dis op jou wat hy al die jare verlief is. Ek het altyd gedink daar is ’n chemiese reaksie tussen julle.”
Magriet wou meer hoor van haar vriendin se kamma-aanvoeling van al die jare.
“Ek het eers gedink ek verbeel my, maar toe het ek hom begin dophou. Ek het jou beny dat ’n man met soveel deernis na jou kon kyk. Nie eens Stoffel het so na jou gekyk nie.”
Laasgenoemde het Magriet geglo. Na jare het sy besef dat Stoffel met baie meer intensie na ander vroue gekyk het as na haar.
Die gedagte het haar summier laat besluit om nog ’n stuk koek te bestel.
“Jong, is jy seker Vince en Erik gaan dit goedkeur as jy nog koek eet? Ek meen, hulle twee het jou op ’n streng oefenprogram?”
Dis nie wat Magriet wou hoor nie. Haar kop was nog nie reg vir die berg nie.
“Daai berg gaan my doodmaak! Jy weet hoe militaristies Erik kan raak as hy eers ’n ding in sy kop het. Hy gaan my soos ’n drilmajoor teen die berg uitdryf. Ek dink hierdie ding gaan niks vir ons verhouding doen nie. Jy weet hoe mislik kan ek raak as ek moeg en gefrustreerd is.”
“Ag ontspan, kyk hier, hulle sê 25 000 mense het al die berg uitgeklim. O, ek sien net twee derdes is suksesvol, maar ek het volle vertroue in jou en Erik.”
Met die maande se voorbereiding het Magriet by tye op haar duur krone gekners. Sy het gevoel haar menopousale vlakke gaan haar humeur laat opvlam. Maar daar was ook tye wanneer sy die voorbereiding geniet het. Al die ekstra kilogramme aan haar lyf het verdwyn. Haar arm-flappe was weg en haar magie plat. Sy het die staptogte deur die natuur geniet en saans om die kampvuur styf teen Erik lepel gelê. Met Erik se arm om haar het sy veilig gevoel. Hy was sag met haar as sy moeg geraak het. Hy het haar laat glo aan haarself en die uithouvermoë van haar lyf. Na haar kankerbehandeling het sy nie gedink haar lyf sal ooit weer normaal kan funksioneer nie. Sy was nie eens op skool of universiteit so fiks soos na die voorbereiding vir die berg nie.
Erik het hul rugsakke met militêre presisie gepak. Sy beplanningslysie is afgetik, hul vlugte, verblyf en die toergidse bevestig.
’n Dag voor hul vertrek het Erik gebel.
“Het jy nog daai mooi rok wat ek vir jou gekoop het?”
“Ja, wil jy hom verkoop? Het jy geld nodig? Askies dat ek dit nooit aangetrek het nie.”
“Mmm, noudat jy dit noem. Die ding is so goed soos nuut en ek behoort hom nog te kan terugruil. Ek het nog die strokie. Maar, sê my, pas jy nog in die ding?”
Magriet het haar dadelik vererg.
“Ek het beslis nie gewig opgetel nie! Watse stoepid vraag is dit?”
Erik het geskater.
“Ek dog ly lyk effe voller om die boud!”
Dit het vir Magriet gevoel of stoom by haar ore uitborrel.
“Daardie lewensversekering wat jy uitgeneem het vir ons trippie? Jy sê ek is die begunstigde? Jy weet mos ek het ’n nare reputasie met die eis van lewensversekering! Maar om jou onsensitiewe vraag te beantwoord, ja, ek glo ek gaan nog in die rok pas!”
“Nou maar dan is dit goed. Trek hom aan, ek kom jou sewe-uur vanaand haal.”
Toe Erik voor die botaniese tuine stilhou, het Magriet begin wonder oor die wysheid van die rok. Die restaurant by die tuine was nie die soort waarheen jy ’n duur nommertjie dra nie.
’n Gholfkarretjie het hulle by die hek ingewag. Hulle het in die naglug deur die bome gery tot by die waterval. Daar was ’n tafel vir twee gedek. Kerslig, vonkelwyn, ’n kelner en selfs ’n saksofoonspeler!
“Ek dog ek sal my meisie bederf voor ek haar ’n berg laat uitklim.”
“Jy weet, Erik, jy het my nog nooit gevra om jou meisie te wees nie. En ja, ek bekommer my oor jou intensie met die klimmery. Jy is immers my begunstigde op my berg-polis!”
Erik het haar in sy arms geneem.
“Dans met my, Grieta, ek het my safety boots aan! Ek het my tone nodig vir die berg!”
Die saksofoonspeler het Moonligt Serenade gespeel en sy en Erik het rustig oor die grasperk gegly sonder dat sy sy tone raak trap. Sy hand was sag op haar kaal rug en sy ken het gemaklik op haar kroontjie gerus.
Toe die saksofoonspeler Fly Me to the Moon begin speel, het Erik haar tot by die tafeltjie begelei. Hy het vir haar vonkelwyn ingeskink en sy Frank Sinatra-impersonation gestand gedoen.
Fly me to the moon
Let me play among the stars
Let me see what spring is like
On a, Jupiter and Mars
In other words, hold my hand
In other words, baby, kiss me
Fill my heart with song
And let me sing for ever more
You are all I long for
All I worship and adore
In other words, please be true
In other words, I love you
Magriet het vir ’n oomblik vergeet van haar vrese vir die berg.
Sy het Erik dopgehou en geweet sy het niemand nog ooit so liefgehad soos sy hom op daardie oomblik het nie.
Met die laaste strofe van die lied het hy haar hand geneem en terwyl hulle gedans het, het haar voete op sagte wolke getrap.
“Sal jy met my trou, Grieta? Sal jy vir ewig en altyd net myne wees?”
Magriet het gevoel hoe die warm trane van geluk oor haar wange loop.