Na ’n week op Vince se program wou Magriet, en haar lyf, opgee. Geen herinneringe aan die lyf wat sy gehad het in die dae van haar Jane Fonda-pakkie of die gedagte aan Erik op sy knieë op die hoogste piek van Kili het haar aangespoor om aan te gaan nie. Maar sy het.
Na ’n maand het sy nagmerries begin kry oor hoe sy die berg uitklim met juffrou Siebies al gillend op haar hakke.
Sy het soms in die kleedkamer in trane uitgebars want sy wou nie vir Vince en Erik wys sy is verder as haar limiet gedryf nie.
Sy het Vince na elke sessie met meer passie gehaat. Hy het nie een keer simpatie getoon of haar aangemoedig nie. Sy was oortuig daarvan dat hy daarop uit is om haar te breek.
Erik het energiedrankies en ’n nuwe versapper aangedra. Hy het vir haar stapskoene gekoop wat waarskynlik net so veel gekos het as ’n luukse vakansie op ’n tropiese eiland. Sy het menige dag gewens Erik wil aankondig dat hy net ’n grappie gemaak het oor die berg en dat hy haar op ’n idilliese wit strand gaan vra om te trou. Sy het haar ook voorgeneem om nooit ooit weer haar emmerskop-lysie-voor Erik te noem nie.
Vince het hulle soos twee atlete afgerig. Hy het hulle gemeet, geweeg en soos ’n sersant-majoor elke tree, opstoot en strek-sessie getel.
Magriet het haar duur krone byna deurgekners want sy wou meer as een dag haar woede op hom en Erik uitgil. Sy was moeg, gedaan en moedeloos. Sy was nie meer lus om te bewys sy kan oor haar limiet gaan nie. Sy wou net rus. Haar voorneme om Erik te verlei, het tussen die sweet en trane verdwyn. Pleks van passievolle vrysessies het hulle mekaar se seer spiere ingevryf. Pleks van boekettraube het hulle proteïen-skommels gedrink.
Vince moes gesien het sy is by breekpunt, want hy het aangekondig dat hulle ’n naweek moet rus voor hulle weer met die program aangaan. Magriet het haar gereed gemaak om die hele naweek in die bed te bly en soetsappige ou liefdesflieks te kyk. Sy was lus om liters roomys te eet en om heeldag in haar nagklere rond te loop. Sy was beslis nie lus om vir Erik by haar planne in te sluit nie. Sy wou ’n hele naweek net vir haarself hê.
Sy het die Vrydag ’n voorraad sjokolade en roomys gaan koop en ’n paar uur in ’n skuimbad gelê en, uit rebelsheid, lekker gekry omdat sy nie haar beenhare hoef te skeer nie. Teen nege-uur die aand het Erik se gebruiklike WhatsApps opgedaag. Sy was eintlik vies dat hy nie eens vra na haar planne vir die naweek nie.
Teen Saterdagmiddag was sy al moeg vir rondlê en flieks kyk en het sy ’n allemintige sooibrand van al die soetgoed gehad. Na ’n lang, diep middagslapie het Erik haar hekklokkie gelui. Sy het vervaard ’n sweetpakbroek aangetrek en haar hare in toom probeer druk. Sy het ’n stuk tandepasta in haar mond gedruk en Erik se ontydigheid verwens.
Hy het haar vasgedruk en in die nek gesoen.
“Vanaand eet ons steak en drink baie wyn. Ons gaan sit in ou Stoffel se jacuzzi en na die tyd masseer ek elke pyn in jou spiere weg.
Al waaraan Magriet kon dink, was haar lang beenhare en deurmekaar slaapkamer. Sy wou Erik by die deur uitboender en sê hy moet oor ’n week terugkom as haar brein en lyf gerus het … en as haar beenhare geskeer is.
Maar haar hart het haar nie toegelaat nie. Dit het begin bons elke keer as Erik lag dat die plooitjies ’n netwerk om sy oë vorm. Dit het ’n paar slae gemis as hy haar terloops vasdruk.
“Grietjie, vanaand is dit jou aand vir ontspan. Gaan tap vir jou ’n snoesige borrelbad terwyl ek die steak braai. Dan trek jy daai sexy linnerok aan. Die een …”
“Ja, ek weet, die een wat jy my verbied het om hof toe te dra.”
Hy het gelag.
“Ja, daardie een wat my die bewerasie gegee het!”
Magriet was dankbaar dat Erik haar so goed ken, dat hy geweet het sy voel sy is onkant betrap. Sy het haar beenhare geskeer en haar lyf geolie. Sy het haar bed met spierwit linne oorgetrek en parfuum op die kussings gespuit.
Erik het die steak gebraai net soos sy daarvan hou. Hy het dit in dun snytjies gesny en ’n glas yskoue boekettraube voor haar neergesit. Hy het haar ’n lekker growwe baard-soen in die nek gegee.
“Jy het my verbaas hierdie maand, Griet. Ek het geweet jy het dit in jou, maar Vince het jou verder gedryf as wat ek gedink het jou lyf kan hanteer. Ek is trots op jou. Ek het gehoop die Kilimanjaro-plan sal jou help vergeet van al die trauma en spanning.”
Magriet het skielik besef dat Erik reg is. Sy het in weke nie aan Stoffel of die vernederende ervaring met Klaus gedink nie. Sy het haar lyf gevoed en geoefen. Sy moes aan haarself beken dat sy in jare nie so goed gevoel het nie.
Erik het ’n heildronk opgestel op die maand wat verby is. Magriet het haar glas gelig, “En op die volgende twee maande!”
Skielik het sy uitgesien na nog twee maande van hel onder Vince se regime. Sy kon nie wag om saam met Erik die berg uit te klim nie.
Na ete het Erik haar in sy arms geneem en stadig met haar gedans. Hy het sy eie weergawe van Robbie Williams se Something Stupid gesing:
I know I stand in line
Until you think you have the time
To spend an evening with me
And if we go someplace to dance
I know that there’s a chance
You won’t be leaving with me
Then afterwards we drop into a quiet little place
And have a drink or two
And then I go and spoil it all
By saying something stupid
Like I love you
Sy het met haar kop teen sy bors gerus en na die dreuning van sy stem geluister. Sy was bly oor die stadige pas waarmee Erik haar die hof maak. Sy het geweet, eendag gaan hulle nog lag oor die lawwe, onbesonne aand van die wit kantoorhemp.