Vince is die man wat Erik aangestel het om hulle te martel voor hulle die berg aanpak. Hy het Kilimanjaro glo al vyf keer geklim en op sy lys oorwinnings was ook verskeie ander imposante bergpieke en aksieman-dinge.
Na deeglike mediese ondersoeke het die eerste sessie saam met Vince aangebreek. Magriet het gou besef Simon, die spiertier wat haar en Mariaan van ’n middeljarige hartaanval gered het (volgens hom), is ’n amateur as dit by sadisme kom. Vince was ’n genadelose kaalkop man wat beslis ’n militêre streep in hom het. Hy het Magriet van die eerste af oomblik geïntimideer en sy het dieselfde ou vrees gekry wat sy op skool in die liggaamsoefeningklas gekry het. Vince was net ’n erger weergawe van juffrou Siebies en sy het geweet sy gaan bloed sweet voor sy Erik se ring aan haar vinger kan kry.
“Ek gaan julle fisiek en geestelik voorberei. Ek waarsku julle nou al, Kilimanjaro is nie jou speelmaat nie. Gaan julle die lang of die korter roete kies?”
“Die korter ene!” Het Magriet dit byna uitgegil.
“Ek is bly jy klink so opgewonde, Mevroutjie,” het Vince met ’n tikkie verborge sarkasme gesê.
“Magriet. Noem my asseblief Magriet.” En daarmee het sy Vince laat verstaan dat sy haar nie gaan laat onderkry nie.
“Aërobiese oefeninge kom eerste.” Magriet was verlig. Sy het as student in ’n Jane Fonda-pakkie nogal die aërobiese oefeninge geniet.
“Mens noem dit kardio. Ek moet julle aërobiese metabolisme opbou. Dis sluit in draf, swem, fietsry en stap. Teen ’n stywe pas.”
Magriet het gewonder of sy nog in haar Jane Fonda-pakkie sou pas.
Vince het vertel hoe ’n sterk kardiovaskulêre stelsel hulle sal help om die beperkte suurstofvlakke op die berg beter te hanteer.
Magriet het haar verbeel Vince dink sy is te lig in die broek vir “Kili,” soos hy die berg liefdevol noem.
“Ek het al ouer en meer onfikse vroue afgerig om die berg te klim.”
Magriet het haar vererg.
“Ek dink Erik is onfikser as ek. Jy sal sien, ek is reeds fiks.”
“Mevroutjie, soos ek al vir baie ander voor jou gesê het, ’n paar sessies per week by jou voorstedelike gimnasium is nie genoeg om Kili uit te klim nie. Dis wat ek noem fiksheid vir huisvroutjies. Dis nie ware fiksheid nie.”
Magriet kon sien hoe Erik agter sy hand proes. Haar bloeddruk het die hoogte ingeskiet en sy was lus en kill Vince voor sy “Kili” aanpak.
“Ek het jou reeds gesê my naam is Magriet, en ek is nie ’n huisvroutjie nie. Kan ons maar begin met jou program?”
Magriet was na die tyd nie seker of Erik Vince opgesteek het om haar kwaad te maak nie, want Erik het maar te goed geweet dat ’n effense tikkie chauvinisme haar rooi laat sien. Sy het daardie oomblik besluit sy sal die snedige man wys wat sy kan doen, al kill dit haar.
Vince moes seker gesien het dat elke krul op Magriet se kop regop staan van ergernis en hy het hulle begin waarsku dat al is hulle hoe fiks, hulle nie Kili teen ’n te stywe pas moet klim nie.
“Daarvoor hoef jy nie te vrees nie,” het Erik gelag. “Ons wil darem ook die uitsig geniet!”
Magriet was sommer vir Erik ook de joos in en sy het nie geweet of hulle verhouding, wat naas die kantoorhemp-episode nog nie behoorlik afgeskop het nie, die drie maande voorbereiding gaan oorleef nie.
Met die laaste Park Run wat Magriet en Mariaan in die waas van hulle Simon-geïnduseerde-fiksheid probeer aanpak het, het hulle elk drie sessie by ’n fisio nodig gehad. Vince se aankondiging dat hulle drie keer ’n week ten minste 6-12 km moet hardloop voor hulle naastenby fiks is, het haar laat besef sy sal haar mediese fonds moet opgradeer en haar testament moet hernu.
Haar besluite is bevestig deur Vince se aankondiging dat hulle ook die spiere in hulle bene, maag en torso moet versterk.
“Lunges, squats, leg-curls, step aerobics, Kettle-bell rows … sit-ups …” Het Vince sy program afgerammel.
Sit-ups … sy het gevoel hoe haar handpalms begin sweet soos toe juffrou Siebies haar op skool deur op-sitte verskree het.
“Hoor jy Grieta? Ons moet so veel staproetes doen as wat ons kan! Lekker! Dit gaan wees soos toe ons aan die Voetslaan-klub op universiteit behoort het!”
Erik het beslis die verkeerde idee van ’n behoorlike staproete, het Magriet besef. Hulle sogenaamde stapklub op universiteit se aktiwiteite was nie juis iets wat mens as ’n volwaardige staproete kon beskryf nie. Hulle het gewoonlik so 5 km die bos ingestap en dan vir ’n week wyn gedrink en op hangmatte ontspan.
“Staptogte vir gemiddeld vyf uur op ’n slag op ’n ruwe terrein. Daar moet steil heuwels wees.”
Dit het nie gelyk of Erik ontsenu raak nie.
Vince het aangekarring oor die regte skoene wat ingestap moet word en uiteindelik by die geestesvoorbereiding gekom.
“Ek kan sien jy het ’n sterk wil, Mevrou … ee … Magriet. Ek waarsku julle nou al julle gaan ’n paar keer in die volgende maande, en selfs teen Kili se steiltes, lus wees om op te gee. Dan moet jy jou hakskene in die grond kan vastrap en aangaan. Jy moet in jou geestesgesondheid indelf vir krag.”
Magriet het gewonder of Vince weet hoe dit voel om beide jou borste te verloor. Hoe dit voel as die man wat veronderstel is om jou anker tot op jou oudag te wees, jou inruil vir ’n freshie. Daar was dae wat sy net onder haar duvet wou wegkruip, dae wat haar geestelike en fisieke reserwes uitgeput was.
“Jy moet groot eise aan jouself stel. Jy moet die opwinding voel as jy ’n marathon voltooi. Jy moet verder as jou limiet kan gaan. Wat mens nodig het voor jy Kili kan klim, is daardie krag wat mens moet uitgrawe as jy by die laaste paar kilometer van ’n marathon is en jy voel jy kan nie meer aangaan nie. Daardie krag wat jou gees en liggaam in ’n outomaat verander wat kan aangaan en oor die eindstreep hardloop.”
Magriet het presies verstaan wat Vince bedoel. Sy het al verder as haar limiet gegaan om die krag te kry om weer aan te gaan. Selfs verder as wat sy gedink het sy kon gaan.