Een nag net voor middernag het Erik gebel. Hy het geweet Magriet is nog wakker want sedert die romantiese aura hulle omhul, het hulle saans voor slaaptyd op WhatsApp gesels. Soos ’n ware jintelman het Erik ná die pizza-aand die romanse stadig gevat. Nie een kantoorhemp-episode het weer plaasgevind nie, al was Magriet al lus en druk hom vas en vry hom tot aan die anderkant van ekstase.
“Erik katrol jou stadig in,” het Mariaan oor die stadige romanse gelag. “Hy het jou aan die hoek en nou wil hy jou bietjie laat suffer vir jou dwalinge met Klaus.”
Klaus se hofsaak is vinnig afgehandel en hy en sy dwelm-maatjies is veilig toegesluit. Magriet het nie weer die hofsaak bygewoon nie, en ook nie die storie in die koerante gevolg nie. Die laaste wat sy haar eie naam aan Klaus s’n gekoppel gesien het, het die joernalis gesê sy wat Magriet is, is, soos die ander vroue wat Klaus beetgehad het, net skuldig aan naïwiteit. Magriet het haar effe vererg, maar sy het geweet dit is waar. Kenners noem die romantiese aanval wat sy met Klaus gekry het ’n rebound. Sy het lank oor die saak gedink en besef sy wou aan haarself bewys dat mans haar nog aantreklik vind nadat Stoffel haar gelos het. Na die drama met die dwelmsmokkelary het sy alles wat haar aan Klaus herinner in ’n krat gepak en by ’n liefdadigheidsorganisasie gaan aflaai. Die swierige rok met die swarofski-kristalle ook. Ongelukkig ook haar verfkwaste, pastelle en houtskool. Sy het al haar selfvertroue as kunstenaar verloor.
Nietemin, net voor middernag die aand het Erik Magriet se vaak verdryf met sy onthulling.
“Het jy nog jou emmer-skop-lysie?”
Na die dubbele mastektomie het sy ’n lys gemaak van dinge wat sy wil doen as sy weer kankervry is.
“Dis hier iewers, hoekom?”
Sy was lus en sê vir hom dat haar lysie intussen verander het en dat hy nou bo-aan haar lysie is. “Verlei vir Erik.” Dis wat nou heel bo aan haar lys van begeertes is.
“Kilimanjaro,” het Erik aangekondig. “Ons gaan hom uitklim!”
Magriet moes haar gedagtes van ’n nag van passie bekeer tot ’n prentjie van hoe sy natgesweet en windverwaai ’n berg uitklim saam met die man van haar drome.
“Kan ons nie net aan die voet van die berg gaan uitkamp en die majestueuse glorie van daar af bewonder nie? Met ’n glas wyn in die hand?”
Erik was ademant.
“Nee Griet, ons gaan vir hom uitklim. Ek en jy. Ek het vanaand besef dat ek en jy al groter berge as dit uitgeklim het. Nou gaan ons ’n simboliese klimtog aanpak. En as ons bo is, gaan ek jou op my knieë amptelik vra om te trou.”
“Is dit nie veronderstel om ’n verrassing te wees nie? Mans verras gewoonlik ’n vrou met ’n onverwagse huweliksversoek. Nou wil jy hê ek moet eers ’n berg uitklim voor ek ’n ring kan kry?”
Magriet het eintlik gevoel sy gaan hiper-ventileer van opgewondenheid, Erik het haar soort van gevra om te trou! Maar sy wou die gesprek lig hou.
“Grieta, ek het nie meer krag vir nog verrassings in my lewe nie. Ons is nie spring chickens nie. Ek sê jou sommer nou al ek gaan jou vra om te trou en om die groot vraag te vier, handel ons sommer een van die wense op jou emmer-skop-lysie af.”
“Erik, ek gaan nie meer die emmer skop nie! Jy moet onthou ek was vol chemikalieë gepomp toe ek die lys opgestel het. Dit moes my brein geaffekteer het want daar is geen manier wat ek so ’n wens sou maak as ek by my positiewe was nie.”
Erik het hom nie laat afsit nie.
“Jy was nog altyd gefassineer deur Kilimanjaro.”
“Dis ’n mooi berg en ek sal hom graag vanaf sy voetenent wil bewonder.”
“Nee, jy gaan hom uitklim. Saam met my. Ek het vanaand gelees dat dit deesdae ’n gewilde ding is vir ’n wittebrood.”
Magriet het ’n gaping gesien.
“Maar dit gaan nie ons wittebrood wees nie. Jy gaan my mos eers vra as ons bo is.”
Sy het soms vergeet Erik is ’n prokureur en hy het ’n antwoord op als.
“Ek het ander planne vir ons wittebrood.”
Magriet se brein was in versnelrat. Sy het probeer onthou watter avontuurlustige dinge sy nog op haar emmer-skop-lys geplaas het. Sy eis as sy dink op watter avonture Erik haar sal saamsleep. Sy wil beslis nie vir haar wittebrood met ’n slee deur die ys Suidpool toe strompel nie.
“Is ons nie al bietjie oud vir sulke avonture nie?”
Erik het klaar ’n lysie gemaak van wat hulle moet doen om hulle op die klimtog voor te berei.
“Oefen jy nog saam met Simon, die persoonlikheidslose spiertier?”
Magriet het tot haar verligting onthou dat Erik uiters onfiks is. Dis haar kans om hom af te sit.
“Dis hel voor mens fiks word …”
“Geen probleem,” het hy gekeer. “Ek sal vir ons ’n professionele ou kry om ons reg te ruk vir die berg. Ek en jy gaan hierdie ding reg aanpak.”
Dit was te veel inligting om te verwerk vir ’n vrou met ’n kop vol muisneste. Sy het besef sy en Erik het elkeen verskillende prioriteite vir die simboliese afskop van hulle verhouding. In haar rooskleurige gedagtes was daar ’n romantiese suite aan die voet van Kilimanjaro met ’n hemelbed en wit lakens wat met rooi roosblare bestrooi is. In haar prentjie het sy en Erik, vonkelwyn in die bed, die uitsig oor die berg geniet. In Erik se prentjie het hulle saam die berg uitgeklim en hul liefde op die hoogste piek aan mekaar verklaar. Sy het Erik goed genoeg geken om te weet sy gaan nie uit hierdie ding kom nie. As Erik gefokus is, is hy onkeerbaar.
“Grieta, ek gaan jou help om elkeen van jou drome te laat waar word. Jy beter daai lysie van jou soek sodat ons ons planne kan regkry. Daar is baie dinge om te doen, plekke om te besoek, en ons raak nie jonger nie.”
Magriet het daardie aand gedroom hoe sy en Erik die berg uitklim. In haar droom het Kilimanjaro meer gelyk soos die heuwel in The Sound of Music. In haar droom het sy soos Julie Andrews oor die groen heuwels gehuppel en gesing, “The hills are alive, with the sound of music …”
Daar was die volgende oggend steeds ’n lied in haar hart. Sy het geweet wat op haar wag. Sy het geweet wat sy wil doen. Sy sou Everest saam met Erik uitklim as dit moet.