Die aand van die boekettraube en Jamie se Pizza het toe heel ordentlik afgeloop … (lees hoofstuk 25 hier)
Magriet was op pad na Melrose Arch so senuagtig soos ’n tienermeisie op haar eerste date. Haar handpalms het gesweet en sy het vir die eerste keer sedert sy Erik ken gesukkel om die geselskap aan die gang te hou.
Sy het gedink sy ken Erik na al die jare baie goed, maar om hom in die rosige gloed van romanse te leer ken, was ’n opwindende nuwe avontuur.
Erik het hom skynbaar nie laat afsit nie. Hy het van sy gunsteling- goue oues in die kar gespeel en uit volle bors saamgesing. Met die Bee Gees se To Love Somebody het hy haar hand geneem en teen sy wang gedruk. Magriet het elke woord in Erik se gebroke bariton-stem ingedrink. Sy kon onthou hoe Erik en sy vriende by hulle koshuis kom serenade het en hoe van die manne die liedjie aan spesiale meisies opgedra het. Maar Erik het dit toe nooit aan haar opgedra nie …
There’s a light
A certain kind of light
That never shone on me
I want my life to be lived with you
Lived with you
There’s a way everybody say
To do each and every little thing
But what does it bring
If I ain’t got you, ain’t got?
You don’t know what it’s like, baby
You don’t know what it’s like
To love somebody
To love somebody
The way I love you
By die tweede vers het Erik ’n paar woorde gemis en tot aan die einde van die liedjie net saam met die koorgedeelte gesing.
“Kan ek confess, Grieta?” het hy na die liedjie gevra.
Hy het nie gewag op ’n antwoord nie.
“Mense weet dit nie van my nie, maar ek het ’n diep verborge romantiese streep. Hierdie liedjie … dit was altyd my spesiale liedjie vir my vriendin met die wilde krulhare en die mal sin vir humor. Van daardie dag wat jy saam met my oor die kaal beelde in die Griekse kultuurgeskiedenisklas gelag het, het ek geweet ons siele het ’n konneksie. Toe die prof ons uitjaag, het ek gewens ek kan jou vaspen en soen dat jou krulle nog wilder staan. Maar ek was toe nog ’n skaam outjie.”
Erik het al die jare graag met sy arm om haar skouer geloop, maar die Jamie Oliver-aand het haar hart ’n paar keer gebons toe hy haar op pad na die restaurant onder sy vlerk in hark.
Net nadat die eerste bottel boekettraube by die tafel gearriveer het, het Erik terloops haar hand geneem en ’n 100 watt elektriese straal het deur haar lyf gejaag. Sy het met ander oë gekyk na die man wat al duisende kere as vriend haar hand vasgehou het. Erik se naels was netjies gesny en sy vingers het klein blonde haartjies op gehad. Sy voorarms was seningrig en bruingebrand en het vir haar so goed gekontrasteer met die opgerolde moue van sy ewige wit hemp.
Dit was vir haar ’n openbaring toe sy besef sy het hom eintlik nog nooit in iets anders as ’n wit kantoorhemp of wit T-hemp gesien nie. Altyd ’n swart broek en grys das as hy op kantoor is. Na ure altyd ’n jean of kameelkleurige chino.
“Jy is eintlik ’n gewoontedier met jou kleredrag?” het sy die retoriese vraag gestel uit gebrek aan iets anders om te sê. Skielik wou sy elke woord oordink en heroorweeg voor sy met Erik praat. Sy was vies vir haarself oor die ontydige selfbewustheid. Sy wou so graag onweerstaanbaar sjarmant wees op haar en Erik se eerste romantiese afspraak.
“O, ek dog jy weet? Ek is totaal kleurblind. Ek bly by die veilige keuses. My ma het my al op skool geleer om te keer dat ek nie soos my pa die mees onvanpaste bont klere saam dra nie.”
Magriet het oom Jossie onthou as ’n boer met eksentrieke klere.
“So jy sien die wêreld net in swart en wit?”
Erik het geskater.
“Nee, net in die hof. In my gewone lewe is als in skakerings van grys.”
“Jou oë het grys spikkels.” Sy was dadelik spyt oor die intieme aanmerking.
“En joune kruip weg agter lang wimpers. Dis die eerste ding wat ek van jou raakgesien het toe jy in ons eerstejaar langs my in die Griekse kultuurgeskiedenis-klas kom sit het. Dit, en, jy het soos my ma se geel rose geruik wat sy desperaat in die Noord-Kaapse hitte op die plaas aan die lewe gehou het.”
Magriet het probeer onthou wat haar eerste indruk van Erik was. Sy onthou sy lang rankerige lyf en die eienaardige gewoonte wat hy steeds het om ’n potlood met sy duim en voorvinger in die lug te skiet en perfek te vang terwyl hy konsentreer. Hy doen dit steeds. En sy onthou hoe sy en Erik op universiteit kon dans. Hoe hy haar kon laat tiekiedraai en soms met die een arm tot laag op die dansvloer kon laat sak.
“Jy was in my eerstejaar die mooiste meisie wat ek nog gesien het.”
“Erik, jy het van Kenhard af gekom. Daar was nie baie meisies nie.”
Hulle het saam gelag en Erik het nog wyn geskink. Magriet was selfbewus omdat die man wat sy al die jare as haar vriend gesien het, haar destyds eerste op haar voorkoms geoordeel het.
“Hoekom het jy my nooit uitgeneem nie?”
“Natuurlik het ek!”
“Ek bedoel op ’n date soos ’n fliek en hande vashou en so?”
Erik het vooroor gebuig en haar hare deurmekaar gewoel, soos hy altyd graag doen.
“Op universiteit was daar vry-meisies, en … trou-meisies. Ek het visioene gesien hoe ek en jy sal trou en ’n string kinders hê.”
Magriet moes aan haarself beken dat sy nooit sulke gedagtes oor Erik gekoester het nie.
“En, jy het altyd die een of ander skarminkel beetgehad. En toe daai bleddie Stoffel. Toe dog ek, ek sal maar hier van die kant af eerder jou beste vriend wees as om jou te verloor.”
“En al daardie meisies wat jy op universiteit uitgeneem het? Sanet? Jou huwelik?”
Erik het gemaak ergerlik teruggesit.
“Ek was smoorverlief op jou, maar ek was darem nie lus om ’n monnik te word nie! Og, en daar was darem ’n paar mooi girls in jou koshuis hoor! Hoekom dink jy het ek so baie by jou kom kuier? Jy weet mos … Vry-meisies. En toe het die liefde my ook uiteindelik getref. Ek was lief vir haar. Sy was ’n trou-meisie, soos jy. Mens kan in jou leeftyd ander mense ook liefkry. Ons was eers gelukkig …”
Erik het nog wyn ingegooi en sy het gewens sy kon die seer van ’n mislukte huwelik uit haar hart en uit Erik se hart neem.
Sy het nooit voorheen opgelet dat sy oë donkerder raak as hy hartseer raak nie.
Erik het ’n paar lawwe grappies gemaak om hulle aandag af te lei van hul egskeidings.
Hoe is dit dat sy nooit raakgesien het dat hy ’n klein dimpeltjie langs een mondhoek het wat verskyn as hy so skaam skeef glimlag nie?
Op pad na haar huis het haar handpalms weer gesweet. Sy het gewens sy en Erik het weer te veel boekettraube gedrink en dat sy nie aan die werklikheid hoef te dink nie. Sy was skielik skaam vir Erik. Bang hy sien haar selluliet en die letsels van haar mastektomie.
Maar Erik was ’n gentleman.
By haar voordeur het hy haar in sy arms geneem en styf vasgedruk. Sy kon ’n bewing in sy lyf voel wat sy nooit voorheen ervaar het as hy haar ’n drukkie gee nie. Toe het hy haar op haar kroontjie gesoen en weggestap.
Sy was verlig, effe teleurgesteld … en holderstebolder verlief.