Vir weke na Erik se terugkeer uit Londen was daar ’n ongemaklike stilte tussen hulle. Magriet het van sjokolade, roomys en kersietwak geleef. Sy het weggebly van wyn, veral boekettraube. Dis die oorsaak van haar dilemma, het sy gemeen. Sy het snags rondgerol en aan die gemors van haar lewe gedink. Sy het die wit hemp soos ’n trooskombersie vasgehou en geween oor die ware liefde wat nooit gaan wees nie en die jarelange vriendskap wat nooit weer dieselfde gaan wees nie. Dit was ’n ellendige tyd.
Sy het ’n paar keer gedreig om Erik te bel. Maar haarself dan blosend bedink. Sy het deur ou foto-albums geblaai en gekyk na die groot liefde onder haar neus wat sy al die jare misgekyk het. Soos ’n verliefde skoolmeisie het sy na foto’s gestaar waar sy en Erik lawwe goed aanvang. Foto’s waar hy haar lomp voete op ’n dansbaan probeer beheer, foto’s war hulle soos Hippies aangetrek is vir ’n partytjie. Hul gradeplegtigheid-foto’s. ’n Hartseer foto waar hy haar troukar bestuur.
Maar een oggend moes sy hom bel. Sy het nie ’n keuse gehad nie. Sy het wakker geword toe ’n hele polisiemag vyfuur die oggend by haar huis arriveer met ’n lasbrief vir haar inhegtenisname. Dit was die dwelmeenheid en hulle het geen simpatie oor haar verwardheid getoon nie. Sy het prbeer verduidelik van die bloedtoetse op pad lughawe toe, maar dit het sake net vererger.
Haar hele lyf het yskoud geword toe sy besef wat die eintlike rede vir hulle besoek was. Tien van haar skilderye is by OR Tambo gekonfiskeer. Dit was op pad China toe. In die rame van elke kunswerk was kokaiene versteek. 50 kg altesaam. Die naam van die afsender het haar verbyster. Dit lyk of sy die skilderye gestuur het na ’n kunskenner in China. Die handtekening op die dokumente was identies aan hare …
Magriet het vir Mariaan gebel en sy en Erik was binne minute daar. Magriet het in trane uitgebars toe sy Erik sien en hy het haar styf vasgehou en haar op die kroontjie gesoen, soos hy gewoonlik doen.
“Ek sal jou hier uit kry, Grietjie, en as ek daarmee klaar is, gaan ek China toe vlieg en vir Klaus dood donner.”
Magriet kon nie praat nie. Dit het gevoel of haar bene haar nie kan dra nie. Die lede van die dwelmeenheid het haar kil, saaklik en onsimpatiek behandel. Sy moes ure sit en toekyk hoe hulle haar huis deursoek en van haar gipsbeelde oopbreek. Elkeen van haar skilderye is uit sy raam gehaal en die rame oopgebreek. Vase is stukkend geslaan. Geen kas is onaangeraak gelaat nie. Dit het gelyk of ’n tornado deur haar huis gedraai het. Vir haar het dit gevoel of dit ook elke stukkie van haar menswees weggestroop het. Selfs al was Erik en Mariaan by haar, het sy nog nooit so verlore en eensaam gevoel nie.
Sy het nie geweet wat om te dink nie. Die vermoede het al sterker geword dat Klaus nie sterwend in China is nie en dat hy haar gebruik het as rookskerm om ’n spul dwelms uit die land te smokkel. Die verdoemendste getuienis was die R500 000 wat sy aan hom oorbetaal het. Die dwelmeenheid het die dwelms reeds twee dae tevore gekry en hul huiswerk deeglik gedoen. Foto’s van haar uitstalling en dokumente wat sy kwansuis geteken het vir verkope aan ’n Chinese kunskenner het verdoemend op die tafel gelê.
Erik en Mariaan was geskok toe sy aan hulle verduidelik waarvoor die R500 000 eintlik bedoel was. Erik het nie kwaad geword nie en haar hand net stywer vasgehou.
“Ons sal die gemors oplos, ek belowe jou. Ons het mos al baie dinge saam opgelos?”
Magriet het geweet hierdie is ’n groter probleem as Stoffel en die kanker. Erik het haar nog altyd uit moeilike situasies gehelp, maar die een was groot. Sy het nie geweet of selfs Erik haar uit hierdie gemors gaan kan kry nie.
Mariaan het tee aangedra en Erik het haar pyp gestop. Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor haar huis dwelmvry verklaar is. Sy het heeltyd gevrees dat daar nog iewers bietjie aaptwak van Jaco se wilde dae oorgebly het. Dis Erik wat dit gewaag het om ’n grappie daaroor te maak.
“Gelukkig was ek en jy Rio toe!”
Sy het dadelik geweet wat hy bedoel. Hulle kon nie voor die radar-ore van die dwelmeenheid vertrel hoe hulle iewers oor die Atlantiese oseaan van dagga ontslae geraak het nie.
Erik het vir haar geknipoog.
“Vasbyt. Een van die dae tango ons weer. Ek hou die boekettraube op ys.”
Magriet het tussen die trane deur gebloos en haar hart het warm geword. Dis die eerste keer dat Erik oor die aand van die boekettraube en die wit kantoorhemp praat.
“Ek en jy gaan mos nog baie boekettraube drink? Tot op ons oudag. Tot hulle ons by die ouetehuis verbied om dit te doen. En selfs dan gaan ek dit vir jou insmokkel.”
Vir die eerste keer daardie oggend kon Magriet glimlag.
Erik het ’n klomp oproepe gemaak en kollegas gebel om te help met die dilemma waarin Magriet haar bevind.
“Ons gaan Klaus Verdoorn en sy maatjies se hele plannetjie onthul en hom uit China rook. Jy sal sien.”
Magriet was verbaas om te hoor dat Erik lankal reeds elke sentimeter van Klaus se sake deursoek het.
“Nadat ek hom en sy vriende daardie aand van die uitstalling sien kokaien snuif het, het ek geweet hoekom hy so hoog kan leef. Ek wou jou nie sê voor ek nie bewyse gehad het nie, maar nou is dit tyd dat jy weet. Klaus gebruik sy galery waarskynlik as front vir sy dwelmsmokkelary. Die kanse is goed dat hy dwelms in jou bagasie versteek het toe julle laas oorsee was.”
Magriet het dadelik aan die geskenkies gedink wat Klaus vir sy vriende in Europa wou neem. Daar was nie plek in sy bagasie nie en sy het dit in haar tas gesit. Haar maag het naar geword. Op daardie oomblik het sy self lus gevoel om China toe te vlieg en Klaus se neus te breek.
Erik en Mariaan het haar bygestaan deur die regsprosedure. Erik het selfs ’n grappie gemaak.
“Jy is mos nou al gewoond daaraan om geboei te word?”
Magriet kon sien Erik het trane in sy oë toe sy in die polisiemotor gelaai word.
Niemand het nog ooit met soveel liefde na haar gekyk nie. As sy uit hierdie gemors kom, sal sy Erik nooit weer deur haar vingers laat glip nie, het sy haarself belowe.