Magriet het vir weke nie van Klaus gehoor nie. Die nommer waarvan hy haar af gebel het, was afgeskakel. Sy het nagte om geworstel met die gedagte van ’n sterwende Klaus in ’n Oosterse hospitaal. Sy het van sy vriende probeer kontak, maar hulle het gesê Klaus het dit duidelik gemaak dat sy reis na China privaat en vertroulik is en dat hy verkies om met niemand kontak te hê nie. Sy kon nie uitvind wie die veiling van sy kunswerke reël nie. Sy het weer na die galery gery. Dit was verlate en leeg. Die gordyne by sy huis was dig toegetrek en die tuin verlate. Sy het nie eintlik geweet hoe sy oor die misterie van Klaus se bestemming moet voel nie. Hy het nie eens met haar kontak gemaak nadat sy die geld oorbetaal het nie. Klaus wat altyd so gemanierd en hoflik is? Hy was baie swak tydens hul laaste gesprek. Miskien het hy ’n terugslag gehad?
Die onsekerheid het haar mal gemaak en sy het ’n bietjie skaam gevoel om dit met Marian of Erik te bespreek. Iets het haar skuldig laat voel asof sy iets verkeerd gedoen het. Diep in haar agterkop het sy gehoop dat Klaus nie besig is om haar te bedrieg nie. Al sy vriende se lippe was gesnoer, behalwe vir Dawie Rietman, wat sy mond vir ’n sekonde verbygepraat het.
“Ek het geweet Klaus gaan homself vasdraai,” het hy gesê, voor hy besef het hy het te veel verklap.
Magriet het begin wonder of Klaus nie met onwettige bedrywighede doenig is nie. Hy het baie hoog geleef vir ’n man wat net ’n kleinerige galery besit. Sy het dit oorweeg om ’n privaat speurder aan te stel om die saak te ondersoek, maar sy het geweet Erik is die regte man vir die taak aangesien hy reeds in Klaus se sake gevroetel het. Sy het geweet sy sal haar trots moet sluk en vir Erik kontak.
Erik het by haar huis opgedaag asof niks verkeerd is nie. Hy het ’n paar bottels van haar gunstelingwyn, twee vet steaks en sy saksofoon saamgebring.
“Vanaand braai ek vir jou die beste steak in die stad. Waar is daardie groot kristalglase wat Stoffel so suinig was om te gebruik?”
Hy het ’n vuurtjie in Stoffel se stoepbraai aangesteek. Stoffel het nooit toegelaat dat enigiemand anders sy braai gebruik nie. Nie eens Jaco nie. Jaco het dit sy pa se “heilige altaar” genoem en dis hoekom dit vir Erik elke keer soveel vreugde gee om soos die baas van die plaas voor Stoffel se braai te staan.
Na die tweede glas wyn het Magriet aangedui sy wil ernstige sake oor Klaus met Erik bespreek.
Erik het haar glas vol yskoue bukettraube gegooi en sy lang vinger op haar mond gesit.
“Nie vanaand nie, Griet, ek het aangeneem jy wil oor die slymbol praat en ek het reeds môreoggend al my afsprake gekanselleer sodat ons oor hom kan praat. Terloops, hoe gaan dit met sy neus? Hy het seker dadelik na ’n plastiese chirurg gehol vir ’n nose job! Ek hoor hy is in China?”
Magriet was uit die veld geslaan. Erik het meer van Klaus se nuutste bewegings geweet as wat sy gedink het.
“Môre, my liewe Griet, sal ek en jy die nuutste drama in jou lewe uitsorteer, maar vanaand drink ek en my beste pel saam wyn. Ons gaan ’n ongeskikte klomp wyn drink, lekker lag en mooi musiek luister.”
Die bukettraube het gevloei. En Erik het sy saksofoon repertoire met horte en stote gespeel. Hy was nie die beste saksofoonspeler nie, maar hoe meer wyn gevloei het, hoe mooier was sy musiek vir Magriet
Tim Cappello se “I Still Believe”; Gerry Rafferty se “Baker Street”; die Beastie Boys se “Brass Monkey”; en George Michael se “Careless Whisper”.
Erik het sy lang lyf met passie rondgegooi terwyl hy sy hart uitspeel het. Magriet het agteroor gesit met ’n glas wyn in die hand. Die musiek het al haar spanning van die afgelope weke laat verdwyn. Sy het Erik dopgehou terwyl hy speel. Selfs met sy ongeoefende spel was dit vir haar nektar vir die siel. Sy het dit nog nooit aan iemand beken nie, maar Erik is vir haar onweerstaanbaar aantreklik as hy saksofoon speel.
Die steak was sag en sappig en Erik het dit in sulke dun snytjies gesny en die sappigstes op haar bord gesit.
Magriet het lanklaas so lekker gelag en gesels. Dit was asof die weke se stilte tussen hulle nooit bestaan het nie. Erik het haar glas vol wyn gehou en ’n CD met tango-musiek opgesit.
“Kom, Grietjie. Kom dans met my. Ek sal my tone uit jou pad hou. Hierdie een is maklik om te dans.”
Hy het. C. Gardel en A. Le Pera se “El Dia Que Me Quieras” en daarna M. Mores en E. Santos se “Uno” gespeel. Dit was asof dit haar halsstarrige dansspiere geolie het. Haar voete het veerlig geraak en haar lyf was ’n gewillige dansmaat in Erik se arms.
Hulle het al die stoepmeubels weggeskuif en J. Sanders en C. Vedani se “Adios Muchachos” en Enrique Santos se “Cambalache” het ritmies en polsend deur hul lywe gevloei.
Magriet het met haar kop teen Erik se bors gelê en gedink hoe dankbaar sy kan wees dat hy altyd daar is as sy hom nodig het. Hy was die een mens by wie so nog altyd gemaklik kon voel.
Laatnag het hulle saam op die stoepbank gesit en oor die lewe gefilosofeer. Magriet het styf onder Erik se vlerk gesit met haar kop gemaklik teen sy borskas. Sy het veilig en geborgd gevoel. ’n Emosie wat sy jare laas gevoel het. As sy mooi dink, kry sy die gevoel net wanneer sy by Erik is.
Hoeveel wyn nog deur die nag gevloei het, weet sy nie, maar ligdag het die voëls haar wakker gesing. Sy het styf in Erik se arms op haar stoepbank gelê. Haar eerste reaksie was skok, maar toe besef sy alles voel vir haar so honderd persent reg. Sy het na sy rustige asemhaling lê en luister. Sy naskeermiddel het soos sandelhout en muskus geruik. Teen haar voorkop kon sy sy stoppelbaard voel steek. Hy het sag in sy slaap gekreun. Dit het haar kop laat rondomtalie draai. Sy wou red wat te redde is en opspring. Erik is ten minste haar jarelange vriend. Haar steunpilaar. Hy was nog altyd soos ’n broer vir haar! Maar die gemaklike sagtheid van sy lyf teen hare het haar vasgehou. Sy wou nie die oomblik versteur nie. Sy wou net nog ’n rukkie lê.
Sy het eers weer wakker geword toe die son op haar gesig begin skyn. Sy was alleen op die bank. Uit die kombuis het aromas van spek gekrul. Sy kon hoor hoe Erik vrolik fluit.
Haar lyf het tot stilstand geskok toe sy regop sit. Sy het net Erik se wit kantoorhemp aangehad! Haar kop het in trurat probeer teruggaan want sy kon nie onthou hoe sy in Erik se hemp beland het nie. Haar Jean en hempie het eenkant op ’n hopie gelê! Langs Erik se jean! Wat het sy en Erik die vorige nag als aangevang?
Haar blaas het haar gewaarsku dat dit tyd is om toilet toe te gaan, maar sy was te versteen om te beweeg. Sê nou Erik sien haar so halfkaal in sy hemp?
Sy het die hemp so lank moontlik oor haar kniekoppe probeer trek en in die gang af gesluip. Sy het gevoel soos ’n skooldogter wat iets vreeslik verkeerd gedoen het.
Maar wat het die vorige aand gebeur tussen haar en Erik? Sy het nie geweet hoe sy hom ooit weer in die oë gaan kyk nie.
Sy wou nog vanaf die gaste badkamer tot by haar slaapkamer sluit om ’n japon te kry toe Erik in die gang verskyn.
“O, daar is jy? Ek het vir jou ’n stewige brekfis gemaak. Jy is seker vrek honger!”
Magriet se mond was kurkdroog. Sy het gewens die aarde sluk haar in. Sy het vergeefs haar onstuimige hare probeer regdruk. Sy het gewens sy het haar gesig in die badkamer afgevee. Daar het soveel dinge deur haar kop gevlieg. Maar al haar gedagtes het opgedroog toe sy Erik aan die punt van die gang sien. Sy maer rankerige bolyf was kaal. En, sy het nooit kon dink sy sal Erik in ’n tighty whitey sien nie!
“Drie hoera’s vir Calvin Klein!” het haar hormone luidkeels geskreeu.
“Ag sharrap!” het die ou Magriet blosend probeer keer.