Magriet se foon het drie-uur die nag gelui. Die stem was sag en swak.
“Meisiekind?”
Haar bloed het gestol. Sy kon hoor Klaus bel vanaf ’n internasionale lyn en sy stem was baie swak.
“Klaus? Waar is jy? Ek dog jy is kwaad vir my?”
Klaus het ’n paar kugge gegee. Sy kon hoor sy asem jaag.
“Wat makeer? Waar is jy? Het jy hulp nodig?”
Klaus se stem was skaars hoorbaar.
“Ek moes net jou stem hoor. Elke oomblik wat ek by my bewussyn is, dink ek aan jou. Ek is so bang ek verloor jou. Bang daar kom ’n misverstand tussen ons.”
Sy stem het by tye weggeraak. Sy kon dowwe stemme in die agtergrond hoor.
“Klaus? Het jy hulp nodig?”
Sy kon aan die stemme hoor hy is iewers in die Ooste.
“Ek kan nie lank praat nie. Ek is te swak. Ek wou net aan jou verduidelik hoekom ek weg is. Na die aanval het ek ’n epileptiese aanval gekry. Met die sonars het hulle ’n breingewas ontdek. Jou barbaarse vriend het my dus ’n guns bewys. Dis ’n vinnige kanker, Meisiekind. My enigste hoop was behandeling in China. Ek moes vinnig kom. Daar was nie tyd om met jou te praat nie. Ek is jammer.”
Magriet se brein het gestoei om al die emosies te verwerk. Daar was verligting, maar ook nog die knaende twyfel. Sy was geskok oor Klaus se diagnose. Arme Klaus. Niemand verdien pyn en siekte nie. Niemand verdien kanker nie. Sy weet hoe dit voel as jy met kanker gediagnoseer word.
Sy kon hoor hoe Klaus hoes en iemand met hom praat.
“Dit het klaar versprei. Dis in my longe. As hierdie behandeling nie help nie, is als verby. Maar daar is hoop, die gewas het al gekrimp. Die behandeling is duur, maar dit gaan my lewe red. Dit gaan. Ek moet dit net glo.”
Klaus het begin huil. Magriet het ongemaklik gevoel. Klaus het altyd selfvertroue uitgestraal. Hierdie sensitiewe Klaus het sy nie geken nie.
“Ek bel net om te sê ek dink elke oomblik wat ek kan aan jou. Dit hou my aan die gang. Niemand het nog ooit so ’n invloed op my lewe gehad soos jy nie. Jy is die lewensmaat na wie ek al soveel jare smag. Jy is presies wat ek nodig het. Nou wil hierdie wrede siekte my van jou wegneem. Sê asb. jy voel ook soos ek. Gee my iets om aan vas te hou terwyl ek hierdie behandeling ondergaan.”
Magriet se emosies was ’n draaikolk. Na weke se stilte van Klaus se kant het sy aanvaar hy stel nie in haar belang nie. Sy het haar emosioneel op ’n plek geplaas waar sy aanvaar het sy’t ’n fout gemaak deur Klaus te vertrou. Maar nou … sy wil haar emosies ’n U-draai laat maak. Sy wil van die twyfel ontslae raak en Klaus glo. Daar was nog ’n paar vrae wat sy beantwoord wou hê. Hoekom het Erik Klaus by die uitstalling geslaan? Wat het gebeur? Sy het vermoed dit het dalk iets met die kontrak te doen. Sy wou Klaus graag vra oor die geld, maar hoe vra mens ’n ernstige siek man waar is die geld wat hy jou skuld?
Asof hy haar gedagtes kon lees, het Klaus na die geld verwys.
“Jou geld vir die uitstalling. Jy sal dit kry as ek weer op die been is. Ek moes inderhaas alle los kontant vir my behandeling gebruik. Ek moes reeds ’n paar van my kunswerke verkoop en sal die galery verloor. Al moet ek elke kunswerk in my versameling verkoop, ek sal nie opgee nie. Onthou jy hoe jy my vertel het hoe jy kanker gewen het? Jy is my inspirasie. Ek glo jy het met ’n doel oor my pad gekom. Al roei hierdie siekte my finansieel uit.”
Klaus se woorde is telkens deur ’n hoesbui onderbreek. Sy kon hoor hy raak swak.
“Van my vriende is besig om my kunswerke te laat waardeer vir ’n veiling. Ek moet nog R500 000 insamel vir my behandeling. Ek glo ek sal dit regkry. Ek moet net. Dit is my enigste hoop, Meisiekind.”
Magriet het met hartseer gedink aan al Klaus se kunswerke. Hy was so trots daarop. Hy het dit met moeite oor die jare versamel. Dit is vreeslik om te dink hy sal dit moet verloor om sy lewe te red.
“Klaus? Kan ek na jou toe kom om jou by te staan?”
Klaus het gekeer. Hy is in isolasie omdat sy behandeling hom baie sensitief maak vir kieme.
“Ek lyk baie sleg op die oomblik. Ek is maer en al my hare het uitgeval na die eerste aggressiewe behandeling. Ek sal verkies dat niemand my so sien nie. Nie eens jy nie. Trouens, ek wil alleen wees met my gedagtes. Ek wil fokus op herstel.”
Magriet kon nie slaap na Klaus se oproep nie. Hy het alleen iewers in China in ’n hospitaal gelê en veg teen ’n wrede siekte. Sy kon aan sy stem hoor hy is baie siek. Na haar eie stryd teen kanker het sy geweet hoe dit voel om vir jou lewe te veg. Sy het so gewens sy kon Klaus help. Op daardie oomblik het dit nie meer aan haar saak gemaak dat hy haar geld skuld nie. Sy wou hom help.
Magriet het geweet hoe kort en broos die lewe kan wees. Sy het teruggedink aan die aand met die uitstalling. Klaus was die lewe van die partytjie. Sy onthou hoe hy gelag en gesels het. Hy kon met enigiemand oor enigiets gesels. Dit is ’n vreeslike gedagte om te dink hy lê uitgeteer in ’n hospitaal.
Deur die newels van kommer het sy bly wonder wat tussen Klaus en Erik gebeur het. Sy is seker Erik sal sleg voel as hy weet hy het ’n man met ’n aggressiewe breingewas gemoker. Magriet het haar voorgeneem om haar beste vriend te bel en op te maak. Die lewe is kort, het sy opnuut besef. Sy het skuldig gevoel dat sy aan Klaus getwyfel het.
Met sonopkoms het Magriet haar pyp gestop. Sy het antwoorde gesoek. Sy het gewens sy kon na Klaus toe vlieg om hom by te staan. Sy het magteloos gevoel. In haar gedagtes het Klaus se woorde by maal, “As ek hier opstaan, kom ek na jou toe. Dan begin ons ’n nuwe toekoms saam. Ek en jy. Dan brei ons die galery uit. Ons sal reis, lang aande sit en net gesels. Net ek en jy.”
Na haar ervaring met Stoffel het sy gesukkel om te vertrou. Sy weet Erik wou haar ook net beskerm teen nog hartseer. Maar nou weet sy. Nou is sy seker dat Klaus haar as sy toekomstige lewensmaat sien. ’n Nuwe opwinding het in haar begin groei. As Klaus eers gesond is, sal daar ’n nuwe lewe begin. Sy sal iemand hê wat aan haar kuns glo en iemand wat haar bederf en soos ’n vrou laat voel. Sy het Klaus se geselskap geniet en dit was ’n bonus dat hy onweerstaanbaar aantreklik is. Klaus moet net gesond word.
Magriet het by haar skootrekenaar gaan sit. Sy het na die sosiale foto’s gekyk wat die aand van die uitstalling van haar en Klaus geneem is. Op elkeen is sy arm beskermend om haar. Op een kan sy sien hoe hy met liefde na haar kyk. Die warm gevoel in haar hart het oor haar gemoed versprei.
R500 000 is ’n goeie belegging vir ’n gelukkige toekoms, het sy gedink toe sy die banktransaksie voltooi. Sy het ook stilletjies geglimlag. Dit was Stoffel se geld. Dis niks minder as reg dat Stoffel se geld ’n belegging betaal vir haar gelukkige toekoms nie.