Magriet was nie by Stoffel se begrafnis nie. Jaco het haar nie kwalik geneem nie. Hy het geweet sy ma wil op haar eie rou. Sandra was soos ’n goeie eggenoot aan sy sy. Hulle het in die banke agter Claudia gesit, het Jaco na die tyd vir sy ma terugvoer gegee oor sy pa se begrafnis. Claudia het glo bedroef geween, soos dit ’n weduwee betaam, wat pas ’n fortuin geërf het.
Magriet het die oggend van die begrafnis haar ouma Grieta se langsteel churchwarden-pyp gaan uithaal. Soos wat sy die afgelope jare met elke groot gebeurtenis in haar lewe gedoen het, het sy die churchwarden-pyp gestop en puff puff puff oor die lewe nagedink. Terwyl die dominee die woorde uitgespreek het. “ … stof is jy en tot stof sal jy terugkeer,” het Magriet oor Stoffel gedink en rookbolle die lug ingeblaas, “Koebaai, Stoffel. Koebaai.” Puff puff puff.
Stoffel het dit gehaat as Magriet haar ouma Grieta se churchwarden-pyp rook. Dit was vir hom onvroulik. Skynbaar het Claudia se dun menthol-sigaretjies hom nie gepla nie. Dit was blykbaar vir hom sexy. Maar Magriet het geweet haar ouma se pyp het Stoffel te veel herinner aan die vrou wat Magriet kon wees as hy haar nie in toom hou nie.
“Jou ouma was ’n bruuske, ongeskikte ou vrou,” het Stoffel altyd gekla. Maar Magriet was vir ouma Grieta die liefste van alle mense op aarde. Liewer as vir haar ma en pa, en liewer as vir Stoffel. Dis net Jaco wat ’n groter plek in haar hart kon vul.
Ouma Grieta het haar van kleins af onderrig in al die dieper wyshede van die lewe. Magriet se pa het gemor dat sy skoonma probeer om sy dogter in ’n militante feminis te verander. Magriet het elke skool- en universiteitsvakansie by haar ouma gaan kuier. Sy het soms styf agter haar ouma se rug ingekruip as die lewe te veel raak.
Toe kom Stoffel in haar lewe. Ouma Grieta het niks van Stoffel gehou nie, en Stoffel het sy bes probeer om al die “onstuimige gedagtes” wat ouma Grieta deur die jare in Magriet se kop geplant het, te onderdruk. Hy het dit grotendeels reggekry, want Magriet was lief vir Stoffel. Ouma Grieta het Stoffel tot met haar dood aanvaar soos mens ’n lastige verkoue aanvaar.
Maar elke keer as Stoffel Magriet se hart seergemaak het, het sy na haar ouma verlang. Dan het sy Ouma Grieta se pyp uitgehaal en met kersietwak gestop. Sy het nooit regtig gerook nie. Net ge-puff puff. Dit was ’n troos.
Die aand toe Jaco gebore is en Stoffel saam met vriende in ’n kuierplek was; die kere wat Stoffel met ander vroue flankeer het by sosiale funksies; die “grappies” wat Stoffel met die jare oor haar voorkoms of haar kuns gemaak het. Elke keer het sy ’n pyp gestop.
Nadat sy haar borste verloor het, het sy ’n pyp gestop as die bang en hartseer te groot geraak het. Dan het sy onthou om haar rug regop te hou met haar ken in die lug, soos haar ouma haar geleer het. Sy het onthou dat mens nooit, nooit, nooit opgee nie. “Ons Du Preez-vroue is fighters, ons druk deur,” het sy haar ouma se stem dikwels gehoor as die naarheid van chemo haar oorval.
Sy het tydens haar kankerbehandeling meer op haar pyp staatgemaak as op Stoffel. Stoffel het die kanker soort van geïgnoreer. Hy het haar verseker hy dink sy is nog vroulik en sexy al het sy haar borste verloor, maar Magriet kon sy emosionele afwesigheid aanvoel.
Puff puff puff deur die chemo en die rekonstruksie. Puff puff puff het sy weer probeer om soos ’n vrou te voel.
Magriet het baie gewens sy kon so sterk soos haar ouma wees. Sy het dikwels soos ’n swakkeling gevoel as sy in trane uitbars na een van Stoffel se tirades. Dan het sy gewens sy kon haar man staan soos haar ouma.
Sy het tot Stoffel se grootste irritasie ’n foto van Ouma Grieta op die lessenaar in haar studio gehou. Ouma was ’n formidabele vrou. Dit het vir Stoffel gevoel of ouma se streng blik vir hom gluur as hy in die studio is. Ouma se swart oë het oor haar effe krom Du Preez-neus uit die foto gekyk. Haar Hugenote-kruis om die nek. Ouma was ’n rebelse produk van ’n kloosterskool vir meisies waarin haar ouers haar aangehou het om haar te kultiveer en haar Engels te maak. Daar moes sy soms ’n bordjie om haar nek dra: “I am a donkey because I speak Dutch.”
Ouma Grieta het die kloosterskool oorleef en hulle kon nooit van haar ’n katoliek maak nie. Dit was vir haar ’n bitter pil dat haar voorvaders voor die katolieke moes vlug en dat sy as nasaat in ’n katolieke skool daagliks deur nonne met ’n rottang gemoker is weens haar rebelse gees.
Ouma Grieta wou na skool ’n beroepsvrou word en het as kantoorbode-meisie in Johannesburg gewerk voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.
’n Keerpunt het in Ouma Grieta se lewe gekom toe sy voor die oorlog met ’n jong loods begin uitgaan het. Nadat hy haar die eerste keer met ’n vliegtuig in die lug laat tol het, wou sy net vlieg.
Ouma was ’n WAFF-meisie in die Tweede Wêreldoorlog. Dit beteken sy was een van die 10 000 WAFF-meisies van die Women’s Auxiliary Air Force wat verskeie ondersteunende rolle in die oorlog verrig het. Ouma Grieta was in Desember 1940 deel van die eerste groep WAFFe wat per skip na Mombassa en van daar per trein na Nairobi gestuur is. ’n Groep van hulle is later Kaïro toe gestuur.
Dis daar waar ouma haar churchwarden-pyp begin rook het. Sy het haar kosbare pyp bekom deur ’n Britse soldaat te ruil vir ’n mes wat haar pa saam met haar oorlog toe gestuur het. Die hef was uit gekerfde vlakvarktand. Oupa Jan het die vark self op Kalkbank, die familieplaas naby Bethlehem, geskiet en die mes vir sy dogter gemaak.
As WAFF-meisie was ouma Grieta ’n valkskermpakker. Maar Magriet het geweet haar ouma het altyd die begeerte gehad om ook self te vlieg. Dis ’n beheerte wat haar tot haar dood bygebly het. Magriet het gesorg dat daar ’n skets van The Hawker Hartebeest, haar ouma se gunsteling-vegvliegtuig in die Tweede Wêreldoorloog, op die grafsteen gegrafeer word, met daarnaas die woorde “Vlieg vry en hoog”.
Ouma Grieta kon onregverdigheid nie verduur nie en het dikwels in die moeilikheid beland oor haar lewensuitkyk. Maar Magriet weet, haar ouma was nooit ’n politikus van inbors nie, sy was net ’n mench. Sy kon nie toekyk hoe enigiemand van enige ras of geslag sleg behandel word nie.
Op 9 Augustus 1956 het Ouma Grieta haar plakkaat vir vroueregte geneem en saam met 20 000 ander vroue van verskillende rassegroepe na die Uniegeboue gemarsjeer.
Nou stop Magriet met elke vrouedag-viering haar ouma se churchwarden-pyp om haar vroulikheid en reg om te stem te vier.
Dis asof sy haar ouma se teenwoordigheid in die aroma van kersietwak kan aanvoel.
Die dag van Stoffel se begrafnis het Magriet deur haar trou-album en albums van hulle gesin geblaai. Sy het onthou dat sy en Stoffel en Jaco eens ’n gelukkige gesin was. Sy het onthou, en gepuf. Puff puff puff.