kategorieë: LeesOntspanning

Grieta, hoofstuk 19

Klaus het op geen oproepe of boodskappe gereageer nie. Sy sekretaresse het Magriet met verskeie verduidelikings probeer paai. Die weke van stilte het aan haar begin vreet. Sy het gebrand om te weet wat tussen Erik en Klaus gebeur het en hoekom Klaus (en Erik) haar doelbewus vermy. Sy  wou ook weet wat met die verkope van haar werke gebeur het. Die pers het naas die sappige berigte oor die vuisgeveg net loflike resensies van haar uitstalling geplaas: “Groot kunsfonds”; “Dis nou die kans om in haar werk te belê”; en “Byna alle werke by debuut verkoop”.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dit was soos ’n antiklimaks. Die stilte.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Magriet het vergeefs gewag vir ’n deponering in haar bankrekening of enige terugvoer van Klaus. Die stilte het ’n beskuldigende klankie begin kry en Magriet het onthou hoe Erik haar probeer waarsku het. Klaus is immers al gedagvaar oor hy nie kunstenaars na suksesvolle uitstallings betaal het nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Met die ongemaklike stilte van Erik se kant, het Magriet net vir Mariaan gehad as klankbord vir haar onsekerheid en frustrasies.

Mariaan wou eers nie uitwei oor wat tussen Klaus en Erik gebeur het nie. Dit was asof sy doelbewus Erik se kant kies. Sy was nie self by toe die manne mekaar gepak het nie, maar sy het haar teorieë, het sy later beken.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Na weke het Magriet Mariaan op haar stoep vasgepen met ’n pot Earl Gray-tee en ’n inkwisisie. Sy kon die onsekerheid net nie meer hou nie.

Hulle het sit en filosofeer oor die lewe en die geheimsinnige stilte van Klaus Verdoorn. Verskeie koppies soet tee is geskink voor Mariaan haar groot handsak nadergehark het.

“Vriendin, hierdie is nie ’n joppie vir Earl Gray nie, ons het Johnny se hulp nodig! Dis die een voordeel om ’n eks soos Willem te hê. Jy kan sy ou drankkabinet stroop. Kyk net wat het ek vir ons gebring. Johnny Walker Blue Label! Glo fluweel op die tong, het Willem altyd gesê. Hy het dit vir jare gebêre en vanoggend toe dog ek, ek en Magriet verdien vandag iets spesiaal. Toe bring ek die een vir ons. Ag, dit verskaf my soveel vreugde om te dink hoe Willem sou stik van woede as ons sy kosbare bottel se seël breek. Ek dink ons twee kan ’n knertsie maak om ons te help soek na oplossings vir jou eskalerende probleem met mans.”

Magriet het gelate van Stoffel se kristal whiskyglase gaan uithaal. Sy het geglimlag by die gedagte dat hy die wille piep sou kry as hy haar en Mariaan nou kon sien. Willem ook. Die twee blikskottels.

Mariaan het skynbaar dieselfde gevoel. Sy het die kristalglas in die rigting van een van Stoffel se gesogte broodbome gelig, “Op jou, Stoffel,” en toe lig sy die glas in die koers van die bottel Blue Label. “Op jou ook, ou Willem! Dankie dat jy die bottel vir hierdie spesiale geleentheid skenk!”

Mariaan se teorie was dat Klaus iets vreeslik gedoen het want dit is nie in Erik se aard om mense met die vuis by te dam nie.

“Dalk het hy en Klaus weer oor die kontrak gepraat? Ek is byna te bang om te vra, maar het Klaus al iets oor die kontrak gesê? Jou skilderye het byna almal uitverkoop. Ons praat van groot geld. Dink jy Klaus het gevlug met jou geld?”

Magriet het tranerig geraak want sy moes aan haar vriendin beken dat Klaus nog altyd die onderwerp van die kontrak omseil het ondanks Erik se knaende navrae. Die feit dat daar na al die weke nog nie ’n sent in haar rekening gedeponeer is nie, maak haar ook bekommerd. Waar is Klaus en haar geld?

“Grieta, jy sal hulp moet kry. Ek en Erik het ’n vinnige raming gemaak voor die fight uitgebreek het. Klaus skuld jou ten minste R200 000. Dis baie geld!”

Mariaan het voorgestel hulle vra Erik om te help, maar Magriet was te trots.

“Dan doen ek en jy dit alleen, Griet. Môre ry ons na die galery en konfronteer vir Klaus. Kom, ons skink nog ’n dun blouetjie om ons moed te gee.”

Daardie nag het Magriet ’n paar stopsels kersietwak gerook van spanning. Haar kop het allerlei verduidelikings probeer voorstel oor Klaus se optrede. Dalk is hy regtig baie besig. Dalk voel hy verneder oor die vuisgeveg voor die media? Dalk het Erik iets vir hom gesê wat die oorsaak is hoekom hy haar vermy?

Klaus het hulle nie soos gewoonlik op die galery se stoep ingewag nie. Trouens, daar was geen teken van Klaus of sy sekretaresse nie. Die galery was gesluit. Deur die vensters kon hulle sien dat die mure leeg is. Al Magriet se werk is afgehaal. Teen die deur is ’n nota: Galery gesluit weens onvermydelike omstandighede.

Magriet wou glo die “onvermydelike omstandighede” sal ’n verduideliking gee wat die seer vernedering in haar hart sal verlig. Dit het dieselfde gevoel geskep as toe Stoffel haar begin vermy het. In selfbejammeringsoomblikke het sy haarself vermaan: Jy weet jy is nie goed genoeg om deur ’n man bemin te word nie. Vir Klaus was dit net ’n ligte flirtasie. Hy het jou gewaarsku dat baie vroue te veel lees in sy vriendelikheid. Maar, hy het dan vir haar gesê sy is spesiaal? Hy het dan saam met haar gedroom oor hoe hulle die galery sal uitbrei? Saam?

Die gras rondom die galery was lank. Dis nie eie aan Klaus se geaardheid om sy tuin so te verwaarloos nie.

“Jong, Mariaan, ek dink tog daar kan dalk ’n verduideliking wees. Dalk het iets ernstig met Klaus gebeur? Hoekom sal hy die galery sommer net sluit? Hy het dan ander uitstallings ook beplan?

Als was ook doodstil by Klaus se huis agter die galery. Die gordyne en luike was dig toe en van sy honde en katte was daar geen teken nie. Dit was asof die aarde Klaus Verdoorn ingesluk het.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Wat soek die beoordelaars van ‘Kokkedoor: Son & See’? Sjef Yolani Abrahams vertel

Die passievolle kos-entoesias Yolani Abrahams (32) is saam met Herman Lensing een van die beoordelaars…

24 seconds Gelede

Dié ekspo in Pretoria bied iets aan vir die hele familie – Dis Outdoor X tyd

Vanaf 30 Mei tot 1 Junie, vind dié ekspo plaas by Idlewild Country Estate, net…

1 hour Gelede

Slim maniere om minder sout te gebruik

Ons kyk hoej jy, as vernuftige tuissjef, heerlike smake met minder sout kan optower én…

1 day Gelede

Drie goed wat jy oor ‘Suidooster’ se stormagtige April móét weet

Dit blyk ’n paar Ruiterbosch-inwoners gaan in April vir die gek gehou word danksy allerhande…

1 day Gelede

Van Siprus se skaduwees tot Aronspoort se geheime – twee verhale vol liefde en gevaar

Wanneer gevaar met romanse gekombineer word, is ’n boek nie net ’n storie nie, maar…

2 days Gelede

Kom Clarens toe vir die kunstefees op 1 Mei!

Die fees word vanjaar van 1 tot 4 Mei gehou.    [gallery columns="2" size="medium" ids="151862,151861"]…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.