Die weke tussen Europa en Magriet se uitstalling het verbygevlieg. Sy het afrondingswerk gedoen aan party werke en ’n paar nuwes geskep. Die besoek aan die Britse en Europese galerye het haar beslis nuwe inspirasie gegee en daarvoor was sy Klaus dankbaar. Erik het, soos dit ’n goeie jarelange vriend betaam, gehelp om haar werke aan te ry en te sorg dat die beste vakmanne dit raam. Hy het nie weer na die omstrede kontrak verwys nie en Magriet het die saak ook nie weer met Klaus opgehaal nie. Laasgenoemde het uit sy pad gegaan om die beste pre-publisiteit moontlik vir haar uitstalling te reël. Sy kontakte in die media het vooraf na haar werk kom kyk en gunstige kommentaar gelewer. Sy is as ’n “onontdekte juweel” en “nuwe fonds” beskryf en haar kop het in die wolke gesweef oor haar kunsloopbaan belowend lyk … en natuurlik ook oor die subtiele hofmakery van Klaus Verdoorn.
’n Week voor die uitstalling het Erik haar vir koffie genooi in Hyde Park. Magriet was verlig dat die lug tussen hulle gesuiwer is en haar beste vriend haar opgewondenheid oor haar uitstalling deel.
Erik was weer sy ou self. Hy het skalks na die vroue by die tafel langsaan geloer en Magriet probeer oortuig dat hulle hul oë nie van hom kan afhou nie.
“Ek meen, Grieta, vir ’n man van my jare is ek darem hot hoor. Kyk hoe beny hulle jou. Dink jy dis my profiel of die grys teen my slape? Vroue kan mos nie mans weerstaan wat goed verouder nie?”
Magriet het gelag want die vroue het elkeen ’n knoets van ’n trouring aangehad en was meer geïnteresseerd in hul inkopiesakke as in Erik. Maar sy het haar vriend sy dagdrome gegun.
“Hulle dink waarskynlik jy is my seun. Regtig, jy lyk glad nie 60 nie!” Sy het dit hard genoeg gesê om die vroue se aandag te trek.
Erik het aan sy koffie gestik.
“Grieta! Jissie jy is gemeen! Sestig? Nou het jy die twee afgeskrik!”
Die twee jonger vroue het gegiggel en oor hul koppies se rande skalks vir Erik geglimlag. Dit het selfs die gesoute prokureur laat bloos.
“Nou is ek spyt ek het vir jou ’n geskenk gekoop!” Hy het vir die kelner gewink en die rekening betaal.
“Maar ek sal dit darem steeds vir jou gee.” Hy het Magriet aan die arm geneem en by een van die eksklusiewe boetieks ingelei. Die winkelassistent het hulle verwag en ’n duifgrys skemerkelk-rokkie gaan haal.
“Dit, Grieta, is om jou sterkte toe te wens met jou groot aand. Dit pas by jou grys oë en is kort genoeg dat jy met daardie mooi paar bene van jou kan spog. Gaan pas aan dat ons kan sien.”
Die rok het gepas asof dit spesiaal vir Magriet gemaak is. Sy was effe selfbewus oor die lae rug, maar ’n blik oor haar skouer in die aanpashokkie se spieël het aan haar bevestig dat haar rug nie te sleg lyk nie. Die rok se prys het haar laat steier. ’n Maxill uit New York! Stomgeslaan het sy met die rok voor Erik en die assistent geparadeer.
“Ek het geweet dit gaan jou pas, Grieta. Dis om dankie te sê dat jy steeds my pel is al is ek so ’n siniese ou regsman.”
Magriet het Erik goed genoeg geken om te weet hy sal haar nie toelaat om teë te stribbel oor die prys nie. Sy het haar arms om haar vriend se nek gegooi en hom teen die wang gesoen. Hy het haar opgelig en in die middel van die eksklusiewe boetiek met haar getiekiedraai.
“Gaan geniet jou aand. Ek hoop jou skilderye verkoop uit en jy maak genoeg geld om my op daardie lang beloofde bootreis te neem.”
Magriet het op daardie oomblik soos ’n prinses gevoel. Die droomrok het tot en met die groot aand teen haar kasdeur gehang. Op haar bedkassie het ’n koevert gelê wat Erik gesê het sy mag eers met die groot aand oopmaak.
Klaus was in sy element die paar dae voor die uitstalling. Magriet kon haar verkyk hoe effektief hy krisisse oplos. Met sy iPhone in die hand het hy haar uitstalling en ’n paar komende uitstallings soos ’n dirigent beheer.
Die oggend van die uitstalling het Klaus haar in sy kantoor ingewag met ’n bottel Disederius-sjampanje. Klaus het vergeet om die prys se etiket af te haal … ’n hele R2 497!
“Die beste sjampanje vir die vrou wat my are weer laat bruis. Mag hierdie uitstalling die eerste van baie wees. Op ons twee!”
Hy het haar hand teen sy lippe gedruk en haar nader getrek. In haar oor het hy gefluister: “Ek droom van hoe ons ’n lang pad saam stap. Hoe ons hierdie galery gaan uitbou tot wêreldklas. Ek weet ek sal dit regkry met jou aan my sy.”
Magriet se kop het gespin. Klaus het soos muskus en sandelhout geruik, sy baard was effe grof in haar nek. Op daardie oomblik het sy nie omgegee of haar kontrak nog op die hoop dokumente op sy lessenaar vergete lê nie. Klaus het haar laat tintel soos sy nooit kon droom ’n vrou van haar jare kan voel nie.
Tintelend, vonkelend, holderstebolder.
“Ek het iets vir jou.” Klaus het ’n groot wit kartondoos met ’n wit strik na haar uitgehou. Die wit rok was oortrek met fyn Franse kant en swarofski-kristalletjies so fyn soos suikerkorrels.
“Vir vanaand. Ek wil hê almal moet sien hoekom jy die vrou is saam met wie ek my beste jare wil deurbring. Ek wil hê jy moet oor ons toekoms nadink, Meisiekind. Vanaand is jou aand.”
Daardie middag het Magriet op haar bed gelê en kyk na die twee rokke teen haar kasdeur. Die duifgrys rok van haar beste vriend, en die wit lyfklewende rok van die man wie se skalkse aanrakings haar laat vergeet dat daar ooit ’n tyd was waarin sy vaal en onaantreklik gevoel het.
Sy het geweet sy moet rus, maar haar kop het tussen die twee rokke gesweef. Erik, liewe Erik wat altyd daar is vir haar … en sy weet, altyd daar sal wees ongeag wat gebeur. En Klaus, die man wat haar weer soos ’n vrou laat voel.
Laatmiddag het sy Erik se koevert oopgemaak.
“Grietjie, vanaand gaan ’n groot aand wees. Ek gun jou dit. Hier is ’n pilletjie vir die senuwees en moet om vadersnaam nie die rok brand as jy pyp rook nie want ek het al my aftreegeld daarop geblaas. Ons kan na vanaand dalk nog ’n goeie prys kry daarvoor. Onthou, ek bly jou pel al gebeur wat. Ek sal vanaand iewers in die agtergrond wees, en as daai vent hom nie gedra nie, donner ek vir hom! Erik.”
Sy het geweet Erik sal haar vergewe.