Magriet het oor die volgende weke geskarrel om haar werke geraam en gemonteer te kry. Sy het weeklikse ontmoetings met Klaus Verdoorn gehad. Sy het geleer om in sy geselskap te ontspan. Hulle kon later oor meer as net die uitstalling gesels. Hulle het van dieselfde skrywers en musiek gehou. Dieselfde liefde vir kontemporêre kuns en dieselfde humorsin.
Sy kon haar verkyk aan hoe sy mond by die hoeke krul as hy lag. Hoe sy oë ’n skakering donkerder raak as hy ernstig is. Hoe dit kan vonkel as hy met geesdrif met sy hande beduie.
Klaus het haar behandel asof sy die enigste kunstenaar is wat nog ooit by hom uitgestal het. Hy het haar spesiaal laat voel en die ekstra myl geloop om haar uitstalling te reël. Hy het geweet dit is haar eerste amptelike uitstalling na haar hibernasie van byna twee dekades en hy het haar selfvertroue opgebou tot sy geglo het sy gaan ’n suksesvolle uitstalling hê.
“Ek het ’n klein voorskou van jou werk aan Niko Swart gewys en jy weet hoe vol fiemies hy is. Menige kunstenaars vrees sy resensies in Dagblad. Wel, al wat ek tot dusver kan sê is dat hy my opgewondenheid deel. Jy is ’n nuwe fonds, Meisiekind. Ek sien ’n groot pad vir jou oop. ’n Pad wat ek en jy hopelik saam kan stap.”
Magriet het Klaus se woorde in haar kop rondgerol. In jare het sy nie so spesiaal gevoel nie. Sy het begin glo dat haar werk meriete het. As Niko Swart so dink, dan is haar werk regtig iets besonders. Sy het Niko al ’n paar keer by uitstallings raakgeloop. Hy is ’n klein maer mannetjie met ’n dik swart brilraam. Hy dra altyd ’n swart polonek-hemp en swart broek. Winter of somer. Sy weet dat Niko ’n berugte resensent is en dat hy jou loopbaan as kunstenaar kan maak of breek.
“Moenie bekommerd wees nie, Meisiekind. Ek en Niko is maters. Ons deel ’n passie vir spesiale kunstenaars wat ver buite die parameters van die kassie dink. Kunstenaars soos jy. Ek is hier langs jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Jou werk is uniek. Nes jy.”
Sy kon nie genoeg van Klaus se komplimente kry nie. Soos ’n uitgedroogde spons het sy die nektar van sy woorde opgesuig.
Klaus hou daarvan om aan mense se arms te raak as hy met hulle praat. Hy het skynbaar ’n fetisj oor hande en neem gereeld haar hande in syne en soen hulle. Elke keer as hy dit doen, galop haar hormone soos ’n July-wenperd in die laaste pylvak. Sy het al haar dae gehad om haar gedagtes in toom te hou. “Hokaai, Grieta, moenie dat jou emosies met jou weghardloop nie. Die man stal net jou kunswerke uit. Hou jou emosies op hok!” Sy het die waarskuwing oor en oor aan haarself herhaal.
Mariaan het haar waardering vir Klaus se magnetiese persoonlikheid en gevaarlik aantreklike voorkoms gedeel. Mariaan was uiters emosioneel na haar egskeiding en het meer empatie met Magriet se hartseer pad gehad. Die vriendinne het ’n nuwe gesamentlike belang gehad. Beide het al baie seergekry.
Maar Erik, wat Klaus nog nie ontmoet het nie, het nie hulle sentiment gedeel nie. Hy het Klaus as ’n pierewaaier en losbol geïdentifiseer op grond van daardie een geel pers berig op Google.
“Grieta, loop lig. As ’n man een keer draad gespring het, sal hy dit weer doen.”
Magriet was boos.
“Die man is nie ’n bees nie en jy het geen bewyse dat die berig waar is nie. Jy van alle mense behoort te weet dat jy nie alles kan glo wat jy in die pers lees nie. Jy het die man nog nie eens ontmoet nie!”
Erik was daarna gretig om Klaus te ontmoet sodat hy sy vriendin verkeerd kan bewys.
“Ek het ervaring van die soort man, Grieta. Glo my, ek kan moeilikheid op ’n myl ruik.”
Magriet het niks van hierdie negatiewe streep van Erik gehou nie.
“Jy het tog self gesê die man gaan my werk uitstal, ek gaan nie met hom trou nie! Jy is te sinies, Erik. Ek dink jy hanteer te veel egskeidings. Wees ’n bietjie positief. Ek glo jy sal baie van Klaus hou as jy hom eers ontmoet. Kom nou, gee die man ’n kans. En onthou, ek is jou beste pel en jy moet my belange op die hart dra.”
Dit is net die leidraad waarvoor Erik gewag het.
“Ek dra juis jou belange op die hart, Grieta. Ek kan sien in watter koers die ding in jou kop gaan en ek wil nie hê jy moet weer seerkry nie.”
Erik het ingestem om die volgende vergadering met Klaus by te woon. Magriet was skoon op haar senuwees. Sy het gevoel soos ’n skooldogter wat haar nuwe kêrel aan haar kwaai pa moet voorstel. Sy het twee stopsels twak gerook voor Erik haar kom oplaai het.
Klaus het haar oudergewoonte op die terras ingewag. Sy het hom vooraf gesê sy bring ’n ou vriend saam, maar nie genoem dat Erik nie juis opgewonde is oor die opbouende hegtheid tussen haar en die galery-eienaar nie. Sy het ook nie genoem dat Erik haar prokureur is nie.
Klaus was sy sjarmante self, maar Grieta kon aanvoel dat Erik nie maklik teenoor hom gaan oopmaak nie. Hy het Klaus byna onder kruisverhoor geneem en Klaus het elke potensiële strikvraag seepglad omseil.
“Het jy en Magriet al gepraat oor die kommissie wat jy gaan kry op die verkope van haar skilderye?”
Klaus was effe onthuts, maar was blykbaar goed met die tem van sy emosies. Hy het nie vir ’n sekonde sy sjarme verloor nie.
“Jong, ons was so opgewonde oor die uitstalling dat ons nog nie eens geldsake gepraat het nie. Ek hoop jy besef dat hierdie Meisiekind ’n spesiale talent het wat die kunsbedryf opgewonde gaan maak. Trouens, daar is reeds gerugte oor haar werk. Niko Swart het reeds uitgelek dat hier ’n nuwe fonds op die horison is.”
Erik het hom nie laat afsit nie. Hy wou weet wat die ooreenkoms gaan wees as Magriet se werke wel soos soetkoek gaan verkoop, soos Klaus belowe het. Hy het die pryslys bestudeer en Magriet was boos oor sy negatiwiteit.
“Sjoe, die pryse is gelaai? Is die pryse nie ’n bietjie hoog vir ’n debuut na Magriet so lank uit die bedryf was nie?”
Klaus het die vuurtjie probeer doodslaan voor dit ’n veldbrand word.
“Dit is hoe hoog ek die meisiekind se werk ag.”
Klaus het hom onderbreek.
“Haar naam is Magriet. Kan ons asseblief die gesprek professioneel hou? As haar prokureur wil ek weet wat die ooreenkoms met die kommissie gaan wees.”
Klaus was effe uit die veld geslaan.
“Haar prokureur? Maar dan moes jy my vooraf ingelig het oor die trant van jou gesprek. Ek sou graag die dokumentasie gereed gekry het.”
Klaus het nie geretireer nie.
“Ek is bly ons verstaan mekaar nou. Ek en my kliënt sal graag wil weet hoe groot jou kommissie op haar werk gaan wees.”
Magriet kon sien Klaus beheer sy humeur. Sy was woedend vir Erik en het uit pure senuwees haar pyp uitgehaal.
Klaus het effe gestamel.
“Ek het gedink aan 50% van die verkope aangesien ek dubbeld die moeite en ekspertise insit as wat ek gewoonlik doen. Jy het tereg gesê dit is Magriet se debuut na baie jare se afwesigheid en daarom neem ek haar stap vir stap deur die proses. Ek stel haar subtiel aan die kunsbedryf bekend en ek glo jy sal weet hoe belangrik die eerste indrukke is wat sy in die ernstige kunsvlak moet skep.”
Erik het uit sy stoel gerank en sy stem dikker as gewoonlik gemaak.
“Ek het my navorsing gedoen oor die gemiddelde kommissie op ’n uitstalling en juis ook op die werke van opkomende kunstenaars. Voor ons enige verdere beplanning doen, stel ek voor dat jy weer gaan nadink oor jou kommissie en dat jy die nodige dokumente aanstaande week na my kantoor sal bring. “
Magriet was siedend kwaad. Hulle was skaars om die eerste draai in die pad toe borrel haar woede uit.
“Wat het jy gedink doen jy? Wil jy my eerste kans in die kunsbedryf verongeluk? Weet jy hoeveel invloed het Klaus Verdoorn en Niko Swart? Ek het gedink dat jy as my beste vriend my die kans op sukses sal gun!”
Erik het ’n rukkie in stilte gery. Toe neem hy Magriet se hand in syne en gee dit ’n galante soen.
“Klaus is nie die enigste man wat sjarmant kan wees nie, Magriet, en jy is verkeerd, ek kyk juis na jou belange. Jou kop warrel deurmekaar met hierdie man se beloftes. Hy is van plan om ’n vet klomp geld uit jou te maak.”
Magriet het haar hand teruggeruk en Erik aangegluur.
“Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Jy is een van die mense wat die naaste aan my is en jy vertrou nie my oordeel nie. Wil jy hê ek moet vir ewig aan sukkel? Gun jy my nie om suksesvol te wees nie?”
Erik het weer haar hand gevat.
“Grieta, jy is ’n baie belangrike mens in my lewe, dit weet jy. Ek gun jou al die geluk en sukses wat jou toekom. Jy weet mos teen die tyd dat jy my kan vertrou? Ek voel onrustig oor hierdie man.”
Magriet wou nie toelaat dat die saadjie van twyfel wat Erik wou plant, in die warboel van haar drome en emosies ontkiemplek kry nie.