’n Universiteitsmaat het vir Magriet ’n afspraak gemaak met Klaus Verdoorn. Hy het ’n groot galery in die Wieg van die Mensdom en stal net werke uit wat die natuur besing.
Magriet het ’n paar verskonings probeer uitdink om nie te gaan nie. Die vrees vir teleurstelling was net te groot. Die kunswerke wat haar huis in chaos gehul het, het haar brose siel ontbloot en sy was bang om dit aan ʼn vreemdeling te wys. Sy sien nie kans om weggewys te word nie want sy weet dat sy daarna nooit weer die moed sal hê om ooit weer te skilder nie.
Mariaan het haar gehelp om van die beste werke uit te soek en ’n portefeulje saam te stel. Sy het op Google op Klaus Verdoorn gespioeneer om te bepaal aan watter soort man sy haar kwesbaarheid gaan ontbloot.
Hy is ’n baie sosiale mens en betrokke by verskeie natuurlewe-organisasies. Daar het een beriggie oor sy doen en late in die geel pers verskyn. Dit beweer hy het ’n verhouding met een van sy kunstenaars gehad en dat haar man hom ’n paar goeie opstoppers in sy galery gaan gee het. In die berig ontken Verdoorn die verhouding en beweer hy die vrou het ’n obsessie met hom gehad.
“Moenie laf wees nie, Magriet. Jy weet mos mens kan jou nie aan als steur wat in die koerante verskyn nie! Die berig klink vir my na sensasie.” Mariaan het geweet dit is maar net nog een van die verskonings wat haar vriendin probeer uitdink om uit die afspraak met die omstrede galery-eienaar te kom.
“Maar sê nou maar …” Magriet het weet probeer, maar Mariaan het haar stilgemaak.
“Hemel, Magriet! Jy gaan jou kunswerke aan die man wys. Jy gaan nie met hom trou nie! Sy private lewe het niks met ons te make nie. Al wat ons van hom wil hê, is dat hy jou werk moet uitstal.”
Mariaan het haar die oggend van die afspraak gaan oplaai en onderneem om voor die galery vir haar te wag.
“Ek lees nêrens dat die man al ’n kunstenaar gebyt het nie. Hy het ’n goeie reputasie as kunskenner en ek glo hy sal die potensiaal in jou werk raaksien.”
Klaus se klipgalery het byna met die heuwel saamgesmelt. Dit het ’n asemrowende uitsig oor die Wieg van die Mensdom gehad. Hy moes hulle met die grondpad hoor aankom het, want hy het hulle op die terras voor die galery staan en inwag.
Magriet was sommer vies vir haarself toe haar hormone begin rondhuppel die oomblik toe sy die lang man met die silwer-grys hare sien.
“Hy lyk soos Sean Connery,” het Mariaan boonop gefluister. “Sag op die oog, nê?”
Magriet het haar vriendin ’n harde pomp in die ribbes gegee.
“Onthou, ons wil hê hy moet my werk uitstal. Ons is nie hier om oor hom te swymel nie. Daardie berig is waarskynlik reg. Hy is waarskynlik ’n slymerige losbol.”
Klaus se loodgrys oë was omring met fyn lagplooitjies. Langs sy uiters soenbare mond het diep kepe Magriet gewaarsku dat dit enige vrou se ontslape hormone uit die dood kan laat opwek.
Hy wou niks weet van Mariaan se plan om in die kar te wag nie. Met ’n galante hand om elkeen se elmboog, het hy die twee vriendinne na ’n rustige sithoekie op die wye stoep geneem. Na hy vir elkeen ’n lang glas vars lemoensap geskink het, het hy sy lyf reg rangskik in die stoel en reguit tot in Magriet se siel gekyk.
“Ek is betrokke by die universiteit en het ’n bietjie in die argiewe van die kunsdepartement gaar rondgrawe oor jou. Ek het baie gehou van wat ek gesien het. Sommer baie. Waar het jy al die jare weggekruip?”
Magriet se hormone het tien bokspronge gegee toe hy vooroor buig en haar hand neem.
“Ek hoop nie jy het jou talent deur die jare verroes nie. Dit sal jammer wees.”
Hy het haar portefeulje opgetel.
“Mag ek?”
Klaus Verdoorn se hande het Magriet gehipnotiseer. Lang vingers met perfek gemanikuurde naels. Fyn grys haartjies wat met ’n sonbruin vel kontrasteer.
Hy het in stilte deur die album sit en blaai. Magriet het van pure senuwees ’n tweede glas lemoensap weggesluk. Haar hande het in haar handsak begin vroetel op soek na haar pyp. Ondanks Mariaan se moordende blik het sy die pyp gestop en eenkant onder ’n boom gaan staan en puff-puff.
Klaus het die portefeulje stadig toegevou en ’n rukkie met sy hande teen mekaar oor die vallei sit en tuur. Magriet het ’n blou wolk ge-puff voor hy uiteindelik gepraat het.
“Ek was lanklaas sprakeloos, Magriet. Jou werk … ek weet nie hoe om dit te stel nie. Ek kan sien jy het jou hele wese in jou werk uitgestort. Dis net …”
Magriet kon die spanning nie meer hou nie.
“Toemaar, ek weet wat jy wil sê. Dankie vir jou tyd. Ek moes geweet het ek kan nie na soveel jare sommer net weer begin skilder nie.”
Sy het haar portefeulje opgeraap en haar pyp weggepak.
Klaus het vooroor gebuig en beide haar hande in syne geneem.
“Ek is jammer, ek …”
Magriet het met alles in haar probeer om die trane terug te hou. Haar hande het in syne gebewe.
“Wie en wat het jou so bang gemaak vir die lewe, Magriet? Wees nou rustig, Meisiekind. Neem nog ’n paar slukke lemoensap.”
Magriet het ’n hele glas in een teug weggesluk. Sy het gewens sy kon oor die vlaktes van die Wieg van die Mensdom weghardloop van die Sean Connery-kloon wat haar emosies so rondwoel.
“Kalm nou, Meisiekind. Kalm nou. Ek sukkel om woorde te kry om te omskryf hoe jou werk my laat voel. Dis … dis ongelooflik. Ek is al veertig jaar in die kunsbedryf. Ek het al te veel kunstenaars se skeppings beleef, maar joune, Magriet, jou werk praat met my. Dit maak ’n ou opgewondenheid wakker wat ek gedink het nie meer bestaan nie.”
Magriet het nie geweet watter een van die emosies wat in haar kop rondwoel sy moet vasvat nie. Die paniek, hartseer, seerkry wat sy enkele minute tevore nog gevoel het, wou nie die vreugde en opgewondenheid kans gee om deur te breek nie.
Klaus het haar hande opgetel en elkeen gesoen.
“Soveel broosheid. Ek het lanklaas soveel broosheid ervaar. Jy het te lank weggekruip, Meisiekind. Jy en jou werk, julle is so beeldskoon en broos soos die blou-grys eierdoppe wat jy so graag skilder. Ek sien dit, ek sien hoe jou hart diep binne jou skelet bons.”
Magriet se hart het ’n paar slae gemis. Sy het haar bewende hande uit sy greep losgewikkel en in haar handsak begin grawe. Sy kon Klaus se oë op haar voel terwyl sy haar pyp stop.