Om elke keer na ’n terugslag weer op te staan, is een van die kwaliteite wat Magriet aangeleer het sedert kanker haar lewe se fondamente kom skud het. Soos die Griekse mitologiese voël, die feniks, het sy na elke chemo-sessie weer haar menswees bymekaar geskraap en aangegaan.
Sy moes haarself dwing om dit te doen en het soms besef dit is waarskynlik te danke aan haar ouma Grieta se vasbyt-gene wat iewers in haar DNA vasgeklou het wat haar sawwe lyf gedwing het om te oorleef.
Sy het een keer gelees hoe ’n aktrise van haar stryd teen kanker vertel. Die aktrise het gesê ’n mens moet “moed” eintlik met ’n “t” spel want om “moed” te hê, moet jy weet jy “moet” aanhou. Jy kan en mag nie opgee nie.
Stoffel se afsydigheid teenoor haar siekte het haar vreemd genoeg ook die krag gegee om aan te gaan want sy het geweet sy sal haar eie beste steunpilaar moet wees. Sy sal self die plek moet inneem wat eintlik vir die een naaste aan haar gereserveer is: Haar lewensmaat.
Stoffel het ’n pynlike leë gat gelaat wat haar kind, haar familie en haar beste vriende nie kon vul nie. Dié Stoffel wat haar so teer bygestaan het met Jaco se geboorte was net nie daar toe sy deur die naar newels van chemoterapie geworstel het nie. Eers het sy gedink hy is self te oorrompel deur die diagnose en in ’n stadium het sy gedink hy gril vir haar siekte en haar lyf wat tenger en uitgeteer geraak het.
Mense na aan haar het ook Stoffel se “afwesigheid” raakgesien en dit het vernederend seergemaak.
Saam met die vrees vir die roete wat die kanker uiteindelik kan neem, was daar ’n lam leegheid en die besef dat daar iets verskriklik verkeerd is in haar huwelik.
Dit het al meer tot haar deurgedring dat daardie spesiale band wat sy en Stoffel gehad het, onverklaarbaar afwesig was toe sy hom die heel nodigste gehad het.
Dit was ’n kliniese, hoflike, behulpsame Stoffel aan haar sy. Nie die warm, teer, intieme man wat sy voorheen geken het nie.
Sy het nagte om gewroeg oor waar dinge verkeerd geloop het. Daar was tye dat sy bly was sy het kanker. Sy het in swak oomblikke gehoop die kanker wen sodat die seer van die emosionele verlies aan Stoffel saam met die lewe uit haar kan sypel.
Maar dit was Jaco wat haar gedwing het om soos ’n feniks weer te herrys. Sy kon nie haar kind alleen los nie.
Tussen al die gedagtes wat Magriet in haar deurnagsessie vir ’n moontlike kunsuitstalling neergeskryf het, het die simbool van die feniks wat herrys uitgestaan.
Reeds as kunsstudent het dié mitologiese figuur haar gefassineer. Sy het deur die jare verskeie sketse gemaak van die mitologiese voël wat siklies herbore word uit die as van sy voorgangers.
Tussen al die mitologiese figure het juis dié voël haar aandag getrek omdat sy reeds op skool ’n liefde vir geveerde spesies gehad het. Sy het ure saam met haar pa in die veld deurgebring met ’n verkyker en voëlboek in die hand.
Ornitologiese studies was die kern van menige van haar kunswerke sedert universiteit en naas voëls het die veld van oölogie haar ook gefassineer en het baie van haar sketse voëleiers, -neste en die broei-gedrag uitgebeeld.
As plaaskind het sy skedels van voëls, vere en stukkies dop versamel en haar kiste vol “gemors” was in haar huwelik ’n bron van irritasie. Stoffel het dit grillerig gevind en geglo dit is ’n broeiplek vir gruwelike kieme.
Na haar deurnagsessie het Magriet die kiste gaan uitgrawe en elke natuurskat wat sy in haar jeugjare opgetel het opnuut ontdek. Die stoeptafel was gou vol gepak en haar versameling het later die huis binnegedring. Op elke moontlike oppervlak was daar vere, eierdoppe en skedels uitgestal.
Sy was in haar element. Vir dae aaneen het houtskool oor papier geknars. Oogkaste, lyne van skedels en snawels en nate op kopbene het vermeng met ’n evolusie waarin voëlskedels met vlees en vere bedek is. In van die sketse het die broosheid van die eierdop ’n oorgang gevind in die haarfyn detail van vere en later in die gestrooptheid van die skelet. Sy kon haar eie evolusie in die proses sien. Die broosheid van haar vrouwees wat deur kanker weggevreet is tot haar liggaam byna net ’n skelet was.
Van die sketse het die herlewingsproses van die feniks met ’n vrouefiguur uitgebeeld.
Een van die sketse was ’n selfportret waarin sy uit ’n bed opstaan en haar hande in die lug uitstrek. Uit haar arms groei die vere van die feniks.
Na die houtskool-fase het sy haar kunskas uitgepak en met verskeie media geëksperimenteer.
Voëls se skelette het herinner aan die rondinge van die vroulike liggaam en deur die media het teksture, kleure en verftegnieke nuwe lewe deur kaal skelette laat deurskemer. Sy het materiaal, perkament, tuisgemaakte papier, stukkies dop en vere gebruik om ’n delikate oorgang van dood na lewe uit te beeld.
Met elke haal van ’n verfkwas en elke lyn met ’n potlood het sy gevoel hoe haar uitgedorde skelet van mens wees weer vlees kry.
Sy het vergeet hoe die lewe deur haar are kan bruis as sy skets en verf. Vir dae het sy skaars geëet en nie haar foon geantwoord nie. Sy het geverf en geskep tot die hunkering in haar wese weer bevredig gevoel het.
Sketse het oral op die vloer rondgelê. Sy het dit teen vensters opgeplak waar die lig reg geval het. Teen kaste, mure, teen die yskas, bokant die wasbak. Haar huis was gehul in die heerlike chaos van ’n skeppende gees.
Daar was ’n opgewonde bewing in haar binneste. Dit was asof sy ’n aar van nuwe lewe raakgeboor het. Honderde idees het na bo geborrel en oorgeloop in ’n dam van vreugde waarin sy soos ’n kind wou baljaar.
Magriet het haar pyp gestop en stadig van die een skets na die ander gestap. Voor sy die eerste skets gemaak het, was sy nie seker of sy nog ’n skeppingsdrif iewers in haar het nie. Sy was bang haar tegniek en passie het met die jare saam met haar drome van ’n kunsloopbaan verdor en verdwyn.
Met elke treë deur die orgie van kuns in haar huis het sy toenemend besef dat sy soos ’n feniks uit ’n toestand van depressie verrys het.
Sy het vir die eerste keer in jare gevoel sy sal haar vlerke as kunstenaar weer kan sprei.