Grieta is ’n kunstenaar. Sy is nie ’n wetenskaplike nie, maar twee weke nadat sy en Erik van Rio af teruggekom het, het sy deeglik besef wat Newton se derde wet van beweging is: Wat opgaan, moet een of ander tyd afkom.
Dit het haar stadig bekruip. Die swart hond het eers net aan haar hakke gesnuif. Sy het haar vir ’n paar dae verbeel sy ruik hom en die bekendheid van sy reuk probeer ignoreer. Toe, een oggend, het sy vir haarself in die spieël gekyk, en dit aan haarself beken, “Ek is weer depressief!”
Dit was ou bekende gevoelens. Asof alle energie uit haar gedreineer is. Emosies van jare, maande en weke het weer in haar binneste tougetrek.
Saam met Erik in Rio was sy op ’n hoogtepunt. Haar gemoed was in die wolke. Sy het ge-ramba, ge-chacha, ge-samba, ge-tango asof sy met ritme in haar voete gebore is. Sy het nie omgegee wie vir haar kyk of hoeveel keer sy al uit ’n dansklas weggejaag is nie. Sy het gedans asof niemand kyk nie. Tydens Rio se straatkarnaval het dit nie saak gemaak dat Stoffel haar weggesmyt het vir Claudia nie. Dit het nie saak gemaak dat kanker haar van haar borste beroof het nie.
Sy en Erik het ure aaneen gelag en gesels. Hulle het wyn gedrink en gesmul aan Brasiliaanse geregte. Hulle het oor sonbrandlywe gekwyl, geswymel en nog meer gelag.
In Rio was die lewe ’n lied. In Rio het die werklikheid tussen die dansende, kleurvolle massa verdwyn.
Dekselse Newton! Hoekom moes hy reg wees? Haar gemoed het stadig vanaf die euforiese wolke van die vakansie benede getuimel. Die karnaval-musiek het in stadige aksie begin speel en uiteindelik stil geword.
Daar was skielik niemand aan wie sy nog nie haar vakansiestories vertel het nie. Die opwinding was verby en haar gewone saai lewe het uit die spieël na haar teruggestaar.
Sy was nie lus vir skilder nie. Ook nie lus vir lees of stap nie. Sy wou nie nóg ’n mall sien nie en nog minder nog ’n fliek. Sy was moeg. Sat. Haar gemoed en energievlakke het saam met Newton se bewegingsteorie tot op die harde fondament van haar lewe geval.
Nare negatiewe gedagtes het in haar gemoed ingekruip en lêplek kom kry.
“En toe, noudat die opwinding van Rio verby is, wat nou? Wat is die doel van jou lewe? Gaan jy van die een vakansie na die ander dartel met Stoffel se geld? Wat is die ware essensie van jou bestaan, Magriet?”
Sy kon nog nooit ’n groot sukses van haar loopbaan as skilder en beeldhouer maak nie. Stoffel het altyd sarkasties na haar werk as ’n “stokperdjie” verwys. Hy het gedink haar “prentjies” is vreemd. Sy mening was vir haar belangrik en sy kritiek het haar selfvertroue laat verkrummel.
“Wel, dalk het jy van die begin af nie regtig talent gehad nie?” het sy in ’n kritiese gesprek met haarself gevra.
“Onthou wat prof. Senekal een dag vir jou gesê het? ‘Juf Van Heerden, as u op hierdie trant aangaan, stel ek voor dat u van kursus verander!”
“Hy was ’n mislike, suur ou man wat nie enige denke buite die kassie verduur het nie,” het sy haarself probeer troos. Sy wou haar skeppingsdrang vrye teuels gee en die suur ou prof was vasgevang in die beperkinge van tradisie.
“Maar in al die jare het jou skeppings nog geen kunskenner beïndruk nie?”
Sy het haarself weer verdedig.
“Dalk het ek nie hard genoeg probeer nie? Dalk was ek nie honger genoeg vir sukses nie?”
Kanker het haar met die dood en haar feilbaarheid gekonfronteer, maar sy was sedertdien te besig om om oorlewing te veg en om haar huwelik te probeer red, dat daar nie tyd was om ook nog aan die sukses van haar loopbaan as kunstenaar te dink nie.
In die dieptes van haar nuwe depressie het sy weer haar lewe in perspektief probeer plaas. Dié depressie was anders as die vlaag wat sy na die mastektomie beleef het. Ook anders as die een wat net na haar egskeiding gekom het. Hierdie een wou nie haar wil om te oorleef toets nie. Dit wou nie meet of sy in haar huwelik gefaal het nie. Hierdie een was ’n vermetele, venynige swart hond wat haar aan die hakke kom hap het. Met elke happie het hy haar herinner dat die kern van dit wat haar Magriet maak, besig is om te verbrokkel.
Sy het gewens sy was so ’n sterk mens soos haar ouma Grieta. Haar ouma sou kanker ’n harder uitklophou kon gee. Haar ouma sou nie die aftog teen Claudia geblaas het nie. Haar ouma sou die golf van haar loopbaan gery het.
“Jy is te hard op jouself, Magriet,” het sy probeer vermaan.
Sy het ’n ou dagboek uitgegrawe en haar hart begin leeg skryf.
“Ek moet ophou om die waarde van dit wat ek is te bevraagteken. Ek is nie ’n mislukking net omdat Stoffel my gelos het nie. Hy het my nie gelos omdat ek my borste verloor het nie. Hy het my gelos omdat hy ’n dislojale, ontroue man was.”
Sy het haar pyp gestop en ge-puff-puff tussen die skryfsels deur.
“Wat is die betekenis van jou lewe, Magriet? Hoekom meet jy jou sukses aan ander se menings? Wat maak dit saak wat prof Senekal van jou kuns gedink het? Wat maak dit saak wat Stoffel van jou prentjies en van jou as vrou gedink het?”
Puff-puff-puff
“Dit hang af van wat jyself van jou lewe maak! Dis tyd dat jy weer beheer oor jou lewe neem. Jy is in beheer, nie die swart brak wat aan jou hakke hap of jou oorlede man nie. Jy is in beheer!”
Puff-puff-puff
“Begin vandag al met ’n plan van aksie! Begin by ’n punt! … Maar watter punt? … Enige punt! Begin net!”
Puff-puff-puff
“1. Begin werk aan ’n uitstalling.
2. Kry ’n tema.
3. Doen navorsing.
4. Begin verf!”
Puff-puff-puff
Dit was asof iets in haar brein tussen al die kersietwak-walms reggekliek het. Soos ’n hamster op ’n wiel het haar gedagtes begin hardloop. So vinnig soos sy kon, het sy idees neergeskryf. Ou idees wat lankal verwelk het, het weer lewe gekry. Nuwes het opgeduik. Sy het deur die nag geworstel met idees wat mekaar wil verdring want elkeen wou hê sy moet eerste aan hom aandag gee.”
’n Hele paar stopsels kersietwak en potte tee later het sy uitgeput op haar stoep staan en kyk hoe die son opkom.
Haar joernaal was vol sketse, idees, teevlekkies, en ’n paar vlekke, het sy geweet, is veroorsaak deur trane. Tussen die idees het die ou Magriet weer lewe begin kry.
Toe die son oor die buitelyne van die stad in die verte begin uitstyg, het sy een laaste gedagte neergeskryf.
“Ek is in beheer van my eie geluk.”
Sy het haar pyp skoongemaak en netjies in sy houtkissie weggepak.
“Ek is in beheer, Ouma Grieta, het jy gehoor? Ek is in beheer!”