Na Stoffel se dood was Claudia glo te emosioneel om hom te gaan uitken. Jaco was nog in die Kaap en moes ’n paar dinge voor sy pa se begrafnis afhandel. Dis toe dat Frikkie, Stoffel se prokureur, vir Erik, Magriet se prokureur, effe verleë bel en vra of Magriet, Stoffel se eks, hom by die lykshuis sal gaan uitken. Sy ander naaste familie en vriende was nie beskikbaar nie.
“Flip, Grieta, ek is jammer dat die ou donner dit ook nog aan jou doen.” Erik het aangebied om saam met Magriet te gaan. Hy het later beken hy het heimlik lekker gekry dat Frikkie hom die guns moes vra na hul kopstampery met Stoffel en Magriet se egskeiding. Erik het gesorg dat Magriet effens meer as haar regmatige deel kry aangesien Stoffel, soos Erik dit uitdruk, “Draad gespring het”.
“Ek herinner jou net dat Claudia die derde party was wat my kliënt se huwelik van twintig jaar opgebreek het, maar dis reg, my kliënt sal mnr. Ernst gaan uitken,” het Erik Frikkie glo laat verstaan.
Magriet was eers kwaad en het geweier. Jaco het aangebied om sy sake net so te laat staan en sy pa te kom uitken. Maar toe bedink Magriet haar. Sy het gevoel Claudia kan Stoffel se vet pensioen erf, maar sy wat Magriet is, sal dié hartseer mylpaal in Stoffel se lewe aan sy sy wees. Sy het immers as jong bruid in die kerk belowe: “ … tot die dood ons skei …” En dis die punt wat sy en Stoffel bereik het. Al was Claudia amptelik die weduwee het Magriet haar voorgeneem sy sal daardie dag finaal van Stoffel afskeid neem. Sy was dankbaar vir Erik se beloofde bystand.
Goeie ou Erik, haar beste pel van universiteit af. Hulle het as eerstejaars saam Griekse kultuurgeskiedenis gehad. Erik het langs haar gesit toe prof. Hendricks die skyfievertoning van antieke Griekse beelde gewys het. Naakbeelde.
“The nude first became significant in the art of ancient Greece, where athletic competitions at religious festivals celebrated the human body, particularly the male, in an unparalleled way … ”
Die prof se stem het aangerammel, maar Magriet kon nie haar oë afhou van die naak mansbeelde nie. Sy het nog nooit ’n volwasse kaal man gesien nie.
Die volgende beeld was ’n beeld van ’n jong Griekse atleet en aan sy spiere kon Magriet verstaan hoekom hy ’n oorwinnaar was.
“The Victorious Youth dated 310 BCE. A remarkably weather-preserved bronze statue of a Greek athlete in Contrapposto pose … ”
Magriet het skaamteloos verby die spiere na die atletiese jong man se anatomie gestaar.
Toe vang haar oog die van die lang blonde nerd langs haar. Hy het gegiggel en met sy voor- en wysvinger beduie dat die beeld maar beskeie bedeeld was. Toe bars hulle uit van die lag.
Van daardie dag wat prof. Hendricks hulle uit sy klas gejaag het, was Erik en Magriet onafskeidbaar. Erik kon met sy lang maer bene die lekkerste sokkie van al die eerstejaars. Hy het Magriet soms sommer vir die pret al la sestigs in die rondte getol en haar uit haar skoene uit gedans. Al was sy effens skaam vir die ander mans, het Erik haar nooit ongemaklik laat voel nie. Erik was, soos Erna, Magriet se kamermaat, tereg gesê het, “’n Ware pel, maar nie boyfriend material nie.”
Erik het Magriet die oggend van Stoffel se uitkenning kom oplaai. Op pad na die lykshuis het hy die tragiese ironie van die situasie probeer breek. Hy het geweet dit is nie vir Magriet maklik om die man te gaan uitken wat haar vyf jaar gelede vir ’n freshie ingeruil het nie. Die wonde van die rekonstruksie na haar dubbele mastektomie was skaars genees, toe sy al begin vermoed het Stoffel dwaal ondanks die feit dat hy vir haar nuwe boobs betaal het.
Erik het met sy nuwe 4×4 Range Rover op die sypaadjie van die ondernemer geklim om onder ’n koelteboom te kan stilhou. Magriet het kwaai na hom geloer want daar was genoeg ander oop plekke.
“Ek vervoer ’n bedroefde weduwee … en ek hou nie daarvan as my baby in die son staan nie.”
“Ek is nie die weduwee nie, Claudia is, onthou jy?”
Erik het verontwaardig gesnork.
“Getraumatiseerd se gaai man. Ek wed jou Claudia sit by Isabella’s in Hyde Park besig om te beplan wat sy met Stoffel se geld gaan maak.”
Erik het sy sigaret vir haar aangegee.
“Vat ’n pull, Grieta. Jy het dit nodig. Hierna gaan stick ek jou vir ’n lekker brekfis. Laat ons net eers die ding agter die blad kry.”
Die begrafnisondernemer het hulle met gevoude hande begroet. Groot simpatie met die naasbestaandes.
“Mev. Ernst? Wag net, ons kry net gou u man reg vir die besigtiging.”
Nie Magriet of Erik was lus om aan hom te verduidelik dat sy eintlik die eks Mev. Ernst is nie want die ware Mev. Ernst pas waarskynlik op die oomblik haar begrafnispakkie by Queenspark aan.
“Jy moet saam met my ingaan. Asseblief?”
Erik het Magriet se hand geneem en saam met haar agter die sedige begrafnisondernemer die gang afgestap na die besigtigingskamer. Met eerbied het die ondernemer die deur oopgemaak sodat die bedroefdes kan ingaan.
Stoffel het in sy volle lengte op ’n smal bedjie uitgestrek gelê. Sy paar kaal nommer 12 voete so in die posisie van tien oor tot tien oor 12.
Erik en Magriet het voor die bed gaan staan en verbysterd na die prentjie gestaar.
Stoffel het ’n wit jurk aangehad wat net-net sy kniekoppe bedek het. ’n Sterk kontras met die welige swart beenhare op sy stewige kuite. Op sy kop was ’n wit hoedjie wat met twee bandjies onder sy ken vasgebind is. Magriet kon sweer Stoffel het onderlaag aan.
Erik was die eerste om te reageer.
“Tjit! Dis weird. Mens noem dit seker coffin couture?”
Magriet het gestaar na die man wat sy eens bemin het, die vername direksielid van Falco, wat voor haar uitgestrek en van alle waardigheid gestroop gelê het. Die bisarre prentjie was ’n genade. Sy was bang sy sal in trane uitbars as sy Stoffel sien. Nie dat sy sou omgee om voor Erik te huil nie, maar sy voel sy het haar huil oor Stoffel gehuil toe hy haar gelos het. Sy het nie eens oor die verlies van haar borste soveel gehuil soos oor Stoffel nie.
Erik het haar hand stywer vasgehou want hy het geweet dis nie vir haar lekker om Stoffel so te sien nie.
“Sorrie, Grieta.”
Hulle het nog so ’n rukkie na Stoffel in sy wit jurk staan en kyk, toe fluister Erik in haar oor: “Hy lyk soos die Pous.”
Dis toe dat die lag uit Magriet breek. Die begrafnisondernemer het geskok by die deur bly staan. Erik en Magriet het dubbeld gevou soos hulle lag. Toe begin Magriet huil saam met die lag. Sy het haar laaste bietjie huil oor Stoffel daardie dag gehuil.