Jy vra: Hoekom kry mens net in die winter griep? deur Salomé Delport
Hoekom slaan griep net in die winter toe? Is ons weerstand in die winter regtig soveel swakker dat die virus ons dan soos vuurhoutjies kan knak? Wat word van die griepvirus in die somermaande? Hiberneer dit – soort van teenoorgesteld as die winterhibernering van bere? Of het die seisoenaliteit van griep te doen met die son? Maak iets in sonlig dit dood?
Amerikaanse navorsers van die Institute for Health, Bethesda, Maryland (lees die artikel hier ) sê hulle het ’n uitstekende verklaring. Boonop is dit een wat ek en jy maklik kan inspan om die griepvirus te fnuik …
Die griepvirus kan smelt …
Dit smelt. Letterlik.
Die rede?
Om dit baie eenvoudig te verduidelik: die griepvirus se ‘vel’ bestaan uit verskillende lipiede, die wetenskaplike naam vir vette.
Hitte laat vette smelt, terwyl koue vette laat stol. Dit is presies wat met die Influenza-virus gebeur.
In die winter, spesifiek by temperature onder 15°C, solidifiseer die omhulsel tot ’n rubberagtige jel wat hard genoeg is om die virus se sagte binnekant te beskerm. Daarmee kan dit omgewingsfaktore goed oorleef – en inderdaad baie lank oorleef! Trouens, navorsing uit Switserland wys dat griepvirusse so lank as 48 dae op banknote kan oorleef.
Lees ook: Hoe skoon is jou selfoon nou eintlik?
Sodra die somer met sy warmer dae aanbreek, veroorsaak die hitte dat die griepvirus se ‘vel’ onstabiel raak. Vir alle praktiese doeleindes smelt dit, en daarmee saam verloor die Influenza-virus sy beskerming. Ten spyte daarvan dat die griepvirus in die winter ’n skrikbewind in ons liggame kan voer, is hulle maar pieperige dingetjies. Sonder die buitedop sterf hulle in groot getalle af. Daarom loop die epidemie elke jaar in September, Oktober by ons dood, en lig die virus sy kop eers weer wanneer dit bedags ook koud raak, hier teen Mei en Junie.
Lees ook: Is dit verkoue, of is dit griep?
Koue en griep
By watter temperatuur begin die griepvirus degenereer?
Dit lyk asof 15,5°C die magiese temperatuur is, altans in die VSA, waar die navorsing gedoen is. Dit is moontlik dat die virus in warmer lande, soos by ons, by effens hoër temperature kan oorleef.
Maar wat van mense in tropiese gebiede? Spring hulle griep vry? Nee, inteendeel. Hulle ervaar nie so ’n duidelike griepseisoen soos by ons nie. Griep slaan daar enige tyd van die jaar toe.
Een probleem met die teorie oor griep en temperatuursensitiwiteit is juis dat mense in hierdie streke ook griep kry. Een wyd aanvaarde verklaring is dat vogtigheid ook ’n effek op die stabiliteit van die griepvirus se omhulsel het.
Jy kan min aan vogtigheid doen – en veel meer aan hitte en/of koue. Gelukkig val Suid-Afrika buite die Trope, en kan ons dus temperatuur as ’n ekstra maatreël inspan om ons ’n voordeel bo die virus te gee.
Lees ook: Het jy griep of malaria?
Verwag die eerste griep einde Mei, begin Junie
Teen dan val die dag- en nagtemperature sterk.
Dit stem ooreen met wat die NICD jaarliks waarneem: by ons slaan die griepseisoen vanaf einde Mei, begin Junie toe.
Hul statistiek wys dat daar elke jaar 6 000 – 11 000 Suid-Afrikaners direk as gevolg van griep sterf. Rondom die helfte van hulle is bejaardes bo 65, terwyl MIV-positiewe persone ’n derde van die sterftes uitmaak. Tot 10% van almal wat griep opdoen beland in die hospitaal met pneumonie (longinfeksies).
Lees ook: 7 mites oor griep
Beskerm jouself só teen die griepvirus
Koue laat die virus oorleef. Maar die feit is dat die virus van my na jou toe moet versprei deur handkontak en/of niesdruppels. Daarom is higiëne veral in die koue maande ekstra belangrik.
Hier is ’n aftiklysie van 13 maniere waarop jy kan keer dat jy griep kry. Hoe meer jy hiervan doen, hoe beter is jou kanse om die griepvirus vry te spring:
- Was jou hande gereeld. Het jy al opgelet hoedat dokters hulle hande voor en na elke pasiënt was?
- Was jou hande veral na kontak met items wat wyd deur almal gebruik word, soos hysbakknoppies, handvatsels en deurknoppe.
- Was jou hande in lekker warm water. Vermoedelik destabiliseer hitte die griepvirus se omhulsel, sodat dit makliker afsterf.
- Was jou hande ten minste 20 sekondes lank.
- Gebruik ’n seep en was jou hande dat dit skuim.
- Skrop onder jou naels ook.
- Was jou hande na elke nies en neusblaas – of hou ’n pakkie natdoekies (wet wipes) byderhand om jou hande goed af te vee.
- Maak handewas die eerste ding wat jy doen sodra jy tuis kom.
- Bedek jou neus met ’n groot snesie voordat jy nies.
- Gooi die snesie dadelik in ’n plastieksakkie, sodat die virus nie daarvandaan verder kan sprei nie.
- As jy nie betyds ’n snesie byderhand kan kry nie, nies in jou baadjie of top in. Dit help dat die virus by jou bly en nie na ander mense sprei nie. (Gril jy? Jy hoef nie. Aan die begin, wanneer jy juis geneig is om te nies, is die niesdruppels waterig.)
- Hou jou hande ver weg van jou gesig. Baie mense het die gewoonte om kort-kort aan hul gesig te vat. Moenie. Jou hande raak aan allerlei oppervlakke waarop die griepvirus in die winter oorleef. Jou hande dien letterlik as die ‘taxi’ wat die virus na die slymvliese van jou neus en mond neem, die griepvirus se toegangsroete tot jou liggaam.
Gaan vir ’n griepinspuiting. Dit is ‘n kortpad na immuniteit, en behoort jou sowat twaalf weke lank te beskerm