Grense sonder ’n gegrens – hoe om goeie dissipline te kry deur Anys Rossouw.
Grense sonder ’n gegrens
Talle ouers begeer dat hul kinders ook soos ander kinders sal luister en doen wat van hulle verwag word: tande borsel, speelgoed bêre, gaan slaap of huiswerk doen sonder om te mor en te kla.
Maar in baie huise is die teendeel waar. Alles wat verwag word, ontlok ’n argument en dis ’n gesukkel om die kinders so ver te kry om te doen wat hulle behoort te doen. Hoe kry ander ouers dit reg? Straf? Beloning?
Kinders is kinders en selfs voorbeeldige en goed gedissiplineerde kinders het hul weerbarstige oomblikke.
Kinders verskil ook. Sekere kinders is gewoon makliker en werk makliker saam. Kinders met ontwikkelings- en ander probleme sukkel meer. Dis ook ’n perd van ’n ander kleur om hiperaktiewe, impulsiewe kinders met aandagtekortsindroom te dissiplineer.
Ouers wil graag vir hul kinders ’n goeie lewe gee en gaan uit hul pad om dinge vir hulle makliker te maak. Dit gebeur soms ten koste van die ontwikkeling van selfbeheer en goeie emosionele en sosiale vaardighede. Die ironie is dat kinders met goeie selfbeheer en ferm, gesonde grense meestal gelukkiger is as kinders wat maar kan doen wat hulle wil en gewoonlik kry wat hulle wil hê.
Die geheim van gedissiplineerde kinders rus op ’n paar belangrike pilare: Kinders moet selfbeheer en selfstandigheid aanleer. Hulle moet ’n gesonde selfbeeld, selfvertroue en selfgeloof ontwikkel. Hulle moet ’n goeie en naby verhouding met hul ouers hê.
So dikwels is dissiplinêre probleme eintlik verhoudingsprobleme en probleme met grense.
Ontwikkel ’n goeie verhouding met jou kind
Enige mens voel positief oor mense wat jou aanvaar en in jou glo. Kinders, veral jonger kinders, wil eintlik so graag die betekenisvolle mense in hul lewe tevrede stel. Die meeste kinders (en volwassenes) sal hard oefen of werk vir ’n afrigter of leier met wie hulle ’n goeie verhouding het; daardie mense wat tyd en aandag gee, vir hulle kanse gee, in hulle glo, en hulle spesiaal en vaardig laat voel. Maar hulle raak heeltemal ongemotiveerd as dié persoon afbrekend of selfs net krities is.
Volgens die boek Raising a Secure Child van Hoffman, Cooper en Powell wys vyftig jaar se navorsing dat kinders met ’n sterk konneksie en sterk band met hul ouers gelukkiger is, ’n sterker selfbeeld het, beter probleemoplossingsvaardighede het, minder angstigheid en aggressie ervaar en beter verhoudings met hul sibbe, vriende en ouers het.
Seker dié kragtigste tegniek om ’n konneksie met jou kind, of enige ander mens te maak, is die spieëltegniek. Mense doen dit instinktief van kleins af met babas. Sy maak koergeluidjies en jy goe-goe ook. Jy glimlag, sy glimlag. Jy klap handjies en hy klap handjies. Jong verliefdes doen dieselfde: “Dis vir my so lekker by jou.” “En vir my by jou.” Of by die werk: “Ek stem saam met jou plan dat ons …”
Dit gaan daaroor dat ’n spieël terugkaats wat daarin afgebeeld word, of dit nou ’n emosie, ’n idee of plan is. Dit het ’n reaksie, ’n erkenning. Dit veroordeel nie, dit gee net terug dat die ander een kan sien hoe dit lyk en moontlik self kan oordeel.
- Wees vir hulle ’n rolmodel vir gedrag, selfbeheer, bedagsaamheid, geduld en empatie teenoor ander.
- Maak tyd vir hulle. Los jou foon, rekenaar of waarmee jy besig is en lyk en wees bly en opgewonde om hulle te sien.
- Wees liefderyk en belangstellend. Vra uit. Sê vir hulle dat jy vir hulle lief is. (Nié wanneer jy raas of straf nie.) Maak seker dat jou liefde vir jou kind soos liefde voel.
- Skeduleer gereeld alleentyd met elke kind. ’n Mens bou nie werklik naby verhoudings in groepe nie, en voer ook nie oop, eerlike en intieme gesprekke in groepe nie.
- Gaan letterlik en figuurlik tot op hul vlak. Sit op die vloer of gras, of op sy bed.
- Gee aandag wanneer hulle nie daarom vra nie. Tel hulle op jou skoot; sit by hulle in die kamer en luister na hul musiek; vra uit oor die dag en hul maats; sit briefies op hul kussings en in die kosblikke; stuur ’n SMS.
- Maak fisieke kontak. Hou hulle vas tot hulle los, vryf hul hare, raak aan hulle wanneer jy praat, masseer hul rug en nek.
- Luister werklik om te verstaan: Kinders wat nie gehoor word nie, hou aan neul en sal hulle selfs wangedra.
- Maak oogkontak.
- Gebruik humor en opbouende taal en vermy sarkasme.
Kinders moet leer om verantwoordelikheid vir hul eie lewe en dade te aanvaar
Die aanleer van selfbeheer en selfstandigheid
Kinders word nie met selfbeheer en grense gebore nie. Dis ouers se taak om dié eienskappe te ontwikkel. Kinders wat glo hulle kan doen wat hulle wil, en moet kry wat hulle wil hê, is die kalante wat konstant kerm, kla en vloermoere gooi.
Kinders moet leer om verantwoordelikheid vir hul eie lewe en dade te aanvaar; om eerlik met hulself en ander te wees. ’n Oneerlike mens is iewers tussen ’n pyn, ’n verleentheid en ’n katastrofe wat wag om te gebeur. Daarom moet kinders van kleins af leer dat oneerlikheid glad nie ’n opsie is nie.
Kinders leer meer uit wat hulle sien en ervaar as uit ouers of gesagsfigure se lesings, preke, verduidelikings of uittrapsessies.
- Moenie dinge vir hulle doen wat hulle self kan doen nie en wat hul meer gedissiplineerde maats reeds self doen nie. Al neem dit langer, al kan jy dit beter doen en al sukkel hulle.
- Stel van kleins af duidelike en konsekwente grense sodat die kind leer om dit te respekteer, homself te beheer en om daarby aan te pas. Sy moet leer: skop, skree of kerm help nie. As ’n grens die moeite werd is om te stel, is dit die moeite werd om dit konsekwent te doen.
- Ignoreer negatiewe gedrag en tantrums. Moenie ingee nie, want dan leer hulle dit werk om ’n bohaai op te skop. Ek moet net baie hard skree en te kere gaan, dan kry ek my sin. Of ek moet net niks doen nie, dan spring mamma in en doen my werk, want sy wil nie hê ek moet in die moeilikheid kom of swak punte kry nie. Laat hulle maar by die skool die gevolge dra as hulle nie hul deel doen nie.
- Maar dit is belangrik dat die grense en hul frustrasies met empatie en begrip hanteer moet word, anders werk dit nie. Straf en gevolge sonder empatie leer kinders nie selfbeheer nie. Dan doen hulle op kort termyn die regte ding uit vrees vir die gevolge, en nie oor die positiewe doel van die saak nie.
- Verduidelik daarom die redes vir jou grense en versoeke. Enigiemand wat verstaan waarom hulle iets moet doen, is meer positief om dit te doen. ’n Positiewe doel en ’n gevoel van sukses, motiveer kinders.
- Moedig hom aan en ondersteun die kind se pogings. Hy moet voel jy is aan sy kant.
- Gee maksimum beheer deur die kind keuses te gee binne jou aanvaarbare en duidelike grense. “Wat wil jy vir ontbyt eet? Roosterbrood met eier, of graankos?” Dit verskuif die fokus weg van “ek wil nie eet nie”. Jou verwagting en grens, dat hy gaan ontbyt eet, staan vas. Of: “Gaan jy eers bad, of eers jou speelgoed optel?” Jy verwag steeds albei moet gedoen word.
- Gee struktuur: “André, ek vra jou mooi om … ” Begin elke opdrag daarmee. Herhaaldelik. Die kind sal dan leer dat wanneer jy so begin, jy verwag dat hy dit sal doen.
- Rig versoeke, pleks van opdragte en bevele te gee. “Sal jy asseblief vir my … ”, werk vir alle mense beter as: “Jy moet nou …”
- Bly kalm en wys wat sal help, of gee ’n teken soos ’n hand wat lig om te wys dis nou genoeg.
- Verwag van kinders om hul foute reg te maak. Negatiewe gedrag moet opgevolg word met ’n herstellende, positiewe reaksie. As boeta sy sussie ’n domkop genoem het, moet hy regmaak deur vir haar ’n briefie te skryf waarin hy vyf dinge noem wat hy van haar waardeer of bewonder; of vir haar ’n sjokolade koop.
- Gee geleenthede om weer te probeer. As hulle ongeskik is, of ’n houding het, vra rustig: “Probeer weer”, of “Wat is die towerwoord?” Herhaal dit, keer op keer tot die kind aanpassings maak. Eers dan reageer jy op sy versoek.
- Onderhandel vooraf gevolge vir negatiewe gedrag. Die kind moet weet: As ek dít doen, gaan dát gebeur. Dan is dit sy keuse. Sy gedrag moet vir hom ’n groter probleem as vir sy ouers word, dan kan hy aanpassings maak.
- Help hulle om hul frustrasies te verstaan, en toepaslik binne grense te lug. Dis oukei om kwaad te word, maar nie oukei om ander te slaan, name te noem, of dinge te breek nie. Kry saam maniere om frustrasie sterk uit te druk of af te blaas, soos om ’n kussing te slaan en te kan sê hoe hy voel.
Die ontwikkeling van ’n gesonde selfbeeld, selfvertroue en selfgeloof
Johann Wolfgang von Goethe het geskryf: “Hanteer mense asof hulle is soos hulle kan en behoort te wees, en jy help hulle om te word en te wees waartoe hulle in staat is.”
Daniel Siegel skryf in sy boek Brainstorm hoe Goethe se woorde in navorsing bevestig is. As onderwysers ingelig is dat sekere klasse begaafde kinders het, het die klasse beduidend beter as ander klasse presteer.
- Gee hulle geleenthede om te probeer, te eksperimenteer en foute te maak. Moenie perfeksie verwag nie. Dis meer werd om 70% te kry en te weet ek het dit self gedoen, as om 85% te kry en eintlik weet die kind dis sy ma se werk.
- Moedig kreatiwiteit aan.
- Fokus op hul talente en sterk punte en help hulle om aktiwiteite te kies wat die gawes ontwikkel.
- Wys hulle op ’n positiewe beeld van hulself, nie wanneer hulle sukkel en gefrustreerd is nie.
- Wees trots op positiewe dinge en optredes. Vertel voor hulle vir Pappa, Ouma of ander mense positiewe dinge oor hulle: iets wat hulle goed gedoen het, situasies waarin hulle met selfbeheer en empatie opgetree het, kreatiewe oplossings gekry het, hard gewerk het …
- Vier hul suksesse.
- Moenie voortdurend vir hulle vertel hulle is dié slimste en oulikste nie. Te veel kinders kry ’n onrealistiese beeld van hul vermoëns en dink dan hulle hoef nie te werk, of reg op te tree nie, want hulle is so slim en oulik. Dit kan gebeur dat hulle dan op maats, die werk en hul onderwysers neersien.
- Moenie hulle of hul gedrag oordeel of beoordeel nie. Leer hulle om dit self te doen, deur vrae te vra: “Wat het jy goed gedoen?” “Waarmee is jy tevrede?” Vul aan en gee positiewe terugvoer. Vra dan: “Wat sal jy graag in die toekoms anders wil doen?” Sê dan: “Dalk is daar nog iets wat jy kan probeer.” Die kind sal dan waarskynlik vir jou vra wat dit is. Dis jou leergeleentheid, wat dan nie as kritiek en negatiwiteit beleef sal word nie, maar as aanmoediging.
- Skep geleenthede vir die kind om gelukkig te wees en dinge te geniet. Vind saam met hom vreugde daarin.
Vir ’n kind om jou waardes en grense sy eie te maak, begin met jul konneksie en naby verhouding. Eintlik wil alle mense graag ander se positiewe terugvoer kry en voel dat hulle waardeer en geag word. Daarom wil mense ander tevrede stel. As dit die geval is, vereenselwig hulle hulle ook met jou waardes. Hulle begin mettertyd aan hulself dink as iemand wat netjies is, hard werk en eerlik en hulpvaardig is. Maar as hulle voel niks wat hulle doen, is ooit goed genoeg nie en hulle word nie aanvaar nie, bied hulle weerstand.
’n Mens leer nie kinders om beter op te tree, deur hulle slegter te laat voel nie. Wanneer kinders beter oor hulself voel, tree hulle beter op.
Kinders is baie meer geneig om gehoorsaam te wees en saam te werk wanneer die volwassenes in hul lewe werklik in hulle glo, na hulle luister, met empatie en begrip reageer, hul grense en verwagtinge duidelik, konsekwent en ondubbelsinnig stel en hulle dan die gevolge van hul optrede laat dra. Ouers moet daarmee begin terwyl die kinders nog kleuters is.
Lees ook: 5 wenke om jou kind empatie te leer