Sjef Snoekie Hoofstuk 6: Torte vir trane deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/MichellePatrickPhotographyLLC
Haal in met die vorige hoofstukke! Klik hier om hulle nou te lees.
Sjef Snoekie Hoofstuk 6: Torte vir trane
Tante Inge bel Snoekie wakker.
Sy moet haar agtuur by die restaurant ontmoet.
Stiptelik.
Daar is nie juis ‘n sweempie warmte in die gesprek nie. Niks van, “Welkom by ons”, of iets soortgelyk nie.
Sy het by haar pa gehoor haar ouma se laatlam-suster is nie juis Suster Sonskyn nie.
“Gaan leer by haar en die restaurant als wat jy kan en kom dan terug sodat jy jou eie restaurant kan begin,” het haar pa die aand voor haar vertrek gesê.
Sy besef sy sal op haar tande moet kners by die restaurant sowel as in haar tante se geselskap.
Halfsewe knoop sy al haar sjefsbaadjie voor haar werkstasie vas. Sy weet al watter groentes Juan vroegoggend moet verwerk en sy gaan haal dit in die groente-koelkamer.
Op pad loop sy verby die vleis-koelkamer.
Alphonse en ‘n jong sjef is besig om die vleis te weeg.
Bingo! Hy het haar geglo!
Halfpad deur haar skillery kom staan hy by haar.
“Jy was reg oor die gewig van die vleis. Maar ek sal verkies as jy dit met absoluut niemand bespreek nie. Ook nie met Andrea as sy jou weer daaroor aanvat nie.”
Hy is kortaf en saaklik.
Glad nie die gawe man wat die vorige aand haar trane afgevee het nie.
Net voor agt daal ‘n ysige stilte oor die kombuis.
Sy sien ‘n statige lang vrou na Alphonse se kantoor sweef. Haar duifgrys-hare is in ‘n stylvolle bob geknip en haar tweestuk-pakkie gil “peperduur” uit.
Tante Inge het gearriveer.
Na ‘n paar minute bulder Alphonse oor die kombuis, “Suzanne, my kantoor, asseblief!”
Snoekie sug.
Sy het nou net die ander junior sjefs se guns gewen, Die laaste ding wat sy nou nodig het, is om as ‘n Du Monde uitgesonder te word. Sy is hier om te leer, nie omdat sy ‘n Du Monde-nasaat is nie.
“Kleine Suzanne!” Tante Inge buig af en soen haar op beide wange.
“Mmm, laat ek sien, ‘n Du Monde uitgeknip. Daardie swart krulhare en pragtige spierwit vel. Ons moeder se viooltjie-oë en pragtige borste. Net jammer jy het jou moeder se geneigdheid om oorgewig te wees. Toemaar, ons sal jou gou regruk. Net ‘n bietjie harde werk. Jy sal dit gou aanleer.”
Alphonse onderbreek die matriarg.
“Suzanne het haar reeds bewys as baie harde werker. Op daardie gebied hoef ek haar niks te leer nie.”
Snoekie kom gou agter Alphonse hou daarvan om tante Inge op haar plek te sit.
“Ai, ai, Alphonse! Fyn trap! Moenie onder die betowering van die enetjie se onskuldige gesiggie verval nie. Daar is Du Monde-bloed in haar are en ek gaan seker maak ek haal die beste uit haar gene. Ek sal van jou ‘n volbloed Du Monde maak, Suzanne!”
Snoekie byt die binnekant van haar wang in frustrasie.
“Dankie, Tante, maar ek is baie trots op al die elemente van my herkoms. En ja, ek is hier om te leer. Van kookkuns.”
Inge gee ‘n hooghartige laggie.
“Hmmm, Lucille het my vertel jy is ‘n vurige enetjie. Net jammer ek hoor dit het jou so lank geneem om deur daardie nikswerd-kêreltjie van jou van die afgelope drie jaar te sien. Lucille het my vertel hoe hy met jou gemors het. Ai, ai, geen Du Monde is so pateties nie! Ek sal jou op meer as die gebied van die kookuns onder hande moet neem.”
Snoekie bloos bloedrooi oor haar private lewe wat so voor Alphonse oopgevlek word.
Tante Inge is die teenoorgestelde van haar ouma Lucille. Sy is hooghartig en arrogant.
“Ons begin by jou voorkoms. Al werk jy in ‘n besige kombuis, hoef jy nie soos ‘n skropvrou te lyk nie. Ek sal die regte grimering vir jou bring. Dit sal bietjie kleur aan jou wange gee. Daardie vol lippies sal baie beter vertoon met rooi lipstif, en mens, aksentueer tog asseblief daardie mooi oë! En, sit regop en moenie jou bene so kruis nie! So, sien, dis hoe ‘n vrou behoorlik sit. Het jou ouma al haar styl in Afrika verleer?”
Inge sit met haar bene teen mekaar. Dit is effe na links gedraai. Haar hande netjies op die skoot. Haar rug kiertsregop. Mens sou sweer sy is die Queen!
Inge draai genadig na Alphonse.
“Nou oor die ander aspek van Suzanne se opleiding. Ek wil hê jy moet haar ekstra streng hanteer. Sy het dissipline nodig in haar werk. As sy die dag hier uitstap, moet sy ‘n topsjef wees. Sy moet die Du Monde-naam uitdra in die kulinêre bedryf. Vat die bietjie potensiaal wat sy het en bou daarop.”
Alphonse sit aandagtig na Inge en luister.
Dan staan hy in sy volle lengte op en kyk reguit na sy baas.
“Suzanne het ook in die paar dae getoon sy het geweldige potensiaal en inisiatief. Sy is reeds ‘n bedrewe sjef en ek is dankbaar om haar in my span te hê. Ek sal dus verkies dat die kookopleiding aan my oorgelaat word. Sy is immers hier omdat sy ‘n passie vir kosmaak het en ek glo dit is haar uitsluitlike fokuspunt. Wat haar voorkoms betref, glo ek sy is ‘n vrou in eie reg en moet toegelaat word om haar eie styl uit te leef. Soos u weet, is ek nie ‘n voorstaander van modeneigings en swaar grimering in my kombuis nie. Ek kan nie bekostig dat ‘n sjef gedurig haar grimering gaan opknap nie. Ons is hier om te werk. Suzanne pas perfek in die rol.”
Inge se hooghartige laggie weerklink deur die kantoor.
“O Alphonse! Gedurig in opstand teen my! Maar, dis soos ek jou verkies. Dan laat ek Suzanne aan jou oor. Maak ‘n sjef van haar. Maar glo my, ek gaan van haar nog ‘n opregte Du Monde dame maak! Sy was te lank onder daardie sagte suster van my se invloed. Dit moet die Suid-Afrikaanse lug wees. Wag maar, ek gaan elke stukkie Suid-Afrika uit hierdie enetjie dryf. Ek gaan haar in ‘n Franse swaan verander. Is jy reg daarvoor, Suzanne? Toe toe, regop sit!”
Inge wag nie om te hoor wat Alphonse of Snoekie antwoord nie, sy staan op, glimlag sjarmant in beide se koers, dan stap sy met swier uit.
Snoekie voel effe oorbluf. Verneder. Woedend. Sy is lus en gaan pak haar goed en gaan terug na Suid-Afrika.
Dis Alphonse wat haar gedagtes rehabiliteer.
“Jy gaan nie toelaat dat sy jou intimideer nie. Jy is die eerste Du Monde wat ‘n internskap kom doen, wat nie op die naam hoef te ry nie. Jy het potensiaal, en ek dink sy weet dit. Dit is hoekom sy jou uitdaag.”
Snoekie sluk nog soos ‘n vis op droë grond.
Alphonse bulder ‘n opdrag na buite die kantoor en ‘n jong sjef bring tee en sjokolade-torte. Hy skink die tee en stoot die torte oor die tafel.
“Eet, dit sal jou beter laat voel. Niks laaf mens se gemoed soos my sjokolade-torte nie. Ek het altyd een in die yskas.”
Snoekie vat groot happe tee en tert om haar emosie te bedwing. Alphonse sit in stilte na haar en kyk.
Dan praat hy sag.
“Dis ook goed vir ‘n gebroke hart.”
Dit moes hy nooit gesê het nie.
Snoekie se hart is te week vir empatie.
Sy bars in trane uit. Sy huil dat sy snork en snuif.
‘n Onvleiende spektakel, besef sy, maar sy gee nie om nie.
Sy ervaar ‘n aanval van intense gatvolheid en sy is nie meer lus om in Frankryk te bly nie.
Alphonse skink nog tee en hou ‘n skoon sakdoek na haar uit. Nog ‘n dik sny torte beland op haar bord.
“Eet!” beveel hy.
Sy gehoorsaam.
“Ek gaan nie lipstiek dra nie,” kondig sy skielik aan.
“Nee, jy gaan nie,” beaam hy. “Jy is ‘n sjef, nie ‘n modepop nie.”
Sy vat nog ‘n hap.
“Sy moet my en my dik lyfie uitlos.”
Hy knik instemmend.
“Never trust a skinny cook!”
Hy lag. Sy kan nie help om ook te lag nie. ‘n Diep, verligtende lag.
“So, jy dink ook ek is dik?”
Hy lag nou heerlik.
“Dit is ‘n baie gevaarlike vraag om te beantwoord. Veral as jy ‘n koekvurkie in jou hand het!”
Sy eet haar bordjie skoon terwyl hy selftevrede toekyk. Sy torte is onfeilbaar teen onsteltenis.
“Dankie, nou kan ek weer gaan werk. En dankie dat jy my teen ou Godzilla verdedig het.”
Alphonse staan galant op.
“Snoekie, net nog een ding. Ek is die baas in hierdie kombuis. Dis ‘n harde leerskool, en as jy by my wil leer, hou jy by my reëls. Jy hou jou kruie en speserye uit my kombuis!”
“Reg, Sjef!”
Voor sy uitstap, bulder hy dat die hele kantoor hom kan hoor.
“Gaan pak nou die kruie- en speserye-rakke reg en maak vir my ‘n lys van die geregte waarin jy elkeen sal wil gebruik! Dis tyd dat jy leer watter geurmiddels ons in Frankryk gebruik! Roer jou, Suzanne, ek wil nie heeldag daarvoor wag nie!”
Met die smaak van die sjokolade-torte wat nog op haar tong kuier, weet Snoekie, dinge is weer terug na normaal.
Maar dit het ‘n tinteling deur haar gestuur toe hy haar “Snoekie” genoem het.
‘n Heerlike tinteling!
Bak saam!
Nog gratis vermaak
Lees Martie se vorige vervolgverhaal, Vlam. Klik hier om te begin lees
Luister na ons gratis boekvoorlesings! Klik op die pienk speelknoppie om te begin luister.