Deur Mariette Snyman
As jy of iemand na aan jou gordelroos – ook bekend as shingles of herpes zoster – gehad het, weet jy daar’s niks rooskleurigs omtrent dié toestand nie. Dit kan akute senuweepyn veroorsaak en kommerwekkende komplikasies tot gevolg hê. Hoe gouer dit gediagnoseer en behandel word, hoe beter.
“Gordelroos kom redelik algemeen voor, veral tydens sekere seisoene, soos herfs en lente,” sê dr Johan le Roux, ’n algemene praktisyn van Johannesburg. “Enigiemand wat waterpokkies gehad het, kan dit kry: Die waterpokkievirus is steeds in die liggaam en word geheraktiveer. Hoewel een van my pasiënte met gordelroos ’n kind was, is dit meer algemeen by 50-plussers en mense wie se immuunstelsel onder druk is, byvoorbeeld individue wat MIV-positief toets.”
Dr Johan le Roux werp lig op nog ’n paar algemene vrae hieronder:
Watter tekens kan op gordelroos dui?
In die prodroom- of beginfase is daar ’n brand- of jeuksensasie op die vel. Twee tot drie dae later vorm ’n rooi uitslag wat aanvanklik soos ’n insekbyt kan lyk, maar dan nóg blasies vorm. Wanneer die uitslag ten volle ontwikkel het, kan die letsels besonder pynlik wees en komplikasies tot gevolg hê.
Gordelroos kan op verskillende maniere uitspeel. Afgesien van die herpes zoster generalisata of algemene zoster-uitslag, soos mense dit ken, behels Ramsay Hunt-sindroom die aantasting van die gesigsenuwee naby een van die ore. Die simptome kan duiseligheid en gehoorverlies in dié oor insluit. Ek verwys pasiënte met dié simptome na ’n oor-, neus- en keelspesialis.
Soms tas gordelroos die oftalmiese senuwee aan. Dit affekteer die oog en kan in ernstige gevalle die verlies van sig veroorsaak. Hierdie pasiënte word na ’n oogspesialis verwys.
Intra-orale zoster – ’n skaars toestand – veroorsaak letsels aan die binnekant van die mond en ek verwys die persoon na ’n oor-, neus- en keelspesialis.
Die belangrikste tekens om na op te let, is die brand- of jeuksensasie op die vel, veral as dit net aan die een kant van die liggaam voorkom – aan die linker- óf regterkant. Gordelroos kan enige deel van die liggaam aantas. Dis noodsaaklik om onmiddellik dokter toe te gaan, beklemtoon dr Johan. As jy ’n bietjie langer wag, wat beslis nie aanbeveel word nie, sal ’n rooi uitslag vorm, sê hy.
Waaruit bestaan die behandeling?
Hoe gouer ’n antivirale middel toegedien word, hoe beter; verkieslik binne 72 uur nadat die uitslag verskyn het. In sommige gevalle word kortisoon gebruik, maar in ’n algemene praktyk gebeur dit selde. Dis baie belangrik om doeltreffende pynverligting te verskaf. In die akute fase het pynverligting ook ’n ander funksie: Dit verskraal die kans dat post-herpetiese neuralgie, ’n ongewensde komplikasie, ontwikkel.
Soms skryf ons ’n antidepressant voor. Dit dra tot pynverligting by en kan ’n pasiënt help om beter te slaap. Party dokters gee ’n antihistamien om die jeuksensasie te help onderdruk.
Daar is lokale middels wat aan die vel gesmeer kan word sodra die blasies genees het, maar hierdie middels mag glad nie gebruik word terwyl daar nog blasies is nie.
Is dit waar dat herpes zoster aansteeklik is?
Ja, solank die blasies teenwoordig is, kan ’n pasiënt met gordelroos waterpokkies aan iemand wat nog nie waterpokkies gehad het nie, oordra. Jy kan nie gordelroos aansteek by ’n pasiënt met gordelroos nie.
Sodra die blasies weg is en die hele gebied ’n kors gevorm het – wat ongeveer sewe dae neem – is die persoon nie meer aansteeklik nie. Dis belangrik om te verstaan dat die virus deur direkte kontak met die blasies oorgedra word. As die uitslag onder jou klere is, byvoorbeeld op jou rug, is jy minder aansteeklik as wanneer die uitslag op jou gesig is.
Komplikasies en voorkoming
Daar kan verskeie ernstige komplikasies wees, sê dr Johan. Die algemeenste is post-herpetiese neuralgie. Neuralgie beteken senuweepyn. Om dit eenvoudig te stel: Die spesifieke senuweevesels waar die infeksie was, is beskadig. Gevolglik is die boodskappe wat van die vel na die brein teruggaan nie normaal nie, maar “deurmekaar”. Dis hierdie boodskappe wat die chroniese pyn veroorsaak. Die toestand kan weke, maande of selfs ’n jaar lank duur.
’n Verdere moontlike komplikasie behels verlies aan sig, selfs ’n permanente verlies, weens skade aan die oog. Gordelroos kan ook ander neurologiese komplikasies , onder meer infeksie in die brein of enkefalitis, veroorsaak. Dit kan ook sekere gesigsenuwees aantas sodat die een kant van die gesig verlam raak. Soms herstel dit volledig, soms gedeeltelik, soms glad nie en lei tot permanente gesigsverlamming. Neurologiese komplikasies sluit gehoor- en balansversteurings in. Gordelroos wat nie doeltreffend behandel word nie, kan verder ernstige, sekondêre bakteriële velinfeksies tot gevolg hê.
Om herpes zoster te help voorkom, is dit raadsaam om ’n gesonde, gebalanseerde leefstyl te handhaaf. Dit klink dalk geyk, maar gesonde eetgewoontes, genoeg oefening en voldoende slaap is noodsaaklik. Moet jou nie oorwerk nie – sorg vir tyd om te ontspan en te herlaai. Hoe meer spanning jy beleef, hoe swakker funksioneer jou immuunstelsel en hoe makliker kan jy gordelroos kry. Vind maniere om jou stresvlak te verlaag en neem daagliks ’n goeie multivitamien.
Daar is ’n inenting teen gordelroos beskikbaar; dit word sterk aanbeveel vir mense bo 50 wat waterpokkies gehad het. Daar is ook ’n inenting vir mense van 19 jaar en ouer wie se immuunstelsel onder druk is.
Die inenting gaan nie noodwendig keer dat jy gordelroos kry nie, maar wel daartoe bydra dat die verloop van die siekte en moontlike komplikasies soos post-herpetiese neuralgie minder ernstig is.
Lees ook: Epilepsie: wat ek as ’n vrou met epilepsie wens jy weet
Is daar enige verband tussen gordelroos en seksueel oordraagbare infeksies?
Nee. Die ander tipe herpes, herpes simplex tipes 1 en 2, is onderskeidelik vir koorsblare en die seksueel oordraagbare infeksie verantwoordelik. Dit het niks met gordelroos te make nie. Herpes simplex veroorsaak nie waterpokkies nie, affekteer nie deurgaans dieselfde gedeelte nie en kom nie noodwendig net aan die een kant van die liggaam voor nie. Die blasies lyk ook ’n bietjie anders.
Dr Johan le Roux werk by die Meldene Medicross, Randburg en kan by 011 482 2291 gekontak word.
Lees ook: Swaar menstruasie: het jy endometriose?