kategorieë: Blogs

Gordel vas

Dit is elke oggend dieselfde prentjie: Kinders tuimel jillend en gillend en lewenslustig by die motordeure uit en Mamma op die voorste sitplek lig gou vir Babasus van haar skoot af om die res van die kroos koebaai te soen in die skool se parkeerterrein.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

’n Gesellige voorskoolse prentjie? Nee. ’n Foto wat gebruik kan word in ’n strafbare manslag-saak. Iets waarvoor geen ouer ooit behoort pa te staan nie, is om vir die dood van jou eie kind aanspreeklik gehou te word. Tog speel soveel ouers soggens en smiddae en saans en “net gou op pad kafee toe” en op die langpad na ’n welverdiende vakansie, met hulle eie kinders se lewe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Het jy geweet dat jy ’n landswet oortree as jy jou kind toelaat om sonder ’n veiligheidsgordel in jou bewegende voertuig te sit? Het jy geweet dat jy teen die natuurwette optree omdat jy willens en wetens jou kind nie teen ’n moontlik fatale ongeluk probeer beskerm nie? Is jy oningelig, aspris of domastrant?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Reeds in 2009 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bevind dat sterfgevalle weens motorongelukke in Suid-Afrika vir babas tussen 0 en 4 jaar en seuns tussen 5 en 14 jaar, dubbeld die koers is waarteen kinders wêreldwyd in motorongelukke omkom.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Is Suid-Afrikaanse motorbestuurders dus dubbeld so dom?

Statistieke dui aan dat meer kinders in Suid-Afrika sterf weens motorongelukke as weens enige ander ongeluk. Volgens die Padverkeerbestuurskoöperasie was daar reeds in 2009 meer as 700 000 padongelukke per jaar met drie kinders wat daagliks sterf in ’n motorongeluk. Dink aan jou kind en haar twee beste maatjies – een van hulle drie kan vandag sterf weens ’n nonchalante grootmens wat nie dink dat dit ooit met sy of haar kind sal gebeur nie. Dit is dalk nie jóú kind nie, maar dit is dalk haar beste maatjie wat jy saamry ballet toe.

Na ’n paar jaar as verslaggewer wat op die mees onmoontlike tye snags en oor naweke ongelukstonele moes besoek, weet ek dat die dappere domstrantes hulle nou nie juis aan statistieke steur nie. Dikwels ongelukkig ook nie die geleerdes wat veronderstel is om van beter te weet nie.

So dikwels sien ek hoe ’n pa of ma by die skool of mall se parkeerarea ingery kom met kinders wat óf los voor op die sitplek sit en waai, óf wuifend agter op die sitplek rondhop.

Toe my dogtertjie ’n pap babatjie in ’n Snug’n’Safe-motorstoeltjie was, het ek een baie moeë oggend na ek haar in die motor gelaai het, by die motorhuis uitgery en skielik het my seuntjie van 23 maande se gille deur die motor weergalm: “Mamma, vasmaak, Mamma, my VASMAAK!” My seuntjie was nog nie twee jaar oud nie. Maar, hy het met die uitry uit die motorhuis onmiddellik besef ek het nagelaat om seker te maak dat sy motorstoeltjie se veiligheidsgordel behoorlik “ingekliek” het en hy vas is op die agtersitplek soos sy babasussie.

Hy was 23 maande oud toe hy reeds daardie besef gehad het van wat reg en wat veilig is – wat is jou as grootmens en ouer se verskoning? Hy het gekliek – hoekom kan jy nie?

Ek hoor soms die flou verskoning: “My kind hou nie van sy karstoeltjie nie, ai foeitog, en hy gil só as ek hom daarin sit, so nou ry hy maar op my skoot of speel op die agtersitplek waar hy niemand kan pla nie.”

Regtig? So, as jou kind ’n voorliefde vir muurproppe het, dan sal jy hom toelaat om sy vingertjie in te druk solank hy nie in jou ore skree nie? As hy op 14 in jou ore begin gil omdat hy ook eerder oor naweke wil partytjie hou en met dwelms eksperimenteer soos sy skoolmaat, dan sal jy hom toelaat? Laat hom dan los in die motor of op jou skoot rondry en die kans is goed dat hy binnekort niemand gaan pla nie. Hy sal moontlik een van bykans 2 000 sterfgevalle jaarliks op ons land se paaie wees.

Volgens ’n persverklaring deur ’n voormalige minister van gesondheid, Theuns Botha, is motorongelukke verantwoordelik vir 32% van kindersterftes per jaar. Die Rooikruis-kinderhospitaal het reeds in 2011 sowat 300 kinders per jaar behandel wat passassiers in motorongelukke was. Bykans 90% van hulle was nie behoorlik vasgegordel in die ongeluksmotor nie.

Dit is welbekend dat die kanse op oorlewing in ’n motorongeluk verhoog indien die passassier vasgegordel was, juis omdat sitplekgordels keer dat ’n passassier uit ’n motor geslinger word. ’n Studie wat die regering in 2011 onderskryf het, het bevind dat 75% van passassiers wat uit ’n motor geslinger word, sterf.

’n Kind se gebeentes soos sy ribbes, is, anders as dié van ‘n volwassene, meer geneig om te buig as breek en dit veroorsaak dat die slag van ’n botsing ’n direkte impak op die kind se longe en hart kan hê. Om hierdie rede is ’n spesiale kinderbeskermingsmeganisme belangrik.

Wat behels hierdie “meganismes”? Dit is eenvoudig: Babas onder ’n jaar oud wat minder as 10 kg weeg, moet in ’n veiligheidstoeltjie op die agtersitplek vasgegordel wees in die truposisie. Vra enige babawinkel om jou hiermee te help of YouTube dit.

Kleuters en jong kinders mag nie op die voorste sitplek van ’n begewende voertuig vervoer word nie. Hulle móét op die agtersitplek en verkieslik in ’n gepaste motorstoeltjie, vasgegordel wees.

Volgens wet is dit verder die bestuurder se verantwoordelikheid om seker te maak dat almal in die motor vasgegordel is. Dit is ’n misdaad om nie seker te maak dat ’n kind onder 14 jaar vasgegordel is nie.

Gaan Google gerus Bepaling 213 van die Wet op Nasionale Padveiligheid (Wet 93 van 1996) vir meer inligting. Ons lees heeltemal te dikwels van ’n kinderlewetjie wat verby is omdat hy of sy deur ’n voorruit geslinger is. Dit is meestal ouers van wie almal getuig hulle “uiters sorgsaam en verantwoordelik” was. Maar, die huil oor ’n kinderlewe wat deur iets so eenvoudigs soos ’n veiligheidsgordel of karstoeltjie gespaar kon word, is ’n baie hartseer huil vol verwyte wat vir baie jare weergalm.

Die Kom Veilig Daar-veldtog sê: “Met ’n motorongeluk het ’n mens gewoonlik net ’n halwe sekonde om te reageer. Kry ’n stophorlosie en kyk hoe vinnig dit is. Dit laat nie veel tyd om te dink en te reageer nie – dra dus altyd jou veiligheidsgordel!”

Die wintervakansie is hier en baie gesinne lê duisende kilometer af op ons land se paaie. Hoewel ongelukke gebeur, is dit jou as ouer se plig om alles in jou vermoë te doen om seker te maak jou minderjarige passassiers het die beste kans op oorlewing sou die ondenkbare gebeur. Maak sommer ook seker die meerderjarige passassiers volg ook die reëls en gordel altyd vas, want dit is ’n goeie voorbeeld wat maak dat kinders sien wat reg en wat verkeerd is.

* Skakel 0861 400 800 met oortreders se motor se registrasienommer, die datum en die plek wat dit gebeur het. Die Padverkeerbestuurskorporasie sal dit van hier af verder neem. Jy red dalk net ’n lewe.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

5 mites oor olyfolie

Moenie hierdie 5 mites oor olyfolie glo nie: Ingevoerde olyfolie is beter as Suid-Afrikaanse olyfolie…

7 hours Gelede

Gebakte vis in geurige tamatiesous

Gebakte vis in geurige tamatiesous Lees ook: RESEP: Armand Aucamp se witvis met vanieljesous van Tahiti…

7 hours Gelede

Tamatieroomsop met kaasroosterbroodjies

Hierdie lekker resep vir tamatiesop is ideaal vir ’n vinnige aandete in die middel van…

8 hours Gelede

Lekker opskiet eet-ervaring by Vergelegen

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en Vergelegen Die historiese landgoed, Vergelegen op Somerset-Wes, het…

9 hours Gelede

Vinnige lamskerrie

Vinnige lamskerrie 4 porsies Bestanddele: 1 ui, fyngekap 100 g kerriepasta 1 kg lamsvleis, in…

11 hours Gelede

Kry só jou tuin reg in Julie

Julie: Doen dit in die tuin     1. Snoei rose teen einde Julie of…

11 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.