Glenshiel-huis, Westcliff
Hierdie historiese huis wat deur Sir Herbert Baker ontwerp is, speel vanjaar weer gasheer vir ’n mark waar jy lieflike Kersgeskenke kan koop – insluitend linne, keramiekware, smul-kosse, juwele, dekor-items, ontwerpersakke, swemklere, plante, gordels, kralewerk, speelgoed en serpe.
Die fondse wat by die mark ingesamel word, word gebruik deur die Orde van St John, ’n nie-winsgewende organisasie, om lede van gemarginaliseerde gemeenskappe op te lei in eerstehulp en gemeenskapsgesondheidsorg.
Die orde van St John is ’n internasionale liefdadigheidsorganisasie. Plaaslik lei hulle mense op in noodhulp, sorg vir mense met HIV/VIGS en oogsorg.
Die mark se hekke open Vrydag om 9-uur die oggend en dit sluit saans om 6-uur. Saterdag is die mark oop van 09.00 tot 17.00 en Sondag van 09.00 tot 14.00.
Die mark word jaarliks aangebied en is een van die lekkerste Kersmarkte in Johannesburg. Dit is bekend vir die goeie plaaslike en internasionale produkte waarmee mense hul Kerskouse kan opvul. Vanjaar sal besoekers 78 verskillende stalletjies kan besoek.
Een van die hoogtepunte is die gesogte Kersfeeskoeke van Liz Wood!
Gaste sal ook die geleentheid kry om die historiese huis te besigtig. Van die antieke baniere van die Orde van St John sal ook te sien wees.
Verder sal gaste ook kan smul aan gourmet-geregte, plaaslike biere, tradisionele tee en soetigheid.
Vir meer inligting besoek die Glenshiel Christmas Fair 2016-Facebookblad hier.