Ons het met hierdie energieke jongelinge gesels oor die nuwe album en vasgestel dat oppervlakkigheid nie deel van hul woordeskat is nie.
Waarom die titel ‘Verganklik en Afhanklik’?
Ons verwys na die idee dat mense altyd graag goed wil doen om uit te staan en onthou te word, maar in dieselfde sin steeds afhanklik bly van soveel dinge en ander mense. Op die ou end gaan goed maar verby en is daar min wat vir ewig hou, maar dalk is dit juis die geleentheid om opnuut te begin.
Wat is jul gunstelingliedjie op die album, hoekom?
Dis nie maklik om te antwoord nie. Ons hou natuurlik van al die liedjies, maar soos ons deurlopend met die liedjies te doen kry, wissel dit maar. Op die oomblik is dit seker “Hoe meer ek voel” aangesien ons hom pas eers in ons optredes begin doen het en dis nogal lekker om hom te speel, want van die ritmes is ‘n bietjie buitengewoon.
Hierdie album het twee jaar ná jul vorige album verskyn. Was die skryfproses anders as met die vorige album(s)?
Die skryfproses is vir my nooit noodwendig dieselfde nie, selfs nie van liedjie tot liedjie nie. Ek dink ek was oor die algemeen meer ontspanne toe ek aan die liedjies op die album gewerk het, so in ’n sin was dit gemakliker.
Is daar ’n sentrale tema in die album?
Daar is definitief ’n paar deurlopende temas soos “27” wat verwys na die ouderdom waarop talle legendariese kunstenaars al oorlede is, maar dis ook byvoorbeeld hoe lank Nelson Mandela in die tronk was voor sy lewe opnuut begin het. So daar is baie te make met hoe omstandighede, wat dikwels as negatief beskou kan word (soos mens se verganklikheid) dalk juis ’n goeie uitkoms ook kan hê.
Is die album dieper en ernstiger as jul vorige albums?
Musikaal klink die album opgewekter. Dis moeilik om te sê of die inhoud noodwendig vir mense ernstiger sal wees, want luisteraars se eie verwysingsraamwerk speel altyd ’n rol in die interpretasie. Tog, omdat ‘n mens ‘n bietjie ouer is, word sommige idees hopelik op ’n meer volwasse manier oorgedra en jy groei ook heeltyd as skrywer.
Hoe sou julle sê het julle musikaal gegroei?
Optredes bied ’n ondervinding wat ‘n mens se horisonne nogal verbreed. Ons doen dit nou al vir ’n ruk saam en kan daarom makliker met mekaar kommunikeer oor die musiek, so dit maak dat ons beter saamspeel en die musiek saam vorm.
Deon, jy sê jy het besluit om nie te veel te dink oor wat jy skryf nie en net te skryf wat jy voel. Was dit vir jou makliker of moeiliker om so te skryf?
Vir my was dit makliker, want dit het my gehelp om vas te stel wat ek te sê het. Ek het eerder ná die tyd agtergekom watter onderwerpe my beïnvloed, as wat ek bewustelik by die onderwerp begin het. Maar dit beteken nie ek het net blindelings ’n klomp emosies neergeskryf nie. Meestal skaaf ‘n mens baie aan ’n liedjie voor dit klaar is, maar ek was minder onder druk om iets “belangriks” kwyt te raak.
Werk julle almal saam aan die liedjieskryfproses?
Deon skryf die basiese liedjies en dan voeg elke instrument ‘n bietjie van sy eie gevoel by in die ateljee.
Julle sing ook ’n liedjie van Johannes Kerkorrel. Waarom?
Ek (Deon) is al vir lank ’n groot aanhanger. Die liedjie wat ons doen is ook nie só bekend soos “Hillbrow” of “Halala Afrika” nie. Tog spreek dit verbasend goed tot ons hede. So daar was iets spesiaals vasgevang in die liedjie wat ons graag wou deel.
Baie van die liedjies bevat lirieke wat julle lankal geskryf het maar nooit opgeneem het nie. Waarom het julle besluit om dit nou te doen?
Soms kom ’n liedjie van lank terug net weer in ‘n mens se kop. Veral wanneer daar goed gebeur wat jou herinner aan hoe jy gevoel het toe dit oorspronklik geskryf is. Dit is ’n geval waar van hierdie lirieke soveel nuwe betekenis gekry het dat ek dit regtig graag wou gebruik.
Vertel ons meer van die liedjie ‘Menslik’.
Dis een van die liedjies van lank terug. Dit handel ‘n bietjie oor verlies en foute maak. Die meeste mense het seker al êrens gevoel dinge raak te veel en dan is die beste verklaring aan ander en jouself dat jy ook maar net ’n mens is. Daar is iets vreemds aan die woord “Menslik”, want dit sê iets van ’n gemene deler, maar tog is elke mens ook opvallend anders.
Wie of wat inspireer julle musiek? Hoekom?
Natuurlik inspireer ander musiek ons musiek. Dikwels as jy sien hoe iemand anders ’n ongelooflike liedjie skryf, of goed op die verhoog is, dan moedig dit jou aan om ook iets daarvan te wil hê. Verder word ons baie geïnspireer deur die dinge wat ons elke dag omring: mense, gebeure, die nuus, treffende stories … Musiek kan nogal baie goed die dinge vasvang wat jy nie kan verwoord nie.
Watter ander Afrikaanse rockers is vir julle opwindend?
Ons hou omtrent van almal wat tans suksesvol is in Afrikaanse rock. Ons voel die bedryf het so gegroei selfs net vandat ons begin het en die aanbod van Afrikaanse rock is op die oomblik so divers en uitstekend. As ons wel iemand moet uitsonder, het ons ’n sagte plekkie vir Die Tuindwergies, want hul liedjies en musikante is uitsonderlik goed en dan is hulle boonop lekker ouens om mee oor die weg te kom ook!
Wat is jul gunsteling- Afrikaanse spreekwoord?
“Een klein dorpie op ’n slag.” Dis wel ons eie, so andersins sal ons seker moet sê: “Saggies praat is duiwelsraad.”
Beskryf jul groep in vyf woorde.
Drie passievolle, uiteenlopende, pret musikante.