Illse Roos beskryf haarself as “vol paradokse”. “Eintlik pas my persoonlike ritme glad nie by aktrise-wees nie. Glans en roem is nie vir my nie. Ek is op my heel gemaklikste as ek kaalvoet en sonder grimering op ons familieplaas kan wees. Ek het hierdie konstante behoefte aan die natuur. Ek wil stap, by die see wees, bergklim – saam met my man en seuns, natuurlik. Familie is vir my die belangrikste. Ek het nie ’n behoefte aan mooi klere of materiële dinge nie. Ek sal maklik ’n kluisenaar kan word.”
Die sleutel vir dié wegskram van die kollig lê seker in haar grootwordjare op die Roos-familieplaas naby Stellenbosch. Sy is nou nog aktief betrokke by die bemarking van die plaas se wyne, en as sy eers daaroor praat, vóél jy haar passie en hoor jy waar haar hart lê, al is sy al meer as twee dekades ’n Johannesburger.
Anders as soveel ander aktrises, wou Illse nie van kleintyd af verhoog toe nie. “Ek het nie eens op skool drama geneem nie. Ek is universiteit toe om joernalis te word.” Vir haar was joernalistiek ’n logiese keuse. “Ek is lief vir Afrikaans – vir my een van die mooiste tale onder die son. My pa praat boonop die mooiste idiomatiese Afrikaans, jy kan maar sê hy skilder met die taal. Jy kan byna die woorde voor jou sien.”
Ek het nie eens op skool drama geneem nie. Ek is universiteit toe om joernalis te word
Maar toe sy byvakke vir haar B.A.-graad moes kies, was daar net mooi niks wat haar belangstelling geprikkel het nie. Toe begin die soektog na interessante vakke. “Die teorie van dramakunde het my gemesmeraais en drie maande die akademiese jaar in het ek gaan smeek vir ’n oudisie om tot die dramakursus toegelaat te word. So, ek het met ’n ompad aktrise geword – dis seker hoekom ek nog altyd so seker daarvan is dat dit is wat ek wil wees.”
Deur die jare het ons haar in verskeie produksies gesien. Haar TV-debuut was in Adam, en daarna onder meer Agter elke man (Die Movie), Egoli, Die Prins van Pretoria, 7de Laan en meer onlangs Amalia, Erfsondes en Getroud met rugby. Daar was musiekproduksies oor Brel en Brecht, die baie gewilde Grease, en ’n eie album, Die Blou Kafee, en binnekort sien ons haar ook in ’n kortfliek by kykNET se Silwerskerm-rolprentfees.
Sy gee “alles” vir ’n produksie. “Maar as daardie roomkan eers leeg is, moet ek uittree. Dis goed vir my kreatiwiteit om vir ’n slag vryskut te wees. Dit haal ’n mens uit jou gemaksone. Ek dink dis nooit goed om op so ’n veilige plek te lê dat jy later agteroor lê nie. My senupunte moet tintel,” sê sy laggend. Haar lag is hartlik, onpretensieus. Die vrou voor my ook – ek kan nie eens mooi sien of sy grimering dra nie.
Verhoog is haar groot liefde, en vanjaar keer sy terug daarheen in Labarint teenoor Deon Lotz. “Ek wil nie eens probeer onthou wanneer laas ek in ’n verhoogstuk was nie. Hierdie teks, geskryf deur Daleen Kruger, is ’n bittersoet lewensdrama waarmee almal hulle kan vereenselwig. In ’n neutedop: dit gaan oor ’n man wat sy werk verloor, en hoe dit sy huwelik en alles daarmee saam raak. Ons het by die Vryfees daarmee gedebuteer en ongelooflike terugvoer van gehore, veral van mans, gekry.”
Die terugkeer na die verhoog is vir haar lekker. “Ek is terug by die basiese dinge van toneelspel. Verhoogwerk is rou, eerlik, en daar moet ’n wisselwerking met die gehoor wees.” Nie dat sy nie haar TV-loopbaan geniet nie. “Dis nog nie verby nie, maar ek dink aan hierdie tyd as ’n Sabbatsjaar.”
Ek is terug by die basiese dinge van toneelspel
Sy het voorheen al ook sulke Sabbatstye geneem, altesaam ses jaar. “Dan was ek net ma.” Haar en Gary se seuns, Luke en Matthew, is nou 15 en 11. “Ma-wees is heerlik, ’n voorreg, maar ek moet ook ’n kreatiewe uitlaatklep hê, en dis hoe ek begin het met mosaïek. Ek speel dan te lekker.”
As sy enige rol kon kies, wat sou dit wees? Sy bly lank stil. “Seker iets soos As it is in Heaven. Daarna sal ek kan terugsit. Want dit was iets oor gewone mense, nie fancy mense nie. Dit was ’n slice of life wat my altyd sal bybly. Die rolprent was suiwer eenvoud, maar ongelooflik sterk. Dit het diep gesny en soveel gesê.”
En natuurlik is haar onwillige stadsiel geraak deur al die stilte daarin. Veral omdat sy so graag uit die stad wil wegkom. “Die stilte in die fliek het my bygebly. Kyk ’n bietjie rond: mense is ongelooflik bang vir stiltes. Alles moet met dialoog gevul wees. Ek het weer ’n konstante soeke na stilte. Die enigste tyd wanneer ’n mens kan hoor, is immers wanneer jy stil is.”
Haar ouderdom pla haar min. “Ek kan nou rolle vir ouer karakters, soos ma’s, aanvaar. En hoekom sal ouderdom nou ’n kwessie wees? Ek is trots daarop om 47 te kan wees – ek kan die ouderdom vierkant in die oë kyk. Ek is immers gesond, gelukkig en geseënd.”