kategorieë: Bekendes

Gladys Cooper: Geesdrif en talent

Die jaar 1888 was om verskeie redes ’n buitengewone jaar: Jack the Ripper het ’n skrikbewind in Londen gevoer, die eerste Kodak-kamera is vervaardig en bekendes soos Irving Berlin en T.S. Eliot is gebore. Nog ’n besonderse mens wat ook in daardie jaar, op 18 Desember, die eerste lewenslig aanskou het, is die Britse aktrise en model Gladys Constance Cooper. Sy het aan die naam Gladys geen erg gehad nie maar bloot na haarself as G verwys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Min het Gladys kleintyd gedink sy sou op die verhoog beland. Haar pa, Charles Cooper, was ’n joernalis en teaterresensent maar hy het geglo geen respektabele vrou verdien haar geld op die verhoog nie. Haar ma, Mabel, was deeglik bewus van haar dogtertjie se skoonheid en het haar gereeld na W&D Downey se ateljee in Eburystraat, Londen, geneem om afgeneem te word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Gladys het in haar loopbaan op honderde poskaarte verskyn. Sy was ook in die Eerste Wêreldoorlog ’n pin-up-meisie wat op talle plakkate en poskaarte verskyn het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het op skool graag aan skoolkonserte deelgeneem. Een van Gladys se skoolmaats was vasbeslote om haar buiging op die Vaudeville-verhoog te maak. Die dag van hul oudisie het die vriendin kop uitgetrek en Gladys het die rol as instaanspeler vir een van die hoofrolle gekry. Maar om bloot ’n instaanspeler te wees was nie vir haar goed genoeg nie en toe sy hoor van oudisies vir ’n ander rol, is sy daarheen en het die rol gekry.

Sy het haar eerste man, Herbert John Buckmeister, wat ’n paar jaar tevore in die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika geveg het, deur haar verhoogoptredes ontmoet. Buckmeister het ’n reputasie as dobbelaar gehad en Gladys se pa het die verhouding nie goedgekeur nie. Dit het die twee nie afgeskrik nie en hulle het in die geheim verloof geraak en is op Saterdag 12 Desember 1908 getroud. Gladys se pa het eers ’n jaar later weer met haar gepraat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Oor die troue het Gladys in haar biografie gesê: “Ek weet nie waar ek die moed gekry het om dit te doen nie. Ongelukkig het my pa aan die generasie pa’s behoort wat met die eerste oogopslag nie van hul dogters se kêrels hou nie.”

Gladys het aanvanklik hoofsaaklik in musiekblyspele gespeel, al was sy nooit gemaklik daarmee nie. Aan die einde van 1910, met haar eersgebore dogter ’n paar maande oud, het sy haar eerste rol in ’n drama gekry en het sy die resensente met haar toneelspel verras.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreld-oorlog is die stuk waarin sy gespeel het, gekanselleer en het sy lid van ’n musiek-variété groep geword wat na Frankryk getoer het om die soldate te vermaak. Wat sy nie vermeld het nie, was dat sy toe weer swanger was.

Die oorlogsjare was werklik swaar. Sy moes alleen vir hul kinders Joan en John sorg, en ná Buckmeister se terugkeer het hul huwelik boonop verbrokkel. Hul egskeiding is op hul 13de huweliksherdenking voltrek. Gladys het met die kinders en ’n hele klein dieretuin, met onder meer ’n apie, ponie, koeie, skape en ’n slang in ’n huis in Surrey ingetrek. Die apie het akteur Gerald du Maurier eenmaal daar aan die vinger gebyt. Hy het ook “beswaar” gemaak daarteen dat die lelikste diere in Gladys se dieretuin na sy verhoogkarakters vernoem is.

Ná die sukses van haar rolprent The Bohemian Girl is sy in 1922 vir die eerste keer Amerika toe. Hoewel die promotor Gilbert Miller haar per kabel gewaarsku het oor wat sy te wagte kan wees, kon niks haar voorberei op die ontvangs wat sy in New York gekry het nie. Sy het reeds in Engeland met die akteur Ivor Novello saamgewerk en hy was ’n kosbare vriend. Hoewel die koerante die twee graag romanties wou verbind, het Ivor nie in die vroulike geslag belang gestel nie.

Tog het dit sy publisiteitsmense gepas om die storie te versprei dat hy smoorverlief was op Gladys, want die publiek sou in 1925 nie gereed gewees het vir sy verhouding met sy sekretaris nie. Ivor was deel van die flambojante verwelkoming in New York se hawe.

In 1924 het sy die kans gekry om die rol van Peter Pan te speel in J.M. Barrie se toneelstuk oor die seuntjie wat nooit kon grootword nie. Nes sy alles in haar lewe aangepak het, het sy ook besluit om af te wyk van die standaard-uitbeelding van Peter Pan – wat sedert 1904 deur verskeie aktrises vertolk is. Die getroue Peter Pan-bewonderaars het nie ooghare vir Gladys as Peter gehad nie, maar sy het haar nie daaraan gesteur nie.

Gladys se tweede man, sir Neville Pearson, tien jaar jonger as sy, het net voor haar veertigste verjaarsdag op die toneel verskyn. Hulle is in Junie 1928 getroud.

Gladys was in hierdie tyd aan die stuur van sake van The Playhouse-teater naby Charing Cross in Londen. Met haar derde swangerskap het sy vir ’n rukkie uit die kollig getree en die teater het in dié tyd finansieel erg agteruitgegaan. Haar dogtertjie Sally is in 1930 gebore en was vir haar ’n groot vreugde. Gladys het besef sy sal met ’n kragtoer moet terugkom om The Playhouse van ondergang te red.

Haar huwelik met sir Neville het ook gesneuwel. Sy het later erken dat seks al band was wat hulle by mekaar gehou het. Sir Neville het jare lank ’n front voorgehou maar finansieel het dit nie die las vir Gladys ligter gemaak nie.

By The Playhouse het een na die ander mislukte vertoning vir al meer finansiële druk gesorg. Selfs ’n stuk met ’n jong Laurence Olivier daarin het finansieel nie hond haaraf gemaak nie. Die enigste uitweg was om die huur van die teater op te sê en ná sewe jaar het Gladys kop omhoog van The Playhouse weggestap. “Wat is daar om depressief oor te voel?” was haar reaksie.

Ná die mislukking van The Playhouse het sy vir die eerste keer met ’n toneelstuk oor die Atlantiese Oseaan getoer. Eers na Kanada en van daar na Broadway. Hier het sy haar derde man, die akteur Phlilip Merivale, ontmoet.

Vir Philip was dit liefde met die eerste oogopslag, al was hy nog getroud en sy vrou sterwend aan kanker. Gladys is saam met Philip en sy siek vrou op ’n boot terug Engeland toe. Toe Viva Birkett, Philip se vrou, ’n paar weke later sterf, het die twee blitsvinnig bymekaar ingetrek.

Gladys het ware liefde by Philip gevind en hy het die grond aanbid waarop sy geloop het. Hoewel daar baie geskinder is oor die wyse waarop Philip en Gladys bymekaar betrokke geraak het, het ’n ander skandaal die skinderstories oor die twee gou laat oorwaai: Edward VIII, die troonopvolger van Engeland, het sy rug na die monargie gedraai en met die geskeide Wallis Simpson getrou. Op 30 April 1937 het Gladys wel Mev. Merivale geword.

Op ’n wonderlike manier het haar vriendskap met Gerald du Maurier ’n belangrike impak op haar loopbaan gehad. Gladys was ook bevriend met Gerald se dogter, die skrywer Daphne du Maurier, en toe daar ’n rolprent van haar trefferboek Rebecca gemaak word, het sy vir Gladys ’n rol in die fliek beloof. So het Gladys in Kalifornië beland en verlief geraak op die warm seewater, sonskyn en pragtige strande. Hierdie liefdesverhouding sou tot aan die einde van haar lewe duur.

Vir die volgende dertig jaar was Kalifornië haar hooftuiste. Ongelukkig het die ateljeebase in Hollywood nooit aan Gladys die respek betoon wat sy verdien het nie. Hulle het eintlik nie ’n idee van haar ware talent gehad nie.

Nege jaar nadat sy en Philip getroud is, het hy aan ’n harttoestand gesterf. Die einste Philip het eenmaal gesê: “Dis onmoontlik om saam met Gladys te lewe, maar dis net so onmoontlik om sonder haar te lewe.”

In haar sewentigerjare het Engelse regisseurs en vervaardigers Gladys al hoe minder gebruik. Sy was vir te lank weg uit Engeland en die nuwe generasie regisseurs het haar nie goed genoeg geken nie. Nie een van haar laaste drie Londense vertonings het langer as ’n maand oorleef nie en ander aktrises van 71 sou dit dalk as ’n skimp gesien het, maar nie Gladys nie. Sy het in dié tyd aan ’n verslaggewer gesê dat aftrede nie ’n opsie is nie. “I have neither the money nor the inclination for it.” Sy het Noël Coward se siening gedeel om ná ’n fiasko in die teater na Kalifornië weg te seil vir ’n bietjie televisiewerk.

In 1966 het sy haar huis aan die Kaliforniese kus verkoop en na haar huis in Henley langs die Teemsrivier teruggekeer. Al het tagtig gewink, het sy steeds in haar afslaankap Thunderbird deur die strate van Henley gejaag, kleinkinders en honde op die agtersitplek. Oor haar bestuursvermoë is lang debatte gevoer …

Gladys was nooit bitter oor die ouderdom nie en het gesê sy wil nie die verwondering oor die lewe en oor alles wat wag, verloor nie, want dis wat haar dryf. Haar laaste teaterrol was in The Chalk Garden. Sy was byna 83 en siek aan longkanker. Tog het sy geen simpatie verwag nie en die siekte geïgnoreer. Die stuk sou ná die Haymarket-speelvak verder toer, maar in Billingham het sy so siek geword dat sy vervang moes word. Sy het in die tyd ’n brief geskryf waarin sy vertel het hoe sy ná ’n motorongeluk met gekraakte ribbes  gespeel het, hoe sy met ’n gebreekte arm gespeel het, hoe een van haar apies haar gebyt het en sy met die seer hand moes speel. Die resensente het na haar as die “Ystervrou” verwys. “Nou,” skryf sy, “het ek bewys dat selfs yster kan kraak.”

Op 16 November 1971, enkele dae voordat sy 83 sou word, het Gladys Cooper vreedsaam in haar slaap gesterf. Die dag ná haar dood is die teaterligte in Shaftesburylaan gedemp, ’n eerbewys waarmee minder as ses akteurs en aktrises in die vorige eeu vereer is.

Ná haar dood is daar vir haar ’n gedenkdiens gehou wat onder meer deur dame Sybil Thorndike bygewoon is. Ná  die verrigtinge het dame Sybil opgemerk: “What a lovely party, and how very much Gladys would have enjoyed it!

Tog was die 83 jaar wat haar lewe geduur het, eintlik te kort vir iemand soos Gladys wat alles met oorgawe aangepak het. As ’n spesiale eerbewys het honderde bewonderaars op ou poskaarte met die beeldskone jong meisie voorop, hul boodskappe van verlies en vertroosting geskryf en aan haar adres in Henley gepos.

Nes dame Sybil sê: Gladys sou baie daarvan gehou het.

Die Goue Beeldjie

Gladys is drie keer vir ’n Academy Award as beste byspeler benoem, maar sy sou nooit die gesogte Oscar vashou nie. Die eerste benoeming was vir die rolprent Now, Voyager in 1943 en die volgende jaar vir The Song of Bernadette. ’n Wonderlike geleentheid wat in haar later jare na haar kant gekom het, was die rol van Mrs Higgins, professor Higgins se ma, in die fliek My Fair Lady. Die rol het ook aan haar ’n Oscar-benoeming besorg maar weer eens was sy nie die wenner nie. Gladys, getrou aan haar aard, het bloot skouers opgetrek en gesê: “Always the bridesmaid, never the bloody bride.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Maart 2017-uitgawe van rooi rose verskyn.

Bron: Gladys Cooper a biography by Sheridan Morley, Heinemann, Londen.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

16 hours Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

16 hours Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

17 hours Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

20 hours Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

21 hours Gelede

Choux-kerskranse

Lewer sowat 9 kranse   Bestanddele   100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…

21 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.