Het jy al gewigsvooroordeel ervaar?
Alette, 38, onderwyseres vertel haar storie:
“Die gim bel en bied my drie weke se gratis lidmaatskap mét ’n sessie by ’n persoonlike afrigter aan. Lekker! Ek maak dadelik ’n afspraak. So stap ek ’n paar uur later die gim binne in my oorgroot sweetpak en ’n glimlag vol afwagting. Ek is dalk nie maer nie, maar ek kan fikser word.
Ek ontmoet my afrigter. ’n Vleispaleis met ’n steroïedhanddruk. En wat doen hy volgende? Druk ’n vinger in my (redelik sagte) maag en sê: “Nee wat, wie begeer nou sulke drillerigheid!”
My ego tref die blink gimvloer dat die bloedsweet spat. Onfiks, ja. Maar vet én onaantreklik? Nog voor ’n tree op die naaste trapfiets is ek verwoes. Ek het geweet ek is middelmatig fiks, maar ek dag ek is ook net middelmatig oorgewig en oukei op die oog? Ek is darem al 38 – tannie-ouderdom vir die meeste tieners en studente.
Eers is ek gedweë en probeer ek my opperste bes om alle reg te doen – trek die maag in; hou jou rug reguit; sak die skouers …
Maar tuis, toe ek my asem terugkry en die sweetdruppels opdroog, kom sit ’n yskoue woede in my kop.
Die vermetele vent. Ek is ’n suksesvolle graadhoof; my man is gek na my; so hier en daar flirt iemand darem nog met my. So vet en onaantreklik is ek nié.
Maar ek besef kort voor lank: die vetvooroordeel het my – én die gimafrigter – gepootjie. Ons word oorweldig deur ’n dieetindustrie van miljarde rande wat vetvooroordeel om elke hoek en draai versterk.
Ek weet hoeveel dit by die skool tel. Hier en daar is daar ’n sjarmante oorgewig meisie. Maar die meeste word deur die seuns letterlik geweeg en te swaar bevind. Ek sê hoeveel keer in die algemeen in die klas, ‘meisies, julle is mooi soos julle is’ maar ek weet hulle hoor dit nie. Almal dink, ‘as ek tog net 48 kilo’s kan weeg.’
Destyds was 120 pond die droomgewig. Dit is 55 kilos. In die negentigs was 50-53 kilo’s reg. Nou hoor ek die meisies wil 48 kilo’s weeg.
Jy moet jouself byna elke dag herinner daaraan dat dit oor leefstyl gaan; dat fiksheid belangriker is as die skaal.