“Is julle skale stukkend?” Niemand antwoord nie. Ek bly stil. Kom gou agter die balieskale is nie stukkend nie. My tasse word geweeg.
Ek probeer weer: “Hoekom die weeggoed?” Sy kyk my skuinsweg aan. “Ons is besig met ’n gewig-oudit.” Haar gesig strak.
’n Wát? “Ons moet dit so twee keer per jaar doen.”
Nou kyk, ek klim nie op ’n Maandagoggend op ’n skaal nie. Nie in my eie huis nie en beslis nie ten aanskoue van almal in die lughawe se vertreksaal nie. En definitief nie met al my klere aan nie.
“Ek weet wat ek weeg. Gee daai papier.” Ek skryf. Sy kyk darem weg – asof sy nie later sal loer nie. ’n Gewig-oudit, nogal!
“Moes jy inbetaal?” Boeta Jan vra die vraag op Facebook. Gelukkig is hy ver. Ek weet nie of ek verantwoordelikheid vir my dade sou kon aanvaar nie.
So begin my week. ’n Vreemde een. ’n Moeilike een. ’n Uitdagende een. Om elke hoek wag ’n badkamerskaal. Ek word geweeg . . . Te swaar? Te lig?
Maar dis op Black Rock waar ek tot stilstand kom. Waar ek weet ek’s te lig.
Black Rock? ’n Noord-Kaapse myndorp, 80km van alles af. Op Black Rock is jy 80km van Kathu af, 80km van Kuruman af en 80km van die hemel af. Dink ek.
“Op Black Rock doen ons net twee goed baie goed,” sê die twee vriendinne. Gelyk. Onafskeidbaar, dié twee. Hare amper-eenders – kort, blond, ’n streep of twee, drie (dalk vier). Die siel van die gesprek. “Ons kuier. En ons skinder.” Die ander in die opleidingsaal lag luid.
Hulle jok, leer ek later.
Oor twee dae kyk ek dieper in die lewe van Black Rock en sy mense. Hulle werk hard. Niks gebeur maklik nie. Daar’s ’n algemene handelaar, ’n poskantoor, ’n skool, ’n rugbyveld en ’n gemeenskap. Dis al. Alles word deur omgee bymekaar gehou.
Ek verdwaal op pad na die opleidingslokaal, stop skuins na half sewe om hulp te vra by ’n jong man wat in sy eie jaart staan en rook. Hy verduidelik. Ek ry. Toe ek opkyk is hy agter my, op sy motorfiets. “Bly Tannie het die plek gekry.” Ek vergewe hom amper dadelik.
Die volgende oggend gooi ek ’n paar kledingstukke in die gastehuis se wasgoedmandjie. “Waar betaal ek?” Die vrou lag kliphard. “Dis verniet. Jy bly dan hier.”
“Ons gaan koeldrank koop, wil jy hê?”
“Moenie oor die bagasie bekommer nie. Ons bring.”
“Het jy iets nodig? Sê as ons kan help.”
Omgee. Omgee. Omgee. Nog omgee.
Gisteroggend is my kar se battery morsdood. “Ek bel gou iemand op die myn,” sê die vreemdeling. Vyf minute toe stop twee manne. Twee minute later vat ek die pad. “Bel as jy sukkel.”
Julle jok. Op Black Rock doen julle één ding baie goed, dink ek later. Julle gee om. Ja, julle kuier. Julle skinder. Maar die omgee? Dit weeg baie swaarder.
Op Kimberley se lughawe wonder ek of die gewig-oudit nou verby is. Want Boeta Jan, vanaand weet ek: weeg my en ek word te lig bevind. ’n Kilo of vier se omgee kort.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za