Genoeg vir 6.
Bestanddele
Jy hoef nie die filo te weef nie, jy kan net velle in blokkies sny, met botter smeer en bak soos verduidelik. Jy kan ook jou eie balsemiekstroop maak deur balsemiekasyn af te kook.
- 8 velle filodeeg as jy dit weef, 4 as jy net blokkies sny
- 60 g botter, gesmelt
- 250 g (12) gedroogde vye, middeldeur gesny
- 500 ml (2 k) warm, sterk filterkoffie of kitskoffie
- 1 x 200 g-houertjie mascarponekaas
- saadjies van 1 vanieljepeul
- Black Gold-balsemiekstroop (verkrygbaar by uitgesoekte Spar-winkels)
Metode
Voorverhit die oond tot 180 ºC. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
- Verf ’n vel filodeeg deeglik met botter, sit nog een bo-op en verf ook met botter. Sny die dubbellaag in vier dele en sny van die
geskeurde stukkies af. - Sny elke blokkie in 5 ewe groot repe, ±2 cm breed. Vleg die repies deeg om ’n geweefde voorkoms te kry. Maak seker die deegrepe raak aan mekaar, anders sal dit uitmekaarval. Jy het 12 deeglagies nodig.
- Sit op die bakplaat en bak vir 5-7 min. tot goudbruin (hou goed dop, dit brand maklik).
- Gooi intussen die warm koffie oor die vye en laat vir minstens 30 min. staan.
- Meng die mascarponekaas en vanieljesaadjies.
- Begin elke stapeltjie met ’n geweefde filovel, gevolg deur ’n groot skep mascarponekaas. Haal die vye uit die koffie en sit op die mascarponekaas. Eindig met ’n lagie filo. Giet Black Gold-balsemiekstroop oor.