Gestoofde dadelpoeding deur Vickie de Beer
Genoeg vir 6.
Bestanddele
Sous:
- 375 ml (1 ½ k) suiker
- 625 ml (2 ½ k) kookwater
Poeding:
- 125 ml (½ k) warm melk
- 5 ml (1 t) koeksoda
- 280 g (2 k) koekmeelblom
- 115 g (½ k) sagte botter
- 25 ml (1½ e) goue stroop
- 7,5 ml (1½ t) gemaalde gemmer
- 125 ml (½ k) dadels in stukkies gesny
- ’n knypie sout
Metode
- Verhit die suiker en water saam in ’n groot, diep kastrol met ’n deksel. Roer die stroop deurentyd tot die suiker opgelos is en dit begin borrel. Laat die stroop vir ±10 min. prut.
- Giet intussen die warm melk in ’n groot mengbak en los die koeksoda daarin op. Voeg die koekmeelblom, botter, goue stroop, gemaalde gemmer, dadels en sout by en meng goed.
- Skep lepels vol beslag in die warm stroop tot al die beslag opgebruik is.
- Sit die deksel op en kook die poeding vir ±1 uur, maar hou die deksel vir die eerste halfuur op en toets dan met ’n toetspen om te sien hoe gaar dit is. Indien die stroop min word, kan jy nog water byvoeg.