Die meeste van ons probeer régtig hard. Dis ons hartewens om goeie verhoudingsmaats, ouers, kinders, vriende, kollegas en groepslede te wees. Ons doen moeite om ons kant te bring, selfs al benadeel ons onsself. Voldoen ons nie aan die eise nie, worstel ons met gevoelens van ontoereikendheid.
Die vraag is of vroue in die algemeen verantwoordeliker voel vir gesinslede, familie, vriende, kennisse, werknemers, straatmense, diere (voltooi maar self die lysie). Ons ken almal die onuitgesproke reël dat ’n vrou aanspreeklik is vir die atmosfeer en die emosionele welsyn van almal in die huis. Dikwels is sy ook die een wat sorg dat die mae vol is en die klere skoon, dat gesinslede hul afsprake en verpligtinge nakom, en ingryp voor ’n kamer as rampgebied kwalifiseer. Uiteraard sien talle mans ook na ander om maar die geslagte hanteer hierdie verantwoordelikheid verskillend. Onlangse navorsingsbevindings wys dat vroue eiesoortig op stres reageer. Mans toon merendeels die bekende veg- of vlugreaksie.
Vroue reageer weer deur te tend and befriend – deur byvoorbeeld hul kinders te versorg en te beskerm (tend) en na ander vroue uit te reik (befriend). Onderliggend aan dié optrede lê die afskeiding van die hormoon oksitosien wat deur vroue se hoër estrogeenvlakke versterk en deur mans se hoër androgeenvlakke verminder word. Asof dit nie genoeg is dat vroue biologies gerat is om die mensdom op die hart te dra nie, stel die samelewing ook hoë eise aan ons. Eers wanneer ons dié eise onder die vergrootglas sit, begin die begrip “selfsugtigheid” duideliker word. Om selfsugtig te wees, beteken immers jy voldoen nie aan die voorgeskrewe sosiale vereistes nie.
Wie bepaal my waarde?
Ons besef selde hoeveel die ideaalbeeld van vrouwees wat op verskillende maniere aan ons voorgehou word, ons beïnvloed. Onbewustelik is dit waarna ons streef. Wie van ons begeer nie soms om jonger, maerder, mooier of meer in tel te wees nie? In Women & Desire: Beyond wanting to be wanted gee die bekende Jungiaanse analis Polly Young-Eisendrath (Piatkus, 2000) ’n interessante blik op die kragte wat ons vorm. Die eise waarmee vroue in ons patriargale kultuur grootword, strek veel verder as ’n lys aanbevole eienskappe. Die knoop lê in die wyse waarop ons ons eiewaarde vind. “Women want to be wanted, not to be loved” is haar kernargument. Die meeste vroue wil begeer of bewonder word, eerder as om geken te word nés hulle is, met die geite en tekortkominge wat hulle vrees hulle onaanvaarbaar kan maak. Ons wil aan die ideaal voldoen omdat ons glo dit sal tot die vervulling van ons behoeftes lei. Ons wil in ’n positiewe lig gesien word – as die perfekte ma, die ideale vriendin, die verleidelike bedmaat, die bekwame baas. Ons fokus op ons rolle en raak daarin verstrik. Die dilemma is dat ons só die mag in ander se hande plaas. Indien ons voorkoms, gesindheid, manier van praat en optrede aan sekere eise voldoen, word ons beloon. Indien nie, ly ons skade. Ons eiewaarde is afhanklik van ánder se oordeel en goedkeuring. ’n Goeie voorbeeld van ’n onrealistiese ideaal is ons hedendaagse siening van moederskap. Ons vereer ma’s wat nooit nee sê, moeg word of terugstaan nie, wat ander deurgaans voorop stel, wat álles gee. Min mense besef dat dit histories ongewoon is vir ’n vrou om alleen met een of meer kinders by die huis te wees. Deur die eeue heen was daar altyd lede van die uitgebreide familie of ander bekendes byderhand.
Die sogenaamde hothouse motherhood waar ’n tuisblyma se fokus volledig op haar kinders val, kan ’n eensame en selfs oorweldigende ervaring wees. Dit spreek vanself dat die veranwoordelikheid vir haar kinders se welsyn swaarder op só ’n ma se skouers rus as op dié van haar voormoeders wat die aanspreeklikheid kon deel. Dagboekinskrywings van vroeër wys ook dat ma’s dikwels nie so ’n hegte band met hul kinders gevorm het nie omdat talle kinders jonk dood is. Boonop het die Viktoriaanse tyd ’n sprokiesvoorstelling van moederskap geskep, skryf Young-Eisendrath. Pragportrette uit daardie tyd van serene moeders is misleidend. Die welgestelde vroue wat só vasgelê is, het soogvroue en kinderoppassers gehad wat na hul kinders kon help omsien. Hulle het dikwels slegs ’n paar uur per dag met blinkskoon kinders deurgebring. Ons kan nie aan die invloed van ideaalbeelde van vrouwees ontkom nie, maar ons kan onsself daaraan herinner dat hulle ideaalbeelde is. Ek kan my afvra hoe ék die lewe sien, waaraan ék behoefte het, en wat vir my’ belangrik is. Om my aan my eie weldeurdagte keuses en waardes pleks van ’n onbereikbare ideaal te meet, is realisties en maak my nie “sleg” of “selfsugtig” nie.
My behoeftes teenoor joune
Selfsug word dikwels gedefinieer as die geneigdheid om slegs na jou eie belange om te sien. Hoe skep ons die balans tussen ons behoeftes en dié van ander? Waar lê die goue middeweg? “Die geheim is om behoeftes in ’n verhoudingskonteks te sien,” sê Marita de Wet, voorligtingsielkundige van Boksburg. “My behoeftes staan altyd in verhouding tot joune. Aan die een kant wil ek vir jou lief wees en na jou omsien maar aan die ander kant het ek ’n verantwoordelikheid teenoor myself. Daar is spanning tussen die twee stelle behoeftes, en dis gesond. “Dit kos dinkwerk om met hierdie spanning saam te leef. Elke situasie moet van nuuts af benader word; dit verg bewustheid, en iets van ’n innerlike worsteling. Dis wanneer ons nié die spesifieke situasie en albei partye se behoeftes in ag neem nie, dat probleme ontstaan. “Sommige verhoudings funksioneer volgens patrone.
Daar word outomaties aan een se belange voorkeur gegee. As ’n vrou byvoorbeeld haar man altyd eerste stel, is die balans in die verhouding versteur. “Dikwels beteken dit daar is nie meer ware emosionele kontak tussen die twee mense nie. Dalk het die verhouding tot caretaking verskraal. Sy sien om na die kos, hy versorg die swembad. Dit gaan hoofsaaklik om rolvervulling. Die verhouding het stagneer. “Dis nie selfsugtig om jou belange én die ander een s’n in ag te neem nie. Inteendeel: onderhandeling in elke nuwe situasie verseker dat daar altyd lewe in die verhouding is.”
Ma’s en kinders
Ma’s van babas en klein kinders kan natuurlik nie oor behoeftes onderhandel nie. “Niks berei jou voor op die praktiese eise van ’n klein wesentjie wat nie kan wag nie. Niemand waarsku jou vooraf dat jy soms kan voel jy háát die klein wetter nie. Moederskap is ’n tyd van geweldige opoffering op verskillende vlakke. Vroue offer hul liggaam, lewe, loopbaan en selfs verhoudings op. Skop hulle daarteen, kan hulle dalk selfsugtig voel. “Natuurlik is dié opoffering nie sonder rede nie. Maar dis wys om dit bewustelik te maak. Sien jy dit as ’n geleentheid vir groei, en herinner jy jouself daaraan dat dit nie vir altyd gaan duur nie, word dit hanteerbaarder.” Wat kan ma’s doen om te verseker dat kinders ander se behoeftes in ag neem as hulle ouer word? “Dit gaan weer eens oor die verhoudingskonteks, of wat die Engelse relationality noem. Baba’s verstaan daar niks van nie maar as ’n kind om en by drie jaar oud is, kan daar onderhandeling wees: Klein Rudolph roep sy ma uit die kamer om na iets te kom kyk en sy antwoord dat sy die witsous roer en nie dadelik kan kom nie. Sy vra dat hy die interessantheid kombuis toe bring. Hy sê hy kan nie, want dis te groot. Sy antwoord dat sy later sal kom kyk. “As sy outomaties aan sy eise toegee, is daar groot fout. Daar moet dialoog wees. Kinders moet leer om te wag en frustrasietoleransie aan te kweek, andersins maak jy narcistiese mense groot.”
Wanneer die lewe ingryp
“Ons staar ons soms so blind teen eise en reëls dat ons van die natuurlike orde eie aan die lewe vergeet,” sê Marita. “In antieke tye het die Grieke geglo dat die godin Themis hierdie orde verteenwoordig. Vandag ken ons haar as die figuur van die geblinddoekte vrou met ’n swaard en ’n weegskaal wat onder meer by howe te sien is. Sy herinner dié wat regspraak lewer aan die eeue oue beginsel van ‘dit wat reg is’. “As ek ’n ete-afspraak met ’n vriendin het en ’n migraine-aanval kry, wat sou die ’natuurlike orde’ wees? Neem ek kennis van my liggaam se pleidooi om rus en stilte, of ignoreer ek dit omdat ek bang is my vriendin dink ek is selfsugtig as ek kanselleer? “Die Grieke het geglo sodra die natuurlike orde versteur word, gryp Themis se suster, Nemesis, in.
Nemesis is die godin van vergelding maar sy neem nie soseer wraak nie as dat sy mense daaraan herinner dat ondeurdagte optrede gevolge het. “In my praktyk sien ek dikwels hoe mense – meestal vroue – wat die natuurlike balans tussen gesonde selfsug en selfopoffering versteur, met depressie of toestande soos prikkelbare dermsindroom, nekpyn, rugpyn en outo-immuunsiektes sukkel. Dis hul liggame se desperate poging om te sê: ‘Ek is ook hier – kyk asseblief na my!’ “Wanneer hulle nie na hierdie aanmanings luister nie, kry hulle soms drome oor diefstal. Daar word by hulle ingebreek, maar die dief maak hulle nie seer nie. Dis ’n kompenserende beeld: hulle kan simbolies by die dief leer. Hy weet wat hy nodig het en oorkom struikelblokke om dit in die hande te kry. Hierdie drome spruit voort uit hul innerlike dryfkrag om te oorleef. Dis sielkundiges se taak om mense tot stilstand te dwing sodat hulle van hierdie tekens bewus kan word en ’n lewe kan leef waarin hul eie welsyn óók tel.”