Deur Margaret Gardiner
Ek weet nie van jou nie, maar ek het nooit geleer hoe om trein te ry nie. Toe ons klein was, het my pa ons orals heen gery. Ek het die bus gebruik om skool toe te gaan. Toe ek op 16-jarige ouderdom na Parys toe gegaan het, het ek geleer om die trein en in New York, die sneltrein te gebruik. ’n Trein was iets wat ek geen kennis van gedra het en nooit nodig gehad het nie. Was ’n vliegtuig nie vinniger nie?
In Europa kan jy – omdat alles so na aanmekaar is – binne twee uur in ’n totale ander land met ’n ander kultuur en taal wees. Almal gebruik die trein.
Tydens ’n onlangse reis het ek besluit dis tyd dat ek treinry. Een ysige oggend het ek myself op ’n groot passasierstrein bevind wat tjoef-tjaf deur Europa gegaan het. Die bestemming? Nederland. Amsterdam met ’n bevolking van ongeveer 885 000 ontvang so te sê 20 miljoen besoekers per jaar. Ek wou een van hulle wees.
Ek het ’n oud-kollega ontmoet toe ek daar aankom en ons het na die besoekersentrum gegaan. Deesdae word mense by besoekersentrums deur pamflette vervang. Ek wonder waar gaan mense werk vind? Die werk wat mense gewoond is om te doen, word deur masjiene vervang wat van standaard antwoorde tot tipiese vrae gee. As jy soos ek is – altyd besig om tyd tot die beste te benut en die buitengewone roetes te verken – jammer vir jou.
Gelukkig het Amsterdam klomp kanale en prentjiemooi geboue, teen mekaar ingedruk en in pastelkleure wat jou sal laat swymel as jy net in daardie rigting kyk. Dis ’n eiesoortige voorkoms en jy weet jy is nie meer by jou huis nie.
My oor soek vir woorde wat deel van Afrikaans is. Jy tel hier en daar iets op, maar dis anders en jy is volksvreemd, al lyk dit of jy behoort.
Die liggaamsbou en gesigstrukture wil-wil herinner aan ons vroeë verkenners.
Op die boot wat aan jou ’n uitstekende oorsig van jou stad gee, hoor jy hoe die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie Amerika ontdek het. Die kompanjie se komplekse verbintenis met Suid-Afrika word glad nie genoem nie. As gevolg van Suid-Afrika se geskiedenis, is baie van Nederland se geskiedenis wel bekend. Name soos die Huis van Oranje en natuurlik die Franse Hugenote word genoem sonder enige verwysing na Suid-Afrika.
Nadat ons deur die stad gestap en ’n ongelooflike goeie middagete op die oewer van een van die kanale geniet het, het my vriendin voorgestel dat ons na die beruge rooiligdistrik gaan. As jy my vorige vertellinge van my ervaring in Brussel gelees het, dan sal jy verstaan waarom ek nie juis opgewonde oor die vooruitsig was nie.
Maar in amper elke rolprent en storie waarvan ek van Amsterdam gehoor het, was die dekadensie en vryheid van Amsterdam se rooiligdistrik op die voorgrond. Ek gebruik nie dwelms nie en die idee van toegang tot dagga, wat wettig in Kalifornië is, is nie iets wat my interesseer nie. Ek het ook gehoor prostitusie is wettig en ek het gewonder hoe dit lyk. Plus, ek was nog nooit in Amsterdam nie en ek het nie geweet wanneer ek weer terug sou kom nie. Deel daarvan om te reis is om aan nuwe dinge blootgestel te word. Ons het dit gewaag om voort te gaan.
Soos ons na die distrik beweeg het, was dit veral groot groepe jong mans se lewendige en opgewonde luim wat ons opgeval het. Hul gesigte was breed van afwagting en daar was ’n gestoeiery, uitbundige gelag en ’n fisieke heen-en-weer-gespeel – ’n gestampery, rugklappe en die interaksie wat tipies van jong seuns is. Dis die gedrag wat ons by hierdie twintigjariges gesien het.
Ek het skielik onthou dat die Nederlandse raad ’n digitale veldtog van stapel gestuur wat Britse mans tussen die ouderdom van 18 en 35 daarvan afraai om Amsterdam as bestemming te sien. Reisagente in die VK is blykbaar al vir lank voorstanders van “herrienaweke” wat ’n bootrit insluit soos wat ek my besoek mee afgeskop het, maar met onbeperkte alkohol ingesluit. Hulle kry ook biefstukke en besoeke aan ontkleedansklubs wat oral in die rooiligdistrik is. Dis nie verbasend dat die resultaat ’n gebraak in die kanale, urinering in die strate en gevegte wat tot arrestasie lei, is nie. Geen hiervan was tydens my besoek duidelik nie.
In die middel van die middag onder die helder blou lug met ’n wind wat deur die bondels lae dring wat ons aanhet om die ysige temperature mee af te weer, en die son wat skyn, maar nie warmte bied nie was die rooiligdistrik maar ’n hartseer plek.
Miskien word die onguurheid in die donkerte van die nag weggesteek. Dalk as ek bietjie geld neergesit het om na die vertonings te kyk waarna die mans op die sypaadjies my nader geroep het, sou ek iets meer geleer het of selfs vermaak gewees het. Die befaamde vensters van vroue wat lok, se hortjies was toe, behalwe vir een wat ek te skaam was om na te kyk.
’n Jong vrou in haar vroeë twintigs, oorgewig met ’n uitlandse voorkoms, het in ’n winkelvenster rond gedraai terwyl mense om dit drom en foto’s neem, en mans aan die binnekant rondwoel.
Dit het soos my herinneringe aan Kersfees in Adderlystraat in Kaapstad gevoel waartydens my familie vir die jaarlikse inkopies voor Kersfees sou gaan. Jy het jou neus teen die venster se ruit gedruk terwyl jy gedroom het van al die dinge wat Kersvader vir jou sal bring.
Hier is ’n vrou vertoon wat gehoop het om gekoop te word.
Die stories oor sekshandel het deur my gedagtes geskiet soos ek ’n paar treë terug geneem het. Mans en vroue was in ’n lewendige bui en het foto’s geneem en baie gelag. Ek kon nie die vrou in die oë kyk nie.
Daar is heelwat om in Amsterdam te sien en te doen. Museums, geskiedenis, blomme, kos, katedrale. Prentjiemooi uitsigte, windpompe en windplase.
Soos ek in die oorvol trein sit om terug na my bestemming te gaan, het ek in my kop ’n debat gevoer oor die rol van mag tussen die geslagte en vroue wat in vandag se tyd vir wins slawe gemaak word. Ek het geen antwoorde op die reg en die verkeerd van die wettiging en bemagtiging van vroue wat hul liggame op enige manier wat hulle goeddink vir wins gebruik nie. Ek het gewonder hoeveel vroue was onafhanklike kontrakteurs en hoeveel was pionne wat in ’n web vasgevang is waar winste nooit in hul eie sakke beland nie.
Hierdie was ’n sneltrein! ’n Paar baie gawe Nederlanders het die verskillende treinreisopsies aan my verduidelik. Dit is seker klaarblyklik, maar dit het my nooit by my opgekom dat ’n mens treinreis soos reis met ’n vliegtuig kan aanpak nie. In gebroke Engels terwyl ek nou en dan ’n Afrikaanse woord ingooi, is dit aan my oorgedra dat selfs al is daar ’n vroeër trein, stop dit by elke stasie en ek sal later aankom as wat ek vir die latere trein gewag het, wat vinnig verby al die onsmaaklike stoppe gaan en my ongeskonde by my bestemming aflaai.
Dalk was dit die koue. Of die vlugvoosheid. Of die agterkant van ’n wêreld wat die meeste van ons nooit sien nie – vol in my gesig sodat ek dit nie kan ignoreer nie. Ek het vuil en oud en moeg van die weë van die wêreld gevoel. Die groener velde het verby geswiep terwyl ek van ’n warm stort en die knus hawe van my kamer by die Plaza Hotel gedink het. Uitgerus en verfris sou ek in nog ’n ander wêreld uitstap wat nuwe ervarings sou bied wat die een wat ek pas gehad het sou vervang. Ek sou dadelik skoonheid en kultuur uitsoek om saam met my mee te dra.
Maar toe ek eers weer terug by die huis is, het die herinnering aan rooiligdistrikte net so dikwels teruggekeer as wat die Europese prag geskep deur gevalle families van vroeër tye het. Die wat het en die wat nie het nie. Die pantsering wat keuse en geleenthede bied – en die mikrokosmos van persoonlike groei, die opwinding daarvan om ’n vaardigheid uiteindelik te bemeester. Blydskap. Ek weet nou hoe om treine te navigeer wat net weer bewys jy is nooit te oud om iets te leer nie.
Volg Margaret op Facebook, Twitter en Instagram!