Geroosterde lourier-en-knoffel-hoender
Ingredients
- 2 heel hoenders (sowat 1,6-1,8 kg elk)
- 2 bossies lourierblare (kyk by supermarkte se vars kruie-afdelings, of plant ’n boom!)
- 1 heel knoffelbol, in huisies gebreek (ongeskil)
- Maldon-sout (dis duur ja, maar die heel beste vir bros gebraaide hoender)
- 60 ml olyfolie
- ’n groot hand vol pekeluitjies, geskil
- 250 ml room
- 45 ml Dijon-mosterd
Instructions
1 Was die hoenders en druk met kombuispapier droog. Geur die binnekant met Maldon-sout. Sit ’n paar knoffelhuisies en ’n bossie lourierblaar in elke hoender.
2 Sit in ’n oondpan en geur oral met Maldon-sout. Vryf die olyfolie oor die hoenders. Voeg die pekeluitjies by.
3 Bak die hoenders vir 1 uur 20 min. by 200 °C. Draai die pan een keer om. (Toets gaarheid deur die boudjie van die dytjie weg te trek - die vleis moet wit wees en die sappe helder.)
4 Haal die hoenders uit, lig uit die pan, bedek met foelie en laat vir 10 min. rus. Sit die oondpan met die pansouse op ’n warm stoofplaat.
5 Druk die uie met ’n vurk plat. Laat die sous ’n bietjie afkook en voeg die room en mosterd by. Kook oor matige hitte verder af tot die sous verdik. Sit saam met die geroosterde hoender voor.
Maak so
6 Trek al die oorskietvleis van die karkasse af en hou in ’n digsluitende bak in die yskas. Jy kan ook 200 g-porsies in sakkies verseël en vir later se gebruik vries.
7 Maak ’n geurige aftreksel met die karkasse. Die aftreksel is nie helder nie - meer soos ’n Engelse broth.
8 Kook ook ekstra rys vir die Sondagmiddagete.