Geroosterde lam-en-somergroente-gebak met kruisementpesto
Ingredients
- 400 g baba-aartappels, gehalveer
- 150 g botterskorsieblokke
- 30 ml (2 e) olyfolie
- sout en gemaalde swartpeper
- 30 ml (2 e) botter
- 600 g lamsvleis sonder been (boudvleis) in 2 cm-blokke gesny
- 4 murgpampoentjies, in die lengte en breedte middeldeur gesny
- 4 groot tamaties, in kwarte gesny
- 6 knoffelhuisies, gesny
- 285 g (1 houer) artisjokharte in olie, gedreineer en in kwarte gesny – hou 30 ml (2 e) van die olie eenkant
- 125 ml (½ k) droë witwyn
- sout en gemaalde swartpeper
- Kruisementpesto
- 30 ml (2 e) gevlokte amandels, gerooster
- 20 g (1 pak) kruisementblare
- 20 g (1 pak) Italiaanse pietersielie
- 5 ml (1 t) Dijonmosterd
- sap van ½ suurlemoen
- 60 ml (¼ k) olyfolie
Instructions
Voorverhit die oond tot 190 °C.
1 Pak die aartappels en botterskorsie in ’n oondpan en gooi die olyfolie oor. Geur na smaak. Rooster vir 20 min.
2 Verbruin die lamsvleis in ’n baie warm pan vir 1 min. aan elke kant. Geur met sout en peper. Hou eenkant.
3 Voeg die murgpampoen, tamatie, knoffel en artisjokke met olie by die aartappels en botterskorsie in die oondpan. Geur met sout en swartpeper. Rooster vir nog 20 min.
4 Maak intussen die pesto: verwerk al die bestanddele vir die pesto tot glad in ’n voedselverwerker of met ’n stokmenger. Hou eenkant.
5 Voeg die wyn en lam by die groente in die oondpan en rooster nog 10-15 min.
6 Sit die geroosterde lam en groente saam met die kruisementpesto voor.
Die lam en groente is die volgende dag heerlik in ’n pita. Maak die jogurtsous hieronder en hou dit in die yskas vir tot ’n week. Meng dit deur die lamsvleis en groente voor jy dit in die pitas sit. Hou die sous byderhand om oorskiethoender of vis vir slaaie en toebroodjies ’n bietjie sappiger te maak.
Jogurtsous
Meng 125 ml (½ k) Griekse jogurt, 30 ml (2 e) mayonnaise, 125 ml (½ k) suurroom, 10 ml (2 t) korrelmosterd en ’n hand vol Italiaanse pietersielie.