Deur Vickie de Beer. Foto’s deur Lee Schwagele en Charles Russel van CRPhotographic
Kruiebotter
• 150 g botter, in blokkies gesny
• 2 t (10 ml) fyngekapte knoffel
• ’n hand vol vars tiemie, blare afgestroop
• ’n hand vol pietersielie
• 3-4 vars roosmaryntakkies, blare afgestroop
• gerasperde skil en sap van een suurlemoen
Hoender
• 1 groot heel plaashoender van 2-3 kg
• 1 lemoen, in kwarte gesny
• 1 appel, in blokkies opgesny
• ’n hand vol vars tiemieblare
• 150 g van die kruiebotter
• sout en gemaalde swart-peper
• 8 appels, in 2-3 cm-ringe gesny
• 10-15 heel baba-uitjies, afgeskil
- Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
- Verwerk al die bestanddele vir die kruiebotter in ’n voedselverwerk tot glad. Hou eenkant.
- Vee die hoender met kombuispapier uit. Geur die holte met sout en druk die lemoene, appelblokkies en tiemie daarin. Bind die bene met kombuistou vas.
- Vryf die kruiebotter oral oor die hoender. Geur met sout en gemaalde swartpeper.
- Bak die hoender vir 45 min. in ’n groot oondpan.
- Sit die appelringe en uitjies by en rooster vir nog 30 min. of tot die appels en uitjies sag is en die sappe van die dikste deel van die hoenderboudjie helder uitloop wanneer dit geprik word.