Dié vrugte is heerlik saam met beleë kaas. Jy kan appels ook gebruik, of net pere inlê. Ons het dit met poori’s (resep onder) voorgesit.
4 pere, in kwarte gesny
2 groot kwepers, geskil en in agtstes gesny
250 g (sowat 12) gedroogde vye, middeldeur gesny
1 liter (4 k) witwynasyn
500 ml (2 k) suiker
3 kaneelstokkies
10 ml (2 t) peperkorrels
2 naeltjies
12 jenewerbessies
4 x 5 cm-stukke suurlemoenskil, gebruik ’n groenteskiller
Genoeg vir 16 poori's
Die broodjies, wat in olie gebraai word, pof op en is krakerig as hulle uit die olie kom, maar word later sag. Eet hulle liefs warm.
Resep uit Curry Leaves and Cumin Seeds, deur Jeeti Gandhi
330 ml (1 ¹⁄³ k) volgraanmeel
330 ml (1 ¹⁄³ k) koekmeel
’n knypie sout
10 ml (2 t) komynsaad
10 ml (2 t) swart mosterdsaad
15 ml (1 e) olie
180 ml (¾ k) koue water
olie vir diepbraai
Instructions
1 Verhit die asyn, suiker, kaneel, peperkorrels, naeltjies, jenewerbessies en suurlemoenskil in ’n groot kastrol. Laat prut vir 10 min. Roer af en toe tot die suiker opgelos is. 2 Voeg die kwepers by en kook vir 10 min. Voeg die pere by en kook vir nog 20 min. Voeg laastens die vye by en kook vir 10 min. 3 Gooi in warm, gesteriliseerde glasbottels en seël. Dit kan vir tot 3 maande in die yskas gehou word.
Poori's
1 Meng die volgraanmeel, koekmeel, sout, komyn, mosterdsaad en olie in ’n groot mengbak en vryf die olie by die meel in. 2 Voeg die water geleidelik by. Knie die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak tot styf en glad. Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 min. in die yskas rus. 3 Verdeel die deeg in 16 dele en rol in balletjies. Bedek met ’n klam kombuisdoek sodat dit nie uitdroog nie. Verhit solank die olie in ’n groot kastrol. 4 Druk die deeg effens plat en rol die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit – sowat 7 cm in deursnee. 5 Braai die poori’s een-een in lekker warm olie. Draai die deeg om sodra dit opgepof is en braai dan tot goudbruin. Haal uit en dreineer op kombuispapier.