Drie redes waarom ons letterlik tot stilstand moet kom en te fokus wanneer ons iets eet:
1 Wanneer jy stadiger eet, eet jy minder. Dit neem ongeveer 20 minute vandat jy die eerste happie neem tot jou brein die sein uitstuur dat jy versadig is. Jy kies dus die regte hoeveelheid kos vir jou behoeftes. Kleiner happies, om jou mes en vurk tussen happies neer te sit, en ‘n lekker geselsgenoot aan die ander kant van die tafel, verlaag jou eetsnelheid.
2 Tydsaam eet help die verteringsproses aan. Vertering is ‘n kettingreaksie. Sodra jy kos sien, ruik, of net daaraan dink, word speeksel in jou mond vrygestel. Speeksel bevat ensieme wat voedsel afbreek en jou help om makliker te sluk. Intussen begin jou maag meer suur vrystel en die dunderm maak gereed vir peristalse. Ensovoorts! ‘n Ooglopend goeie wenk is om jou kos baie fyn te kou. ‘n Ander een is om aan ‘n suurlemoenskyfie te dink voor jy wegval; dit prikkel onmiddellik jou speekselkliere.
3 As jy bewustelik eet, voed jy liggaam én siel. Neem ‘n oomblik om na jou kos te kyk, die kleure raak te sien, en daaraan te ruik (as daar nie omstanders is wat sal wonder wat op aarde jy nou aanvang nie.) Voel opreg dankbaar vir die grond waaruit die groente kom, die son wat die vrugte laat ryp word het, en so meer – bewustelike dankbaarheid is waarskynlik die kern van ‘n seëngebed voor ete. Geniet elke happie se smaak, tekstuur en uniekheid.
Jy kan jou eie maniere vind om jou omgang met kos meer te geniet. Dalk kan jy oor die vooruitsig van ‘n heilsame maaltyd begin dagdroom. Of met die sappige stukkie vleis in die pan praat terwyl jy dit braai!